Die Afrikaner en selfbehoud
Die manier waarop die politiek in ons land verander as uitvloeisel van die beheermaatreëls teen die korona-virus, bring by elke Afrikaner al meer die besef dat die ANC-regime se politieke agenda daarop uit is om die Witman in Suid-Afrika in alle opsigte te onderdruk. Die Blankes word dood eenvoudig al meer onder die huidige maatreëls benadeel.
Gawie neem dit waar dat Blankes al hoe meer ontevrede raak, en sommiges begin in opstand kom. Wêreldwyd is daar reeds reuse protes-saamtrekke. Slagspreuke soos “vryheid” word duidelik op video’s gehoor. Hierdie protes-optredes het natuurlik ‘n sterk ondertoon van nasionalisme ― volksnasionalisme ― al word dit in hierdie stadium nie deur die protesteerders so beplan nie.
In Suid-Afrika sê mense openlik dat dit oorwegend die Blankes is wat die inperkingsreëls nakom, en dan word hulle gestraf wanneer dit by voordele kom. Swart bevoordeling word openlik gepropageer, maar die Witman moet steeds die rekenings betaal. Klein en opkomende swart boere kry hulp, maar die blanke kommersiële boere wat kos vir die markte produseer en werk verskaf, kry niks nie.
Gawie neem ook waar dat die breë media, selfs in Afrikaans, steeds hulle bes doen om Ramaphosa goed te laat lyk en ook om nasiebou te bevorder. En natuurlik is daar diegene wat deur die oordonderende propaganda beïnvloed en mislei word. Gelukkig begin bekende linkse kommentators ook skepties en negatief oor die ANC raak. Ekonome soos Dawie Roodt en Mike Schussler maak reeds baie sterk anti-regering uitsprake.
Binne ANC-geledere is daar ‘n diep kloof. Gerugte wil dit hê dat die kommuniste in die ANC van Ramaphosa ontslae wil raak.
Ramaphosa het in sy Vryheidsdag-toespraak verwys na die ongelykhede, en verwys na mense wat die inperking in ruim huise met vol vrieskaste deurbring, teenoor dié wat dit nie het nie.
Een ding is seker: die ANC is besig om teen ‘n baie hoë snelheid die reeds lamlendige ekonomie in die afgrond in te verwoes. Maar veel meer: die ANC met sy sosialistiese maatreëls is op pad na volslae kommunisme. Dit sal vir niemand tot voordeel strek nie ― allermins vir die Witmense van Suid-Afrika.
Wat is nóú ons as individue se prioriteit? Ons prioriteit is eerstens selfbehoud. Selfbehoud om fisies te oorleef, en selfbehoud om in hierdie verslegtende toestand finansieel te oorleef.
Maar ons moet ook as Afrikaners en Christenvolk in ons vaderland oorleef. Daarom moet ons sonder huiwering ons voorkeur uitoefen om die nood onder ons volksgenote aan te spreek. Dit is ons verantwoordelikheid, ons plig maar veral ons reg.
Laat ons steeds ons slagspreuk herhaal: Eie volk, eie land!