Andries Breytenbach
Artikel 2 van die Program van Beginsels verklaar op welke grondslag ons volk ontstaan en gebou is, en dit is net natuurlik dat die HNP as volksliggaam dit as lewensbeskoulike grondslag aanvaar. Dit lui soos volg:
GRONDSLAG:
Die Heilige Skrif, die onfeilbare Woord van God, soos dit verstaan en uitgelê is in die Calvinistiese hervorming, waarvan ons die dankbare erfgename is, vorm die lewensbeskoulike grondslag van die Party.
Die HAT verklaar ʼn grondslag as:
(1) “dit waarop iets berus, steun, gebaseer is; beginsel; fondament; en
(2) Dit waarmee iets begin; uitgangspunt.”
Lewensbeskouing word beskryf as die “Oordeel oor die betekenis en doel van die menslike bestaan; lewensopvatting; lewensfilosofie.”
Van Riebeeck en sy geselskap het na die Kaap gekom pas na die beëindiging van die tagtigjarige oorlog tussen Nederland en Spanje. Spanje het die Rooms-Katolisisme aangehang, terwyl Nederland die protestantse beskouing van die Kerkhervorming, en nog meer spesifiek die leerstellinge en verstaan van die Bybel soos deur Calvyn en sy medehervormers uitgelê, aanvaar het. Die tagtigjarige oorlog het die botsing tussen die lewensbeskouings wat uit die twee strominge voortgekom het, erteenwoordig.
Dit is nie maar ʼn historiese toevalligheid dat Van Riebeeck as die draer van die suiwer gereformeerde leer en geloof die planter van ʼn nedersetting was wat tot ʼn nuwe protestantse volk sou groei nie. Voor hom het seevaarders van ʼn katolieke land soos Portugal reeds jare lank by die Kaap verbygevaar sonder om ʼn poging aan te wend om ʼn nedersetting hier te vestig. Ons beskou dit as ʼn Godsbeskikking dat die vestiging aan die Kaap deur die protestante van Nederland plaasgevind het en geslaagd was. Van Riebeeck en sy geselskap het dit ook so gesien en kon daarom op 6 April 1654 verklaar “dat God die HERE alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, … om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat die weldade van die HERE wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.”
Dat daar verskeie strominge in die protestantisme is, is ʼn feit en daarom word hierbo duidelik verklaar dat ons die “Woord van God, soos dit verstaan en uitgelê is in die Calvinistiese hervorming”, as lewensbeskoulike grondslag aanvaar. Sodoende word vaagheid en onsekerheid oor wat ons as grondslag aanvaar, uitgeskakel.
Hierdie is nie die plek om ʼn omstandige uiteensetting van die Calvinistiese verstaan en uitleg van die Bybel weer te gee nie. Dit is voldoende om kortliks te stel dat die drie-enige God bely word as die Skepper en Onderhouer van alle dinge, en uit hoofde daarvan behoort álle lewensterreine, dus ook die staatkundige, (dit wil sê die politiek) en die volkslewe tot sy eer geheilig en bedryf te word.
Die bedoeling van die artikel is dus nie om mense wat nie spesifiek aanhangers van die Calvinisme is, uit te sluit nie, maar wel om te verklaar dat ons ʼn Christelike party is wat die opperheerskappy van God erken en ons verantwoordelikheid om daarvolgens te leef, aanvaar. Alle verdere beginsels en uitgangspunte word deur dié grondslag bepaal. Volksgenote wat so gesind is en dit aanvaar, is dus welkom om lede te word van die Party.
Hierdie grondslag is in absolute teenstelling met die huidige ANC-grondwet vir Suid-Afrika, wat ʼn antiChristelike lewensbeskouing weerspieël wat die mens effektief tot ʼn god verhef — ʼn god wie se “menseregte” en beskouings meer gesag dra as die woord en wet van God. Tussen hierdie twee lewensbeskoulike grondslae kan geen gemeenskap wees nie en dit skakel enige gedagte aan ʼn enkele nasieskap absoluut uit.