Stem reg, bly weg! en… bou ons vryheid
As daar nou een politieke slagspreuk is wat in mense se geheue bly steek het, is dit die HNP se “Stem reg, bly weg!” As ʼn uitdrukking van afkeer en weerstand téén die skandelike prysgawe van ons volk se vryheid en die oorgawe van ons land aan ʼn bende terroriste, was dit ʼn treffer. Wat kortgekom het en waaraan ons nou moet werk, is om volksgenote te oortuig dat wegbly van die regering se stembusse gepaard moet gaan met ʼn positiewe handeling van “bou ons vryheid”.
Vir baie mense is blote wegbly van die stembus ʼn negatiewe handeling wat geen goeie gevolg inhou nie. “Nee”, argumenteer hulle, “ons is deel van die land en daarom moet ons ons stem laat hoor” ens., want hoe wegbly van die stembus alleen ons volk prakties kan baat, is nie aan hulle uitgespel nie. Hulle gee toe dat vier of tien of dalk selfs twintig stemme van ʼn Afrikanerparty in ‘n parlement van 400 ʼn magtelose minderheid is wat geen invloed op die politieke gang van sake kan uitoefen nie, maar “dis darem iets” — ja, ʼn wanhopige “iets”, maar by gebrek aan ʼn alternatief, “darem iets”. Kan ons hulle regtig oortuig om nie te stem nie as daar nie vir hulle ʼn geloofwaardige en lewensvatbare alternatief voorgehou word nie?
Feit is, daar ís ‘n alternatief: staak deelname aan die heersende politieke bestel sodat die ding in duie kan stort en skep ʼn eie struktuur of strukture wat op verskillende vlakke namens ons volk optree. Inderwaarheid is die tweede deel van hierdie alternatief reeds besig om te gebeur, hoewel tans nog op ʼn beperkte skaal en as ʼn klomp los komponente, en nie as een werkende masjien nie.
Wat ontbreek, is ʼn verteenwoordigende funksionerende gesagsliggaam vir die Afrikaner, wat kan oorneem en ordelik kan regeer wanneer die amptelike parlementêre struktuur so uitgehol sal wees dat dit prakties irrelevant raak en opsy geskuif word. Duideliker gestel: geen groep of party wat daarop aanspraak maak dat hulle namens die Afrikanervolk optree, behoort langer aan die regering se verkiesings deel te neem en in sy wetgewende vergaderings te sit nie. Daar is goeie, talentvolle en hardwerkende volksgenote in die parlement. Hulle kan vir ons volk méér beteken saam met ander verteenwoordigers in ʼn volkseie regering waar hulle nie deur vyandige getalle oorheers word nie. Hulle bereidheid om dit te doen al dan nie, sal bepaal word deur die antwoord op een belangrike sleutelvraag: sien ons onsself as ʼn selfstandige volk wat onsself in ons eie soewereine staat wil regeer (die oorspronklike Voortrekkerideaal), of aanvaar ons dat ons slegs ʼn onderdeel van ʼn groter nasie is aan wie ons vir altyd onderhorig sal wees?
Die huidige politieke bestel is berekend ontwerp om ons volk in ʼn posisie van onderhorigheid te hou en ons mettertyd as volk te laat verdwyn deur bloed-vermenging, emigrasie, fisiese geweld en onderdrukking van ons taal en kultuur. Ons kan slegs daaraan ontsnap deur onsself in ons eie land te regeer, en die voorvereiste daarvoor is vernietiging van die huidige grondwetlike bestel.
Deelname aan die bestel in die hoop dat ons daardeur op een of ander wyse ons vryheid kan verkry, is wensdenkery. Dit is tog onlogies en ondenkbaar dat die bestel wat geskep is om ons te vernietig, aan ons volk vryheid sal gee om te leef en op te bloei. Om aan die bestel te wil ontsnap, maar tegelykertyd daaraan deel te neem, is net so onhaalbaar soos ʼn persoon wat aan drankverslawing wil ontkom terwyl hy voortgaan om te drink.
Hoe so ʼn verteenwoordigende gesagsliggaam saamgestel kan word, is ʼn saak wat in volksgeledere bespreek behoort te word. ʼn Volwaardige verkiesing is een moontlikheid, maar solank ons nie oor die vereiste hulpbronne beskik nie, is dit nie noodwendig die enigste nie. As die nodige wil daar is, is ons volk vindingryk genoeg om ʼn aanvaarbare oplossing te bedink, en dieselfde geld vir verskeie ander praktiese sake.
Andries Breytenbach
23 Oktober 2020