Politieke keuses in Suid-Afrika

 

Na 26 jaar van politieke heerskappy deur ‘n volksvreemde en vyandige owerheid, is dit opvallend dat al meer Blankes tot die besef kom dat die sogenaamde demokrasie en reënboognasie nooit kon en nooit kan werk nie.

   Nadat die Nasionale Party van dr DF Malan in 1948 die regeermag by die stembus gewen het met die beleid van afsonderlike ontwikkeling (apartheid), is Suid-Afrika deur die blanke Nasionale Party-regering opgebou tot ‘n welvarende Eerste Wêreld-land.

   Na slegs 20 jaar is dié sukses en apartheid stap vir stap deur internasionale druk vernietig met toegewings deur die NP onder leiding van mnre John Vorster, PW Botha en FW de Klerk.

   Met die finale politieke oorgawe aan die ANC in 1994 is hoog opgegee hoe voorspoedig dit met almal in die “nuwe” Suid-Afrika sal gaan. Vandag sien en beleef ons almal die vernietiging, korrupsie, verarming, swak dienslewering en uitermate swak regering in ons land ― presies die teenoorgestelde van die sukses onder apartheid. Ons beleef die afbreek van ‘n trotse en suksesvolle Eerste Wêreldland tot rommelstatus. Daaroor hoef ons nie verder te skryf nie. Ons almal weet dit.

   Toe Jacob Zuma die ANC-staatshoof was, was die pleidooi dat ene Ramaphosa tog moet oorneem. Dan sal dit goed gaan. Hy word toe die staatshoof en dit gaan ook nie beter nie. Toe die korona virus die wêreld tref, was die eerste kommentare dat Ramaphosa goed oorkom. Sommiges het selfs gesê die virus gaan sy politieke loopbaan red. Maar dit het nie.

   En vandag? Niemand, nee niemand het meer ‘n goeie woord vir die ANC, vir Ramaphosa, vir die reënboognasie en vir die sukses van die demokrasie in die “nuwe” Suid-Afrika nie.

   Suid-Afrika het by die punt gekom waar die leuens almal ingehaal het. Ons het by ‘n punt gekom om nuwe keuses te maak. Daar is drie oorhoofse politieke keuses.

 

Die 1ste keuse

Die eerste keuse is om met die toestand wat kortliks hierbo geskets is, voort te gaan. Daarmee is niemand meer tevrede nie. Veral die Blankes van Suid-Afrika is in opstand.

   Ook die wêreld-aanslag is teen die Blankes en teen die blanke geskiedenis. Waar die westerse wêreld deur die Witman ontdek en opgebou is, word dit deur BLM-aksies vernietig. Ons sien dit. Maar dit eindig nie net teen die Witman nie. Die aanslag gaan toe baie gou verder en word ook teen die Christendom gevoer. Standbeelde van blanke staatsmanne en leiers word vernietig. En terwyl dit gebeur, stoomroller die Moslem-geloof oor die wêreld.

   Hierdie eerste keuse (om die status quo te handhaaf) is in Suid-Afrika reeds deur die politiek bewuste Witman verwerp. Die vraag is: Is daar ‘n alternatief?

   Dit is dus nie vreemd dat die media kritiek lewer teen gebeure nie. Dit neem toe ― in veelheid, maar veral in intensiteit. Daar is nie meer ‘n politieke berig of kommentator wat enige besluit of regulasie of wet van die ANC probeer goedpraat nie. Selfs die ver-linkse media is aanvallend, selfs vyandig.

 

Die 2e keuse

   Die tweede politieke keuse is die optrede om die howe in te span om die vernietigingswerk van die ANC te probeer stopsit. Hierin speel Solidariteit en AfriForum (veral in belang van die Afrikaner) ‘n baie belangrike rol. In die parlement is die VF Plus, maar die parlementêre teenwoordigheid kan nie teen die oormag enige verskil teweegbring nie.

