Raskonflik in gemengde gemeenskappe

 Die grootskaalse geweld wat aan die einde van Mei in Amerika losgebars het, behoort die wêreld nog ernstiger te bekommer as die Covid-19 pandemie. Die onderliggende sosiale spanning wat teweeggebring word deur rasgemengde samelewings is in verskeie lande van die Weste een van die grootste bedreigings vir stabiliteit en vrede.

   Dit belemmer sinvolle ontwikkeling, dit bou foutlyne in instellings in, en berei loopgrawe voor vanwaar verskillende politieke faksies op mekaar kan skiet. Aan die een kant is daar die linkse politiek wat hul by die Nieblankes skaar, en aan die ander kant is daar die regse politiek wat wal gooi teen die dreigende anargisme, korrupsie en geweld wat met integrasie gepaard gaan.

   Die betogings wat in Amerika losgebars het, toon welke kruitvat rasvermenging in daardie land geword het. ’n Verdagte, George Floyd, is onder arrestasie dood toe ’n blanke polisieman hom tien minute lank aangehou het.

   Die gebeurtenis wat aanleiding moes gegee het tot ’n dissiplinêre en gewone geregtelike ondersoek, is onmiddellik deur linkses voorgestel as ’n rasse-insident. Sluimerende groepe anargiste en terroriste het reg deur Amerika tot aksie oorgegaan en in die strate van meer as dertig stede geprotesteer. Veral in groot stede soos Washington, New York en Las Vegas het skares die strate ingevaar onder leiding van gewapende opstokers. Hulle het winkels stukkend geslaan, motors aan die brand gesteek, die polisie met klippe bestook en besighede beroof.

   Dit het president Donald Trump genoop om een van die sterkste maatreëls te neem, naamlik om die weermag te ontplooi en orde te herstel waar nodig. Aandklok-reëls is ingestel en die polisie is op volle gereedheidsgrondslag gebring om die geweld te stop.

   Intussen is ’n Amerikaanse polisieman in Las Vegas op die aand van 1 Junie 2020 van agter in die kop geskiet deur ’n gewapende betoger. Van hom sal ons seker nooit veel in die media hoor nie. Wanneer ’n wit polisieman doodgeskiet word, is dit nie vir die linkse pers van enige nuuswaarde nie. Wanneer ’n Swartman wat besig is met ’n misdaad, hardhandig aangekeer word, is dit onmiddellik groot nuus.

   Ons ken dit ook in ons eie land, veral sedert die onluste van die 1980’s.

   Onlangs het ’n swart leerling, Enock Mpianzi, van die Parktown Boys’ High School verdrink op ’n avontuurkamp van die skool. Die hoof van die skool, Malcolm Williams, se kop is geëis. Williams is in Januarie, na die insident, geskors deur die departement van onderwys in Gauteng, hangende ’n dringende ondersoek.

   Hy is toegelaat om na die skool terug te keer terwyl geregtelike ondersoeke nog hul normale gang gaan. Die regsverteenwoordigers van Enock Mpianzi se familie het verklaar dat Williams se terugkeer na sy werk “gruwelik en absoluut skokkend is”.

   Williams was nie eens naby die toneel van die verdrinking nie, hy is bloot die skoolhoof. Weer word die normale gang van ondersoeke vertroebel met allerlei protesaksies, volgehoue mediasensasie en die beskuldigings van rassisme wat by die skool sou heers. Weer word die raswolwe uitgestuur om Blankes aan te val.

   Tydens die inperking het die SA Weermag in Alexandra vir Collins Khosa doodgeslaan op onbenullige gronde. Omdat dit swart lede van die ANC se weermag is wat daar opgetree het en die slagoffer swart was, is dit nie ’n “rasse-insident” nie, maar bloot “die skending van menseregte”. Reaksie op hierdie wandaad wat op moord neerkom, was maar baie matig en die gebeure het reeds byna in die vergetelheid verdwyn. Khosa se naam sal nie bekend word soos dié van George Floyd in Amerika nie.

   In Suid-Afrika is “menseregtedag” gekoppel aan die gebeure by Sharpeville; maar daar is nie ’n Marikanadag vir die massamoord wat daar plaasgevind het nie. In die geval van Marikana was Cyril Ramaphosa die man wat die polisie versoek het om die betogers vas te vat; en hy is vandag die president van Suid-Afrika en die leier van die ANC-SAKP-alliansie. Julius Malema het Ramaphosa in die parlement ’n moor-denaar genoem. Daardie gebeure word maar net stilletjies begrawe, soos die dooies ook begrawe is.

   Die belangrike punt is, naas die onreg van diskriminasie teen Blankes, dat gemengde samelewings die plofstof bevat vir groot menslike tragedies. Deurentyd word ons herinner aan die sogenaamde onmenslikheid van apartheid, maar wat word van die onmenslikheid en geweld wat gemengde samelewings oplewer onder ’n beleid van gedwonge integrasie? Wat van die geweld wat deur linkses en anargiste gepleeg word wanneer hulle die raswolwe loslaat? Wie besin daaroor? Beslis nie die groot mediamagte nie; en baie selde die akademiese wêreld, waar die sondes van die sogenaamde “apartheidsjare” gereeld opgediep word.

   Dr Verwoerd was reg toe hy verklaar het dat rassevermenging nie vrede en stabiliteit sal bring nie, maar eerder die disintegrasie van die beskawing, van die blankedom en van die godsdiens wat ons in Suid-Afrika geërf het. Al die tekens is daar dat dit presies is wat in Suid-Afrika gebeur.                        

 

M Peters

5 Junie 2020