Grondroof bly steeds ’n daad van oorlog

 Artikel uit Die Afrikaner van 26 Februarie 2021.

 Met die finalisering van Die Afrikaner was daar slegs enkele dae oor vir individue en instansies om kommentaar te lewer oor die voorgestelde Onteieningswet, wat diefstal van grond en ander bates wettig maak sonder dat die wettige eienaar selfs op vergoeding kan aanspraak maak.

Reeds in 2017 het die HNP die verklaring van die Boere-Afrikanervolksraad in dié verband ondersteun.

Mnr. Andries Breytenbach, leier van die HNP, sê daar het in die byna drie jaar niks verander nie en die HNP is steeds van mening dat hierdie beoogde grondroof as ‘n daad van oorlog beskou word, en daarom staan die HNP steeds by die verklaring van destyds:

“Wanneer ‘n staat of volk ‘n ander volk se grondgebied vir homself toe-eien, lei dit noodwendig tot gewapende konflik. Sedert die vroegste tye was dit die aanvaarde reg van volkere om hul gebiedsintegriteit teen sulke vergrype te verdedig, soos Brittanje byvoorbeeld in 1982 gedoen het toe Argentinië die Falkland-eilande beset het.

“Eweneens is daar baie voorbeelde in die geskiedenis van derde partye wat ingetree het om die territoriale integriteit van kleiner volke te beskerm teen state en regerings wat hul meerdere mag misbruik het om ander te beroof. ‘n Onlangse voorbeeld is die VSA-geleide Golf-oorlog van 1990-1991 teen Irak toe laasgenoemde Kuweit geannekseer het.  

“Die Boere-Afrikanervolk het die grondgebied wat hy besit, regmatig verkry. Die feite hieroor is al verskeie kere nagevors in die goed gedokumenteerde geskiedenis van landbesetting en grondbesit in Suid-Afrika, en kan maklik nagegaan word.  

“Desnieteenstaande het die ANC herhaaldelik beweer dat die grond wat ons besit, van die swartmense gesteel is . (In hierdie verband is ‘n klag van haatspraak op 21 Januarie 2016 teen die president van Suid-Afrika by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gelê, nadat hy dit in die openbaar gesê het. Die president is uitgedaag om sy bewering te bewys en te verklaar waarom hy die opgetekende geskiedenis van landbesetting ignoreer of verwerp. Die Kommissie het egter die klag in die sand laatverloop en seker gemaak dat daar tot op hede niks van gekom het nie).  

“Die ANC se reaksie op die uitdaging om sy ongegronde leuen te bewys, was onder andere ‘n verklaring op 13 Februarie 2017 deur die Adjunkminister van Staatsdiens en Administrasie, me. Ayanda Dlodlo, dat :

“The ANC should use its majority in the government to push for the expropriation of land without compensation, because it was ‘stolen in the first place’”.  

“The burden of land ownership should never be ours. Those who today claim ownership must prove that land was actually paid for in the 17th and 18th centuries,” het sy gesê.  

“Dié denkbeeld is deur historikus prof. Jabulani Maphalala herhaal toe hy gesê het dat “blacks had been dispossessed of their land since as farback as the arrival of whites in the country.” 

“Die benadering is blykbaar dat as ’n leuen net lank en dikwels genoeg herhaal word, word dit ‘n aanvaarde “feit” wat nie bewys hoef te word nie. 

“Ons verklaar:

  1. Die Boere-Afrikanervolk het niemand se land gesteel nie. Die grondgebied wat ons besit, is regmatig en op internasionaal aanvaarde maniere bekom en deur God as erfdeel aan ons toebedeel om te verdedig en te bewaar. Ons mag en sal dit nie prysgee en toelaat dat ons tot besitlose bywoners in Suid-Afrika gedegradeer word nie.
  1. Misdaad kan nie gelegitimeer word deur wette in die parlement te aanvaar om dit te “wettig” nie. Daarom sal enige wet van die Parlement wat onteiening van ons land of enige ander eiendom sonder kompensasie, of selfs met kompensasie vir doeleindes anders as dit wat noodsaaklik is vir die skepping van fisiese infrastruktuur, geag word “wettiging” van diefstal van ons eiendom te wees. Ons sal dit nie as legitieme wetgewing erken nie, en in die lig van die voorgenoemde uitsprake van regeringswoordvoerders en die politieke onwil van die regering om sterk op te tree ten einde plaasaanvalle hok te slaan (wat op sigself ‘n vyandige versuim is wat vergelding sou regverdig), sal ons dit as ‘n daad van vyandigheid teen die blanke bevolking ag.
  1. Ontneming, onteiening en besetting van ons land kragtens sodanige wet sal beskou word as formele dade van oorlog teen die Boere-Afrikanervolk, waarop ons op ‘n tydstip van ons keuse sal terugslaan met internasionaal aanvaarde middele en metodes ten einde ons eiendomsreg te verdedig en te herstel.