Hierdie bose bedeling moet vernietig word
Deur Andries Breytenbach
Die oorgawe van die Witman se politieke mag aan die swart bevolking van Suid-Afrika in 1994 was ʼn triomf vir die vyande van die Afrikanervolk. Wat Somerset, Shepstone en Milner met die volle mag van die Britse ryk nie kon regkry nie, het De Klerk en sy bende verraaiers met ʼn pennestreep gedoen: ons volk is aan ʼn vreemde mag onderwerp en in De Klerk se dikwels herhaalde woorde, moes die onderwerping “onomkeerbaar” wees. In weerwil van meer as twee eeue se getuienis van die ontstaan en groei van ons volk téén al die magte en faktore in wat dit wou verhoed, het dié vrot prokureur van Vereeniging met selftoegeëiende goddelike gesag tot die arrogante gevolgtrekking gekom dat die Afrikaner “nooit die voorreg van ʼn eie vaderland sal hê nie”.[1] Die onomkeerbaarheid van De Klerk se brousel is vasgeskryf in die nuwe Grondwet van 1996, wat voortaan die “hoogste reg van die Republiek” sou wees (art. 2).
Hierdie “hoogste reg” bepaal onder meer dat die Republiek van Suid-Afrika een, soewereine, demokratiese staat is (art. 1), wat “behoort aan almal wat daarin woon” (Aanhef). Die grondwet verklaar almal gelyk (art. 9). Daar is ’n “gemeenskaplike Suid-Afrikaanse burgerskap” (art. 3 (1)); en alle volwassenes het algemene stemreg op ’n nasionale gemeenskaplike kieserslys (art. 1(d)). Enige regsvoorskrif of optrede wat onbestaanbaar is met die grondwet, is ongeldig (art 2). Die burgers van die RSA is dus in die oë van die grondwet ʼn versameling eenderse individue — geen onderskeid word getref tussen rasse, volke en kulture nie. Dít is die heersende politieke bedeling of demokrasie waarna in hierdie artikel verwys word.
Die beginsels van dié bedeling is tydens die Kodesa-onderhandelinge geformuleer, daarna in ʼn tussentydse grondwet in wetgewing vasgelê en met die verkiesing van 27 April 1994 prakties in werking gestel. Om in die oë van die wêreld aan die nuwe demokrasie geloofwaardigheid en legitimiteit te verleen, was deelname aan die verkiesing deur alle dele van die bevolking, maar veral deelname deur ʼn meerderheid Afrikaners, absoluut noodsaaklik. (Die Afrikaner het in daardie stadium sowat 66% van die blanke bevolking van die Republiek getel).
Die opposisie teen die nuwe bedeling was hoofsaaklik Afrikaners. Hulle was in daardie stadium dermate eensgesind in hul teenkanting teen die NP-regering se magsoorgawe, dat hulle deelname aan die verkiesing ʼn sleutelfaktor was wat teen elke prys verseker moes word. Tot omtrent twee maande voor die verkiesing was hulle in beduidende getalle verenig onder die vaandel van die Afrikanervolksfront (AVF), wat teen deelname aan die verkiesing gekant was en waarvan genl. Constand Viljoen die leier was. Die AVF het aan Afrikaners die belofte van ʼn eie “volkstaat” voorgehou. Dit was die laaste strooihalm waarna Blankes gegryp het nadat die soewereiniteit van ons volk by die Kodesa-onderhandelinge weggeteken was. In ʼn set om die lede van die AVF na die stembus te lei, het Viljoen minder as twee maande voor die verkiesing ʼn politieke party, die Vryheidsfront (VF), geregistreer en ʼn kandidatelys aan die Verkiesingskommissie voorgelê.
In ʼn geskrewe ooreenkoms (hierna die akkoord) tussen die ANC, die NP en die VF het die partye ooreengekom om “die idee van Afrikaner selfbeskikking, insluitend die konsep van ʼn volkstaat”, deur ʼn proses van onderhandelinge te hanteer (Eng: to address). Tot enkele dae voor 27 April het die ANC versuim om die akkoord te onderteken. Genl. Viljoen het ten einde raad die VSA-ambassadeur gebel en gedreig om die VF aan die verkiesing te onttrek tensy die ANC sonder versuim die akkoord onderteken. In so ʼn geval sou nie net lede van die VF nie, maar ook baie ander Blankes wat in vertwyfeling was, nie na die stembus gaan nie. (Die HNP het uit beginsel nie aan daardie verkiesing deelgeneem nie).
Al die konkelaars het besef dat hulle nuwe staatkundige brousel deur dié dreigement in die weegskaal gewerp is, want só ʼn boikot van die verkiesing sou enige skyn van legitimiteit en aanvaarding van die nuwe “demokrasie” soos ʼn seepbel laat bars. Onder druk van die VSA-ambassadeur het die ANC-verteenwoordigers toe spoedig hul opwagting gemaak en geteken. Die belangrike gevolg was dat Blankes in genoegsame getalle aan die verkiesing deelgeneem en daarmee die totstandkoming van die nuwe politieke bedeling gered het. Van die onderhandelinge oor Afrikaner selfbeskikking het dadels gekom.
