Die Afrikaner-Akkoord van 1994:

Enkele opmerkings

 

ʼn Onderwerp wat na meer as ʼn kwarteeu nog telkens opgehaal word, is die Akkoord oor Afrikaner Selfbeskikking — ʼn ooreenkoms wat in 1994 tussen die Vryheidsfront, die ANC en die SA‑regering/Nasionale Party gesluit is. Dit is op 23 April 1994 deur die genoemde partye onderteken. Die besonderhede oor die totstandkoming daarvan is nogal omstrede omdat persone wat daarop aanspraak maak dat hulle ten nouste daarby betrokke was, se weergawes van die gebeure nie ooreenstem nie.

   Die Akkoord was nie ʼn resultaat van die Kodesa-onderhandelinge en besluite nie, maar van afsonderlike onderhandelinge waarvan genl. Constand Viljoen die hooffiguur aan Afrikanerkant was. Hy het opgetree namens ʼn deel van die Afrikanerdom wat hulle vir ʼn “volkstaat” beywer het. Die Akkoord  was bedoel om vir die Afrikaner te probeer red wat hopelik nog te redde was nadat ons volk se vryheid en politieke mag by Kodesa weggeteken is. Genl. Viljoen het dit voorgehou as ʼn “strategiese alternatief” vir militêre weerstand, nadat hy besluit het om nie ʼn militêre weerstandsaksie van die volk teen die oorgawe aan die ANC te lei nie. Hierdie alternatief het ingesluit dat die Afrikaners namens wie hy opgetree het, aan die een man een stem-verkiesing van 27 April 1994 sou deelneem. Noodwendig sou hulle dan by die uitslag van die verkiesing moes berus, en daarna kragtens die Akkoord met die nuwe regering vir ʼn “volkstaat” onderhandel.

   Die Akkoord het voortgespruit uit samesprekings tussen afvaardigings van die ANC, die AVF, die SA Regering en uiteindelik die Vryheidsfront. Die ooreenkoms is gesluit met inagneming van

  • Die (tussentydse) grondwet van die RSA, wat in 1993 aanvaar is (wet 200 van 1993 soos gewysig);
  • die ongetekende Memorandum van Ooreenkoms tussen die ANC en die Afrikaner Volksfront (AVF) van 21 Desember 1993; en
  • Grondwetlike beginsel XXXIV, wat oor selfbeskikking handel.

Die belangrikste waaroor ooreengekom is, was

  • Om deur ʼn proses van onderhandelings die idee (idea) van Afrikaner-selfbeskikking, insluitend die konsep (concept) van ʼn Volkstaat, te “address”. Volgens Mbeki het “address” beteken dat die saak ondersoek en opgelos moes word. Selfbeskikking het nie die moontlikheid van plaaslike en/of streeks- en ander vorms van selfbeskikking uitgesluit nie. Die selfbeskikking moes deur ʼn proses van onderhandeling bereik word.
  • Voorts moes daar substansiële bewese steun wees vir die idee van selfbeskikking insluitend die konsep van ʼn Volkstaat. Die beginsels van demokrasie, nierassigheid en fundamentele regte moes gehandhaaf word, en vrede en nasionale versoening moes bevorder word.
  • Steun vir selfbeskikking sou gedemonstreer word deur die aantal stemme wat partye wat ʼn Volkstaat nagestreef het, in die komende verkiesing sou trek.
  • Die ooreenkoms bepaal ook dat die Volkstaatraad se taak sou wees om ondersoek te doen na en aan die Grondwetlike vergadering en die Kommissie oor die Provinsiale Regering verslag te doen oor maatreëls wat beslag kon gee aan Afrikaner-selfbeskikking.

Konstitusionele beginsel XXXIV lui min of meer soos art 235 van die huidige grondwet.

