Volksvryheid: Ons roeping!

Op 25 Oktober vanjaar was die HNP 51 jaar oud. Nog ‘n mylpaal na verlede jaar se glansryke viering van die HNP se vyftigste verjaardag.

   Telkens wanneer nuwe politieke verwikkelinge intree, kyk HNP-lede terug oor die bestaan van die HNP ― sy politieke stryd, sy ervarings, die hoogtepunte en laagtepunte, maar veral na die insigte en waarskuwings van die HNP-leiers teen die beleidsveranderings wat die oorsaak is vir die toestand waarin ons land vandag is. Wat kan ons uit dié jarelange stryd van die HNP leer?

   Op 14 April 1969 het dr Albert Hertzog in die Volksraad gesê (die bekende Calvinistiese toespraak): “As die Witman in Suid-Afrika moet padgee, sal dit nie net ellende bring vir die Swartman nie, maar chaos. Vandag wil ek praat oor daardie wit volk sonder wie niks in Suid-Afrika kan bly bestaan nie en sonder wie selfs die blanke beskawing uiteindelik sal vergaan”.

   “Die kernpunt waarom alles in Suid-Afrika draai, is die feit dat ons as Witmense, die beskaafde volk, die kundige volk, die bekwame volk, as ‘n minderheid durf om die land te regeer. Die kommunistiese propaganda sal die hoogte inskiet om haat te stig tussen die Swartman en die Witman.

   “Elke verstandige mens weet dat wanneer jy in gevaar verkeer, jy nie wapens weggooi nie. Jy gryp inteendeel elke wapen wat jy het en jy probeer dit verbeter. Jy troetel dit en jy bou dit uit, jy versterk dit, want as jy ‘n wapen weggooi wat jy kon gebruik het, dan verswak jy jouself daardeur en jy versterk jou vyande. Ons as volk het een groot wapen, miskien die sterkste en die kragtigste wapen wat ons besit, en dit is ons blanke volk self. Jy kan geen stryd ooit wen sonder ‘n taaie en ‘n onverskrokke en ‘n geestelik goed toegeruste volk nie.

   “Ons Blanke bevolking is ons kragtigste, ons grootste bate. Die basis van ons volk is die beginsels van Calvinisme, nl. dat ‘n mens altyd regskape en regverdig moet optree. Maar daar is ‘n tweede beginsel wat hier ook van toepassing is, naamlik dat elke Calvinis die verskeidenheid van die skepping erken. Hy erken met ander woorde die deug in ander groepe en in ander volksdele. Omdat hy dit erken, moet hy hulle gun om hulself te wees. Hy moet hulle hulle taal, hulle kultuur, hulle lewenswyse, hulle gebruike, alles wat hulle eie is, gun.

   “Die derde beginsel en die groot lewensbeginsel van die Nasionalis en die Calvinistiese Afrikaner is sy verknogtheid aan vryheid; vryheid van die persoon en die vryheid van sy volk.

   “Die vierde eienskap van hierdie Calvinistiese Afrikaner is die beginsel dat hy hom aan gesag onderwerp. Hy sal hom sterk laat geld teen enige element wat op ‘n onregmatige manier die gesag wil beëindig. Hy sal dan nie skroom om op te tree en om sterk op te tree nie”.  

   Op 1 Oktober 1969 het dr Hertzog op Ermelo gepraat. Daar sê hy: “Die geheim van daardie wonderbaarlike krag wat ons volk staande gehou het ― daardie byna bomenslike krag, is sy kragtige beginsels; sy duidelike lewenspatroon, sy onaantasbare waarhede. Dit is deel van onsself; deel van ons volk, deel van ons geloof. Solank ons apart is en ons ons apart hou, kan ons ons selftrots, ons kultuur, ons taal, ons geloof, en ons bande van vriendskap en broerskap bewaar ― daardie bande wat ’n volk geestelik magtig maak.

   Dan waarsku hy oor die druk dat Suid-Afrika aan ‘n swart regering uitgelewer sal word, en sê dan, dat wanneer dit gebeur, “ons onverskrokke ons man moet staan. Geen kompromie en geen toegewing sal die magtige vyandige belange wat teen ons staan, bevredig nie. Daar is net een toegewing wat hul sal aanvaar, en dit is totale oorgawe van onsself en van ons land aan die Swartman.

   “Ons is geestelik ‘n kragtige volk. En ons is kragtig omdat ons apart is en apart bly”.

 

2020:

Hierdie waarskuwings en politieke waarhede het in ‘n groot mate op dowe ore geval. Maar ‘n klein deeltjie van die Afrikanervolk het dit gehoor en dit bewaar sodat die geslagte wat sou kom, daaruit kan leer en daaruit moed kan skep om as volk op te staan en weer sy vryheid te herstel.

   Op 25 September 2020 skryf mnr Andries Breytenbach, leier van die HNP, “Die kern van ons probleem is die bedeling waarin ons volk en die ander volke van Suid-Afrika gevange gehou word. Om uit die gevangenskap los te kom, moet dié bedeling tot niet gemaak word; dit wil sê die huidige Suid-Afrikaanse grondwet moet opgeskeur word en volke wat begeer om hulleself te regeer, moet as soewereine state onder grondwette van hul keuse tot stand kom. Om dit nog duideliker te stel: die ‘een, soewereine, demokratiese staat’ moet opgebreek word in twee of meer soewereine state. (Kyk bladsy 9).

   Die Afrikanervolk moet uit hierdie bestel kom. Volksvryheid is ons hoogste ideaal en roeping!

   Binne die bestel, omdat ons volk deel daarvan is, is daar bykans geen propaganda van volkskap, volkstrots, rassuiwerheid en eie volkskultuur en -karakter nie. Binne die bestel, tesame met die oormag van die sosiale media en menseregte, word geen woord meer gerep oor volksregte, nasionalisme en ‘n eie land en eie volk nie.

   Wanneer ons buite die bestel tree en daar sterk optree, sal die volksbewussyn weer groei, sal ons as volk weer uit die as van vernedering opstaan om as volk weer ons regmatige plek in ons vaderland in te neem.

   Die boodskap is duidelik: Die Afrikanervolk, vas geanker op sy Calvinistiese lewensbeskouing, is steeds die volk in Suid-Afrika wat die kennis en die vermoë het om die chaos waarin die ANC hierdie land gedompel het, te omskep in sukses en voorspoed.

   Daarom is ons oproep aan die Afrikanervolk om op te staan vir volksvryheid. Ander noem dit selfbeskikking. Daardie vryheid moet buite die bestel wees. Buite die regime se parlement, buite sy menseregte grondwet: daar moet Afrikaners op die suiwer beginsels van Afrikanernasionalisme versamel. Een in gees en een in strewe moet ons eendragtig saamstaan met net een ideaal: Eie volk, eie land!

 

Louis van der Schyff

23 Oktober 2020