   Hierdie tweede opsie van weerstand en protes is belangrik. Dit moet gedoen word. Maar, wat is Solidariteit en AfriForum se langtermyn plan? Hoe gaan oorwinnings in die hoogste howe ‘n ander politieke bedeling bring? Hoe gaan dit die Blankes onder die kommunistiese ANC-regime vry maak? Hoe gaan dit die eens vreedsame en ekonomies suksesvolle Suid-Afrika herstel? Wat is die beplande einddoel?

   Wat het ons hier? Ons het kulturele selfbeskikking. Die stryd word binne die vyandige bestel gevoer om sekere voordele vir die Blankes (as ‘n minderheidsgroep binne die ANC-bestel) af te dwing. Daarvoor word sekere regte binne die grondwet ingeroep. ‘n Grondwet wat enige tyd verander kan word.

   Ook binne die bestel, waar ons ons op die grondwet beroep, is daar verskillende groeperings wat aandring op selfbeskikking. Selfbeskikking, nie volksvryheid nie. Oor die selfbeskikking is daar nie eenstemmigheid nie en veral groot verskil oor die beginselbasis.

 

Die derde keuse

   Die derde keuse is om ‘n alternatief te stel vir die huidige politieke bedeling (die kommunistiese ANC-bestel). Dit is die soeke na volksvryheid. Vryheid van verskillende volke in hulle eie onderskeie lande (gebiede) waar elke volk oor homself regeer.

   Dit is waarheen afsonderlike ontwikkeling op pad was. Volksnasionalisme! Dit is hoe ons Europa al die jare geken het: elke volk in sy eie vaderland ― die Duitsers in Duitsland; die Franse in Frankryk; die Portugese in Portugal; die Italianers in Italië en die Russe in Rusland; ensovoorts.

   Wat ons in Suid-Afrika nodig het, is om ‘n totaal nuwe politieke aanslag te voer en ‘n nuwe politieke debat op die tafel te plaas. Hierdie alternatief is nie die daaglikse kritiek teen gebeure en foute nie, (dit word wel daardeur ondersteun), maar die wil om ons volk se vryheid buite die ANC-bestel te herstel waar ons oor onsself regeer.

   Dit was nog altyd die standpunt van die HNP en daar is ander organisasies wat ook by hierdie standpunt staan. Daarom dat die HNP nie aan die ANC-verkiesings deelneem nie. Ons staan buite die bestel om as volk ons vryheid te herwin.

   Waar begin ons? Ons begin om die Blankes in te lig en te oortuig oor ‘n alternatiewe bedeling. ‘n Politieke bedeling buite die ANC-bestel. Ons begin om dié ideaal uit te dra en Afrikaners te oortuig dat dit die enigste oplossing vir blanke voortbestaan is. Ons begin om ‘n geestestoestand te skep dat so ‘n alternatiewe politieke bedeling moontlik is. Ons begin om as volksgenote met mekaar te praat terwyl ons saamwerk aan ‘n plan om dié ideaal te verwesenlik.

   Die spreekwoord sê waar ‘n wil is, is ‘n weg. Groot ideale het al wonderwerke laat gebeur. Met oortuiging en geloof is dit weer moontlik. Laat ons onsself weer herinner aan die woorde van een van die grootse Afrikaners, dr Tobie Muller: “Misluk ons pogings en moet ons ondergaan, neergedruk deur ‘n vrag van onoorkomelike mooilikhede, dan is dit in elk geval beter om te sterf as eerlike stryders op die slagveld as om te versink in ‘n bedwelmende luilekker eentonigheid van niksdoen!”

   Laat die vryheid van die Afrikanervolk ons hoogste ideaal wees en bly!

   Laat ons, met ons oë gerig op die Almagtige God, toenemend streef na die herstel van ons vaderland: Eie volk, Eie land!

 

Louis van der Schyff            

31 Julie 2020