   Die ongetekende Memorandum van 21 Desember 1993 was die resultaat van ʼn aantal vergaderings tussen die ANC en die AVF wat oor ʼn tydperk plaasgevind het om sake te bespreek wat voortgespruit het uit die politieke oorgang wat op hande was. Dit is ʼn langer dokument as die Akkoord en bind beide partye tot ʼn vreedsame oorgang na die nuwe politieke bedeling. Afrikaners se strewe na selfbeskikking in ʼn Volkstaat word erken en bepalings met betrekking tot die bereiking daarvan, word neergelê. Die dokument het nogal bepaal dat dié ideaal spoedig hanteer moes word, sonder om die oorgangsproses te vertraag. Daar word egter seker gemaak dat die neutrale, onnasionale soort maatskappy wat deur die huidige grondwet in Suid-Afrika gevestig is, ook in enige sodanige “Volkstaat” sou geld. So byvoorbeeld, is bepaal dat beide partye hulle tot ontwikkeling van ʼn nierassige, inklusiewe demokrasie verbind; en dat enige politieke voorstelle “which would embody racism and failed apartheid policies”, verwerp word.

   In ʼn soort definisie van selfbeskikking word voorts bepaal dat selfbeskikking op geen wyse verstaan word om “those fatal ideologies of the twentieth century that was based on chauvinistic excessive escalation of identities or even ethnocentrism which bred discrimination, racism and prejudices which on their part brought war, misery and death to many” te ondersteun nie. Klem word ook gelê op die beginsel van basiese menseregte vir almal.

   Verder moes selfbeskikking “serve the purpose of building the state and not cause the dislocation of the state.”

   Verskillende vorms van selfbeskikking word in die Memorandum erken, insluitend ʼn tenrritoriale entiteit wat oor verskeie grade van outonomie kan beskik.

   Op die oog af het die Akkoord en sy ondersteunende dokumente dus ʼn basis geskep waarkragtens ʼn “Volkstaat” beding sou kon word. Of dit interne of eksterne selfbeskikking sou wees, word nêrens duidelik gestel nie. Regsgeleerdes verskil ook oor die graad van territoriale outonomie waarop, kragtens artikel 235 van die huidige grondwet, aanspraak gemaak sou kon word. Dit sal in ʼn hof besleg moet word.

   ʼn Belangrike bepaling van die tussentydse grondwet van 1993 was dat indien ʼn volkstaatgebied kragtens daardie grondwet gevestig sou word vóór aanvaarding van die teks van die nuwe (finale) grondwet, so ʼn gebied met sy strukture, magte en funksies in die nuwe grondwet ingesluit sou word.

   Omdat die voorstanders van die volkstaat nie daarin kon slaag om tot ʼn vergelyk te kom oor die grense van so ʼn gebied nie, is die geleentheid om dit in die finale grondwet in te skryf, verspeel. Dit het die ANC natuurlik soos ʼn handskoen gepas, want hulle het nooit ernstig bedoel om daaraan uitvoering te gee nie. Dit sou teen hulle beleid van een verenigde Suid-Afrika indruis. ʼn Gesoute joernalis, Patti Waldmeir, skryf in hierdie verband: 

   “Nie baie mense is bewus van die samesprekinge wat Mandela met genl. Constand Viljoen gehad het nie. ‘Mandela gave the talks with Viljoen high priority and carefully chose a team of moderate Africans (not the lndian and white communists whom the Afrikaners distrusted) to run them…Thabo Mbeki was also part of the team… Mbeki’s strategy was to keep the Afrikaners talking. That way they would remain under the seductive influence of himself and Mandela; they would be kept away from their war councils; and they would be exposed to a barrage of reasonable questions which might in the end make them doubt the viability of their own volkstaat demands… Mbeki did not tell Viljoen he thought his ideas were crazy; he just kept asking him questions he could not answer… The ANC never had any intention of giving Viljoen his homeland ― but they managed to make him think they were seriously considering it… But it was a stroke of genius on the part of the ANC… it would help to keep Viljoen on a string for as long as this was needed: while the election was won and the state power acquired. Thereafter, it would allow the ANC to slide away from the agreement if it so chose’….”

(Anatomy of a miracle: The end of apartheid and the birth of the new South Africa, pp. 238-239). 

 Indien dit hoegenaamd moontlik was om die onderhawige ooreenkoms(te) af te dwing, moes dit gedoen gewees het toe die Volkstaatraad summier afgeskaf is sonder dat hulle finale verslag voor die parlement gedien het. Om dit nou, ná ʼn kwarteeu in die Afrikaner-vyandige konstitusionele hof te probeer doen, is wensdenkery.

 

Andries Breytenbach

6 November 2020