Dit het gou duidelik geword dat die verlies van ons politieke mag absoluut was. Sedertdien spook Afrikaners nou reeds vir 26 jaar met die vraag: hoe kry ons ons vryheid terug? In die parlement is Afrikaners ʼn onbeduidende minderheid. Buite-parlementêr stig ons organisasies, bewegings en groepe, skep ons volkseie instellings soos die BCVO, Akademia, Soltech en ander; vestig ons kultuurdorpe soos Kleinfontein en Orania; hou ons berade en vergaderings; en hoor ons gereeld oproepe om “saam te staan” en “te verootmoedig”.
Waarskynlik die sinvolste aksie was die skepping van ʼn Boere-Afrikanervolksraad deur middel van ʼn volkseie verkiesing, welke liggaam die uitoefening van ons volk se reg op selfbeskikking kragtens internasionale konvensies en regspraak moes probeer afdwing. Nadat dié proses nie die gewenste resultaat opgelewer het nie, het ander persone en instansies na vore gekom wat meen dat hulle méér sukses as die Volksraad deur middel van die regsroete kan behaal. Helaas is ons volk nog nie ʼn tree nader aan selfbeskikking as na die 1994-verkiesing nie.
Die kern van ons probleem is die bedeling waarin ons volk en die ander volke van Suid-Afrika gevange gehou word. Om uit die gevangenskap los te kom, moet dié bedeling tot niet gemaak word; dit wil sê die huidige Suid-Afrikaanse grondwet moet opgeskeur word en volke wat begeer om hulleself te regeer, moet as soewereine state onder grondwette van hul keuse tot stand kom. Om dit nog duideliker te stel: die “een, soewereine, demokratiese staat” moet opgebreek word in twee of meer soewereine state. Só was dit voor 1902 en weer in die tydperk 1976 – 1994 toe die TBVC-state van Suid-Afrika afgestig is.
Die sleutelvraag is natuurlik: hoe vernietig ons hierdie bedeling? Die antwoord is: elke volk wat vryheid/selfbeskikking begeer, moet hom aan die bestaande bedeling onttrek. Nou, na 26 jaar van sigbare mislukking en mislukte regering, is dit die aangewese tyd om ons daaraan te onttrek en ʼn geloofwaardige alternatief in vorm van ʼn werklik verteenwoordigende funksionerende gesagsliggaam vir die Afrikaner in die plek daarvan te stel wat na ons volk se belange en behoeftes omsien.
Die Afrikaner is, ten spyte van ons klein getalle, steeds ʼn toonaangewende en onontbeerlike mag in Suid-Afrika, maar nie binne die teenswoordige parlementêre bestel nie, want dáár word slegs koppe getel, ongeag hoe leeg, onbeskaaf en barbaars dit ook mag wees. Kwaliteit, kundigheid, vooruitstrewendheid en eienskappe wat eie is aan elke volk word nie in ag geneem nie; dit dra daar nie gewig nie.
Daarenteen weet ons almal hoe die werklike lewe buite die politieke strukture lyk: maatskappye voldoen aan SEB en BEE slegs omdat die wet dit vereis, maar in menige geval is dit steeds die Witman se kundigheid en vermoë wat die besigheid aan die gang hou. Waar dit ontbreek, sien ons die resultate in die SAL’s en ander bankrot instansies. Daarom is die Boere-/Afrikanervolk die enigste deel van die bevolking wat die leiding met so ʼn stap kan neem en dit tot sukses kan voer. Inderwaarheid het ons dit reeds begin doen met die skepping van verskeie volkseie instellings. Afrikaners se deelname aan die bose bestel hou egter die onding aan die gang en solank as wat ons help om dit aan die gang te hou, is ons self medepligtig aan ons politieke onderhorigheid.
Sou die Afrikaner hom aan die bestel onttrek, dit wil sê nie meer aan die staat se verkiesings deelneem nie en in die plek daarvan ʼn eie regerende en werklik verteenwoordigende volksraad daarstel en dit suksesvol bedryf, sal ander bevolkingsgroepe wat ook uit die vangnet van die teenswoordige bedeling wil ontsnap, dié voorbeeld navolg.
Intussen kan die huidige Boere-Afrikanervolksraad die werk doen wat ʼn Volksraad behoort te doen, naamlik om in oorleg met enersgesinde leiers sekere wetgewing vir die Afrikanervolk in ‘n toekomstige bestel te skep. Die eerste waaraan ons aandag moet gee, is ʼn grondwet wat uitdrukking gee aan ons volk se waardes, tradisies en strewe; en wetgewing vir die daarstelling van ʼn nuwe volksraad. Die VVK, wat die eerste Volksraadsverkiesing gereël het, het baanbrekerswerk verrig. Ons moet daarop voortbou.
[1] Jaap Marais, Afrikanernasionalisme en die Nuwe Suid-Afrika, p. 6.