HNP se opponente se retoriese vraag:

Wat het die HNP in 50 jaar bereik?

 

Die vraag oor wat het die HNP dan nou in die 51 jaar van sy bestaan bereik, word steeds krities en aanvalled aan die HNP gevra. Veral in politieke debatte op die sosiale media word dié vraag deurlopend na die kant van die HNP geslinger, eerder as om die HNP se standpunte te debatteer of hulle eie optrede te verantwoord.

Gawie weet daar sal nou weer kritiek op hierdie rubriek wees met ‘n opmerking soos: wat help dit om oor die verlede te spog? Wat het die HNP reggekry om die huidige toestand te verhoed?

Daarom is dit dit nodig om ‘n slag dié argumente opnuut op die tafel op te plaas. Dit is al dikwels geskryf, maar ter wille van die debat wat die afgelope tyd op die Facebook was, moet dit maar weer herhaal word.

Die Herstigte Nasionale Party (HNP) is die Nasionale Party (NP) wat in 1969 herstig is, net soos die HNP van 1934 die Herenigde Nasionale Party van die Nasionale Party van 1914 was. Dit is die verlengstuk van die NP van genl Hertzog, dr DF Malan, adv JG Strijdom en dr HF Verwoerd met oorwegend daardie beleidstandpunte en beginsels.

Toe mnr John Vorster die beleid van Afrikanernasionalisme verander het, het die HNP buite die NP dié beleid van Afrikanerskap voortgesit. Die HNP is dus niks anders as die beproefde Nasionale Party soos wat Afrikaners die ou NP geken en waardeer het nie. Die goue draad van Afrikanerskap in Suid-Afrika loop dus deur die NP van genl Hertzog, dr Malan, adv Strijdom, dr Verwoerd, dr Albert Hertzog, mnr Jaap Marais, en die HNP-leiers wat hom opgevolg het. Vandag is die HNP onder leiding van mnr Andries Breytenbach steeds op daardie beginsels geanker: Afrikanerskap, Witmanskap, Christenskap en Volkskap.

Wat het die HNP gedoen?

Die HNP het vanaf sy stigting die NP se beleid van oorgawe beveg ― verkiesing na verkiesing. Baie gou het die HNP die amptelike opposisie, die Verenigde Party (die VP), as opposisie onttroon. In 1981 was daar ‘n duidelike swaai na die HNP. Die HNP het daarin geslaag om die blanke kiesers te oortuig van die NP se oorgawe-politiek. Die geleentheid was daar om die toestand wat sou lei tot die Blankes se ondergang, te stuit.

As gevolg van die HNP se groei, is die KP gestig. Die regse stem is verdeel en die NP kon vootgaan met sy oorgawe-politiek.

Wat het die HNP gedoen?

Die HNP het die een plan na die ander na die tafel gebring om die NP te stuit. Telkens is voorstelle gemaak om die NP na die stembus te dwing en hom te verslaan. Die slagspreuk was: Stuit die NP, of Stuit De Klerk! Selfs in aanloop na die onwettige verkiesing in 1994 het die HNP en die KP besef dat om weg te bly van die stembus, die grootste politieke impak sou hê om die NP/ANC se planne te ontwrig.

Genl Constand Viljoen het saamgestem, maar ter elfder uur die Vryheidsfront gestig en aan die verkiesing deelgeneem. Die HNP en die KP het buite gebly en by die Blankes van Suid-Afrika gestaan.

Na die oorgawe het die KP en die NP ontbind. Die HNP het bly voortbestaan en dra steeds die boodskap van vryheid vir die Afrikanervolk.

Wat het die HNP gedoen? Die HNP het by die waarheid gestaan. Die HNP het op Afrikanerbeginsels bly staan. Die taak van die HNP was om die NP te verslaan, maar daarvoor het die HNP die steun van die kiesers nodig gehad.

Die vraag is nie wat het die HNP gedoen nie. Die vraag moet wees: wat het die NP, die KP en die VF gedoen? Wat het die HNP se politieke opponente gedoen?

Die Nasionale Party het die pad van Afrikanerskap verlaat. Deur toegewings het hy die een politieke beginsel na die ander afgebreek. Die NP het met die vyand onderhandel en by die onderhandelingstafels is toegewing na toegewing gemaak. Die groot geld-kapitaal het hulle invloed gebruik en die NP-leiers was te swak om nee te sê.

Uiteindelik het mnr FW de Klerk totaal oorgegee aan die kommunistiese ANC. Die NP het geswig voor ‘n terroristebende. Wat het die NP in 25 jaar gedoen? Die NP het die Witman se politieke mag weggegee en saam daarmee die Afrikanervolk se vaderland aan die vyand oorhandig ― sonder dat ‘n enkele skoot geskiet is.

