Ekonomiese groei en inflasie oor 100 jaar

Suid-Afrika se ekonomiese geskiedenis in perspektief

Deur Rudolf Buitendach

 

Suid-Afrika se geskiedenis uit ‘n volksoogpunt kan in drie fases verdeel word:

  • die tydperk na 1900 onder Engelse beheer;
  • na 1910 as die Unie van Suid-Afrika grootliks onder volksbeheer (vanaf 1948 onder werklike volksbeheer)
  • en vanaf 1994 onder ANC beheer.

Vir die doel van ‘n ekonomiese bespreking wil ons die tydperke verdeel vanaf 1921 tot 1957 (vanaf elf jaar na Unie-wording), vanaf 1958 tot 1966 (die tydperk van dr HF Verwoerd as Eerste Minister, vanaf 1967 tot 1993 (wat ook as die aftakelingstydperk van dr Verwoerd se beleid beskou kan word) en die tydperk vanaf 1994 onder ANC-beheer.

Die meegaande grafiek word as riglyn vir die bespreking gebruik en wil hoofsaaklik op die tydperk van dr Verwoerd konsentreer. Die grafiek is in tydperke van tien jaar elk verdeel. Drie ekonomiese aanduiders word gebruik, wat ‘n sterk invloed op die ekonomie het, naamlik die tydperk onder oorsig se ekonomiese groei, inflasie en die wisselkoers van die rand teenoor die dollar. Omdat die rand eers in dr Verwoerd se tyd in 1961 ingestel is, word die wisselkoers voor die rand se instelling op R1 gelyk aan $1 gestel, alhoewel Suid-Afrika se geldeenheid ponde was (dit dien dus slegs vir gerieflikheid).

Daar moet ook in ag geneem word dat die ekonomiese groei teen reële waardes geneem is; dit beteken dat geldwaardes teen konstante pryse geneem is en dat inflasie dus verdiskonteer is.

Gedurende die tydperk 1921 tot 1957 was die gemiddelde ekonomiese groeikoers op ‘n tienjaarbasis 3.08% (1931), 7.7% (1941), 4.1% (1951) met die volgende vyf jaar tot 1956 onderskeidelik 3.3%, 4.3%, 6.3%, 5.4%, 5.7% en 4.3%.

Inflasie, wat ‘n ekonomiese aftakelaar is, het vir die twintig jaar vanaf 1921 tot 1941 op 0.8% gebly en vir die volgende twintig jaar op ongeveer 1.5%. Die tydperk 1911 tot 1921, met die Eerste Wêreldoorlog se bydrae, het ‘n gemiddelde jaarlikse inflasie van 6.35% gehad. Die rand as geldeenheid het nog nie bestaan nie en die pond was gebruik. Die jare 1o929 tot 1932 was moeilike jare met negetatiewe ekonomiese groei van -0.1%, -5.8%, -6.2%

en -2.0% onderskeidelik. Daarna het dit herstel en vir die volgende vier jaar selfs dubbel groeisyfers getoon. Die tydperk kan dus as ‘n redelike wipplank-ekonomie beskryf word. Dit het ook dieTweede Wêreldoorlog en ‘n wêrelddepressie ingesluit.

Die tydperk van dr HF Verwoerd het in 1958 begin. Hy het vir die land ‘n rasse-oplossing gebied wat ook sy volk kon red en het geweldige ekonomiese en politieke druk ervaar. In die proses het hy die land tot ‘n republiek gelei en in die land ‘n eie geldeenheid (die rand) in 1961 ingestel.

In sy eerste jaar het hy ‘n ekonomie met ‘n groeikoers van 2.47% geërf. Vanaf sy tweede jaar het die ekonomie jaarliks gegroei met 4.3%, 2.9%, 4.3%, 6.1%, 7.3%, 7.6%, 6.5% en 4.5% en het hy ‘n ekonomie oorhandig wat in 1967 ‘n groeikoers van 7.14% kon lewer. Die nege jaar onder sy leiding het dus ‘n gemiddelde ekonomiese groei van 5.62% getoon. Dit was die enigste van twee tydperke oor een honderd jaar met volgehoue groei bo 7% (gedurende 1932 tot 1941 was die gemiddelde groei 7.7%).

Inflasie was vir sy hele tydperk onder 2% per jaar. Dit in ‘n tydperk waar inflasie wêreldwyd begin het om sy verskyning te maak. Die rand, wat in 1961 ingestel was, het slegs 71c nodig gehad om een dollar te koop. Dit het onder R1 per dollar tot in 1982 gebly. Dr. Verwoerd het dus, ten spyte van doemproefete, vir die land ‘n stabiele geldeenheid ingestel en in ‘n klimaat van lae inflasie sewe opeenvolgende jare van gesonde ekonomiese groei gevestig.

Na dr Verwoerd se ontydige dood het die politieke aanslag op sy volk ook in felheid toegeneem ― die keer sonder iemand om die aanslag effektief teen te staan. Dié aanslag sou ook nie die ekonomie ontsien nie. Dit het geleidelik begin en algaande al hoe groter geword.

1967 tot 1993

Die volgende fase onder bespreking is die tydperk na dr Verwoerd tot voor die ANC beheer: 1967 tot 1993.

