Bespreking van die HNP se Program van Beginsels – 3

 

 

Fritz van Graan

In die vorige uitgawe van Die Afrikaner is Artikel 1.1 van die Program van Beginsels van die HNP bespreek. Ons bespreek vandag die volgende artikel. Artikel 1.2 lui: As politieke volksfront van die  Afrikanerdom wil die Party die Afrikaner wat dwarsdeur sy geskiedenis met groot opoffering en volharding alles in die werk gestel het om ‘n eie vaderland te verkry en te behou en om ‘n eie regeringsvorm op te bou om hom daardeur te vrywaar van wette en gewoontes van ander volke wat in stryd met sy gewete en nasionale gevoel is, voorgaan en aanspoor om die volgende grondslag en beginsels te handhaaf en daarvolgens op te tree.

In krisistye het die Afrikaner nog altyd daarna gestrewe om eendragtig op te tree en saam te werk om ’n gevaar af te weer. Die gedagte aan ‘n volksfront, of eenheidsaksie, is dan ook telkens in die
geskiedenis nagevolg. Op politieke terrein is die ideaal gestel om die Afrikanervolk saam te snoer. Die samewerking tussen die HNP onder die leierskap van dr. DF Malan en die Afrikanerparty onder Klasie Havenga om die Verenigde Party in 1948 te verslaan, is ‘n goeie voorbeeld van so ’n suksesvolle politieke strategie. In die skepping van ‘n volksfront word die klem geplaas op gemeenskaplike beginsels en punte van ooreenstemming. Die Nasionale Party onder
dr. Malan, adv. Strijdom en dr. Verwoerd het nie die politieke party as die eerste uitgangspunt geneem nie, maar die behoeftes en belange van die Afrikanerdom. Die party moes in diens van die volk
staan. 

Gedurende die tagtigerjare het die HNP telkens gepoog om samewerking te verkry tussen regse groepe. Daar was byvoorbeeld in die 1981-verkiesing samewerking tussen die HNP en die NKP van dr. Connie Mulder. ’n Sterk setel soos Soutpansberg en ander kiesafdelings is nie deur die HNP betwis nie, maar is aan die NKP oorgelaat. Die HNP het die meerderheid kiesafdelings in Transvaal en die Vrystaat wel betwis met baie goeie resultate. Een uit elke drie stemme in hierdie streke was ten gunste van die HNP, al is geen kiesafdeling gewen nie. Dit het die NP laat steier, sodat hulle planne moes maak om die regse front te stuit.

Die gevolg was die stigting van die KP, aangesien dit duidelik was dat die land al meer na regs sou beweeg. Na die stigting van die KP het die HNP menigmale probeer om samewerking te bewerkstellig, maar dit het telkens in die sand geloop deur die optrede van elemente wat nie aan die HNP erkenning wou verleen nie, en ook nie die duidelike
beginsels van die HNP wou aanvaar nie. Dit behoort vandag nog die oorheersende begeerte van die Afrikanervolk te wees om saam te
staan op beginsels, al is daar verskillende groepe wat kan verskil t.o.v. minder belangrike sake. Die HNP se praktiese uitgangspunt te midde van verskillende organisasies is dat samewerking nie noodwendig eenwording impliseer nie. Die grondslag vir samewerking en die vorming van ’n volksfront is gegrond op Afrikaners se begeerte om hulself te regeer vanuit ‘n Christelik-nasionale lewensbeskouing, sodat God Drie-Enig as oppergesag in die grondwet erken word en Godswaardes as die uitgangspunt vir alle wette en regulasies sal geld. Die doel is dat geregtigheid in
die land geskied volgens Bybelse voorskrifte. Dit is daarom die begeerte van die volk om ‘n eie vaderland en eie regeringsvorm daar te stel, los van ander volke wat ander beskouings huldig en wat bots met ons volk se fundamentele Westerse waardes.

Die HNP wil ‘n party wees wat uiteindelik as die politieke volksfront vir die Afrikanerdom erken sal word.’n Volksfront waarin die beginsels van die volk voorop gestel word, en nie eie belang of finansiële gewin nie. Dit beteken dat die ware Christelik- 
nasionale beginsels die grondslag vir saambinding van die volk sal vorm, onder leiers wat dit onomwonde en onbeskroomd uitleef.
Die HNP besef dat dit ’n hoë ideaal is in die moeilike tye waarin ons lewe; maar dié suiwer ideaal gee aan almal rigting en skep ’n grondslag vir suksesvolle strategie. Dit is ’n ideaal wat teenoor pragmatisme en opportunisme staan, waar laasgenoemde die volk telkens verdeel en verwar.

 UIt Die Afrikaner van 26 Maart 2021.