Wat het die KP gedoen? Die KP het in 1981 besef waarheen die HNP oppad was. Toe verdeel die KP die regse stem en daarmee kon die NP op sy pad van oorgawe voortgaan. Samewerking en eendragtige optrede het nie gerealiseer nie, tot spyt en nadeel van die Afrikaner. Omdat sy beginselbasis nie sterk was nie, het die KP ook verdwyn.

Wat het die Vryheidsfront van genl Viljoen gedoen? Hy het sy vennote aan die regterkant (om nie aan die 1994-verkiesing deel te neem nie) in die steek gelaat en in  die veelrassige bestel ingegaag. Die gevolg? Daar is wettigheid aan De Klerk se een mens een stem-verkiesing gegee. Met Viljoen se deelname is die verkiesing gelegitimeer.

Wat het ander opponente van die HNP gedoen? Het hulle dié toestand kon verhoed? Die VP: verander in die NRP en toe verdwyn; dr Louis Luyt: verdwyn; Die DP van dr Theo Gerdener: verdwyn; Die Progressiewe Party (PP): verander in die PFP en opgegaan in DA. Die HNP het bly staan ― getrou aan sy volk.

Wie moet ons verwyt omdat die politieke mag aan die ANC oorhandig is? Die aanklag moet wees: Kyk wat het die NP gedoen! 

Wat doen elke nuwe organisasie wat gestig word omdat daar nie eenheid in die volk is nie? Let wel: nog ‘n nuwe organisasie om eenheid te kry, nie aansluiting en deelname by ‘n bestaande party of organisasie om dié te versterk nie. Dié meestal eenman organisasies maak WhatsApp-video’s en reël optogte en kritiseer alles en almal in die politiek ― maar plaas nie ‘n werkbare plan of ideaal op die tafel nie. Daar word nie gevra wat het die Wie ook al gedoen nie?

In 1970, 1974, 1977, 1981, 1987 en 1989 het die kiesers vir die NP gestem en teen die HNP gestem. In die twee referendums van 1983 en 1992 het die kiesers ja gestem en nie nee gestem soos die HNP, die KP en die AWB by hulle gepleit het nie.

Die rede vir die toestand waarin ons volk vandag is, gaan nie oor wat die HNP gedoen of nie gedoen het nie. Die HNP het die regte dinge gedoen. Die HNP het die korrekte insig gehad. Die HNP het gewaarsku. Die HNP het by die kiesers gepleit. Die HNP het afvaardigings na FW de Klerk gestuur en met hom gepraat oor die pad wat hy gekies het. Die HNP het alles moontlik gedoen. Die blanke kiesers wou nie na die HNP luister nie. Hulle wou die HNP nie glo nie. Hulle wou nie glo wat hulle gesien het nie. Hulle het die leuen geglo en “nasionaal” gestem.

Dit is maklik om te vra wat het die HNP gedoen? Die vraag moet ook wees: wat het die blanke kiesers gedoen? Wat doen die blanke kiesers steeds? Hoe is dit moontlik dat die kiesers vir FW de Klerk gestem het en nie vir Jaap Marais nie?

Die HNP het in die politiek gekies vir verantwoordelikheid, pligsbesef, getrouheid en offervaardigheid. Dit het die HNP in oorvloed gehad. Sy opponente het gekies vir rykdom, eer en aansien.

Wat doen die HNP vandag? Die HNP veg vir die Afrikanervolk se vryheid. Die HNP dra steeds die ark van Afrikanernasionalisme.

Die HNP gee vir 51 jaar ‘n gesaghebbende politieke blad, Die Afrikaner, uit. Vir ‘n halwe dekade dra dié blad steeds die boodskap van Afrikanerskap. Verskeie boeke, brosjures en pamflette staan op die boekrak waarin dié beleid en beginsels neergepen is.

Wat doen die HNP nou? Die HNP vra nie vir selfbeskikking binne die bestel nie. Nie vir sekere regte binne die menseregtegrondwet van die ANC nie.

Die HNP sê dat eendragtige optrede slegs op beginsels kan geskied. Wanneer Afrikanerorganisasies en –bewegings kan ooreenkom op die basis van volkwees en op daardie basis versamel, sal daar aksie ontwikkel om ons volksvryheid te herstel. Die HNP sê uit sy 50-jaar ondervinding daardie basis is Afrikanernasionalisme. Dit is die goue draad van hierdie Boervolk se bestaan. Daarop kan ons saamstaan, kan ons sterk staan en kan ons oorwin.

Daardie beginselbasis haal ons as volk uit die ANC-bestel met sy anti-Christelike grondwet. Daarom pleit die HNP dat ons as volk buite die bestel moet versamel. Daar kan ons staan: edel, trots en sterk. Daar het ons die woesteny oorwin. Daar kan ons ons vryheid weer herstel in ons vaderland, Blank Suid-Afrika!