Die gemiddelde ekonomiese groei vir die tydperk 1967 tot 1981 was die tweede laagste sedert 1921. In 1967 was dit 7.14%, nog as gevolg van die momentum van dr Verwoerd se bewind. In 1968 tot 1981 was dit onderskeidelik 3.9%, 3.7%, 5.1%, 4.2%, 2.0%, 5.0%, 6.7%, 1.6%, 2.1%, -0.9%, 2.5%, 3.5%, 7.5%, en 4.9%. Die stewige ekonomiese onderbou uit die Verwoerd-era het die ekonomie vir verskeie jare voortgedra.  

Die groot vyand vir ‘n gesonde ekonomie (= inflasie) het ingekruip en ‘n gemiddeld van 7.7% vir dié tydperk bereik. Die rand het nog teen die dollar stand gehou op R0.9 teenoor ‘n dollar.

Die volgende tien jaar, 1982 tot 1991, het ‘n geleidelike ekonomiese agteruitgang ondervind. Die gemiddelde groeikoers oor tien jaar was slegs 0.6% (per jaar was dit -1.9%, -1.2%, 4.4%, -1.5%, -0.1%, 2.4%, 2.9%, 1.5%, 0.1% en -0.4% onderskeidelik). Inflasie het buite beheer geraak en was vir die tien jaar vanaf 1982 onderskeidelik 14.7%, 12.4%, 11.6%, 16.1%, 18.7%, 16.1%, 12.9%, 14.7%, 14.4% en 15.3%.

Rentekoerse het die hoogte ingeskiet en persone wat uit die vorige gesonde ekonomie bates deur lenings opgebou het, moes hulle bates verkoop om te oorleef. Dié tydperk het ‘n algemene verarming tot gevolg gehad. Daar was nou R2.76 nodig teenoor een dollar.

Die volgende drie jaar, voor die uitlewering aan die ANC, het Suid-Afrika in 1992 ‘n ekonomiese groeikoers van -1.3% en daarna 0.4% en 2.6% gehad met inflasie van 16.4%, 9.5% en 9.5% onderskeidelik. Die rand het in 1993 teenoor die dollar op R3.19 teenoor $1 geëindig.

Die rand het dus vanaf sy instelling in 1961 (teen R0.74 teenoor die dollar) redelik stand gehou tot in 1993 voordat die ANC in 1994 oorgeneem het met R3.19 teenoor een dollar.

 Die fase vanaf 1994

Dit bring ons by die laaste fase toe die ANC vanaf 1994 in beheer van sake gekom het. Hulle het die sterkste ekonomie in Afrika oorgeneem met ‘n indrukwekkende infrastruktuur, mediese dienste, onderwys, ‘n ekonomie met ‘n sterk industriële, kommersiële en bank-dienste sektore.

Die ekonomiese groeikoers het vanaf 1994 gesukkel om bokant 2% te kom en die jaarlikse groei vanaf 1994 tot 2001 was 2.6%, 3.0%, 4.6%, 2.2%, -0.1%, 2.0%, 4.1% en 3.2% per jaar. Dit moet uitgewys word dat die wêreld op hierdie stadium vir die land oopgemaak is en hulp van elke denkbare Westerse land in oorvloed aangebied is.

Die inflasiekoers was gemiddeld per jaar 7.3% en die rand het in 2001 teen R7.77 per $1 geveg om sy waarde te behou.

Die volgende tien jaar vanaf 2002 tot 2011 het ‘n jaarlikse gemiddelde ekonomiese groei van 3.4% getoon. Die gemiddelde jaarlikse inflasie was 6.7% en die rand het tot in 2011 goed koers gehou en op R6.91 teenoor ‘n dollar gestaan.

Die laaste 10 jaar tot 2021 is nie ‘n bemoedigende verhaal nie. Die jaar 2021 moet nog voltooi word en sekere aannames, soos deur die minister van finansies en internasionale instansies voorspel, is bygewerk. Die gemiddelde ekonomiese groei per jaar vanaf 2011 tot 2021 is 0.5% met inflasie tussen 5% tot 6%. Die inflasie vir 2020 is besonder laag en sal waarskynlik op 4.0% eindig. Die randwisselkoers teenoor die dollar kan as skokkend beskryf word en staan tans op R16.60 en het min vooruitsigte om in die volgende jaar veel te verbeter. Staatskorrupsie het ‘n geweldige negatiewe invloed op die ekonomie. Die laaste tien jaar bewys dit.

Die afgelope 100 jaar van Suid-Afrika se ekonomie kan soos volg opgesom word: Beginnende by 1921 was die eerste tien jaar redelik goed, die volgende tien jaar besonder goed, die volgende veertig jaar tot 1981 redelik goed met die beste deel die waar dr Verwoerd Eerste Minister was en die gemiddelde groei ongeveer 5.5% per jaar oor sewe jaar was met lae inflasie en ‘n sterk geldeenheid.

Die volgende tien jaar tot 1991 was besonder swak. Die volgende twintig jaar, waarvan sestien jaar onder ANC-bewind, is redelike lae ekonomiese groei van 2.1% en 3.4 % tot in 2011 ervaar.

Die laaste tien jaar kan as ‘n ekonomiese ramp beskou word en die vooruitsigte is nie bemoedigend nie. Staatskuld, lae ekonomiese groei, swak owerheidsdienste, hoë werkloosheid en vele ander ondermynende faktore skep rede om bekommerd te wees