by HNP | Apr 5, 2022 | Uncategorized | 0 comments

Op die voorblad van hierdie uitgawe stel my oorlede ouboet en voormalige hoofsekretaris die feite oor die prestasies van die HNP oor die laaste meer as ’n halfeeu.

Dit mag dalk na weinig klink, maar as daar geen HNP was toe John Vorster van dr. Verwoerd se beleid afgewyk het nie, het die land al vinniger ’n swart meerderheidsregering gehad, soos wat Pik Botha dit destyds al voorspel het.

Die HNP het in die bres getree vir die ou SuidwesAfrika, en was die remskoen daar. Die HNP het in die bres getree vir Ian Smith van Rhodesië, toe John Vorster die Staatspresident se Wit Trein gekaap het vir ’n onsinnige Brugberaad.

Die opkoms van die HNP in die vroeë tagtigs, het die NP-regering genoop om stadiger met sy verraad planne voort te gaan.

Waarom sê ons dit nou weer?

Ons volk kan nie sonder die gewete, visie en beginsels van die HNP wees nie. Mnr. Jaap Marais het altyd gesê dat om reg te wees, is om ’n mag te wees. Dit maak van die HNP in wese ’n magtige organisasie. Daarom moet hy bly voortbestaan.

Die tye is moeilik, en die ekonomie is ellendig. Rentekoerse is onlangs verhoog, brandstofpryse gaan weer die hoogte in skiet in die nuwe maand. Tog hef die HNP steeds geen ledegeld nie, en bydraes is vrywillig. Daar is geen gewaande “Hertzog-miljoene” wat die HNP aan die gang hou nie. Ons kan net hoop dat ons ook vir die toekoms kan reken op lesers van Die Afrikaner en lede van die HNP om ons boodskap van Afrikanernasionalisme, en verset teen hierdie bestel, te kan voortsit.

Immers, welke regdenkende wil deel wees van ‘’n falende staat’, waar selfs die uitvoervrugte vrot raak in die hawe, omdat kader-ontplooiing verhoed dat Vanaf die bekwame mense die hyskrane kan herstel en bewerk. Watter regdenkende kan tevrede wees met die paaie se totale verval, terwyl sommige provinsies die geld wat hulle vir herstel uit die staatskas ontvang het, terugbetaal omdat dit nie gebruik is nie.

Die kommuniste wat die ANC-bestuur oorheers, verhinder dat die ANC Rusland se inval in Oekraïne veroordeel. Ons sê nie Rusland is reg of verkeerd nie, dit wys net hoe ruggraatloos die bewind is, en dit wys die Westerse wêreld hoe korrup en onbetroubaar die ANC-regering werklik is. Wil ons deel wees van so ’n bestel?

Nuwe werkloosheidsyfer wys dat nog meer mense werkloos is. Maar Ramaphosa spog by die skou in die Midde-Ooste oor Suid-Afrika se bekwame mense wat kan werk as hulle besigheid hierheen bring. Hy spog ook oor beloftes van miljarde wat hier belê sal word. Dan kom ons agter die meeste van die beloftes kom van vorige jare se beloftes. En inmiddels gee die Ouditeur-Generaal die een verdoemende verslag na die ander van korrupsie, diefstal en onbekwaamheid.

Dit is nie die Suid-Afrika wat ons geken het nie, en waar ons ouers en grootouers gewerk het onder onkreukbare leiers soos genl. Hertzog, dr. Malan, adv. Strijdom en dr. Verwoerd – dié manne wie se beleid die HNP steeds uitdra, want dit was ’n werkbare beleid.

Daarom moet die HNP bly voortbestaan, en het ons elkeen se ondersteuning nodig, betreffende
morele ondersteuning, ondersteuning om ons strukture op te bou, en finansiële ondersteuning.