Nadat die HNP in artikel 2 van sy beginsels die lewensbeskoulike grondslag van die Party onomwonde verklaar het, word in artikel 3 daartoe oorgegaan om die praktiese toepassing en betekenis daarvan in die volkslewe te beskryf. Dit lui soos volg:

3. Beginsels en uitgangspunte

3.1 Soewerreiniteit van God

In die uitleef van sy strewe en in die Grondwet van ’n toekomstige Afrikanerstaat, in die optrede van die Party en sy leiers en lede moet die Drie-enige God erken en verheerlik word as die soewereine God, die Skepper, Onderhouer, Herskepper en Voleinder van alle dinge tot wie se diens almal op alle lewensterreine geroep word en van Wie alles verwag word en van Wie alles en almal wat bestaan, afhanklik is.

3.2 Nasionale Identiteit

Aangesien dit God behaag het om ’n verskeidenheid van volkere en nasies in aansyn te roep, moet:

3.2.1. die nasionale identiteit van die Afrikaner as Witman, Afrikaner en Christengelowige noulettend bewaar word;
3.2.2. die kultuuropdrag van die volk langs Christelik-nasionale weg geskied; en
3.2.3. die antichristelike en antinasionale strewe na ras- en kulturele eenvormigheid, die uitwissing van alle grense, en die imperialisme met die oog op die tot stand bring van een staat vir die hele Afrika en een wêreldstaat, teengestaan word sodat ons volk binne die natuurlike lewenskringe van gesin, familie en volk beskerming, veiligheid en vooruitgang kan geniet.

Daarom kan die Afrikanervolk in beginsel nie deelneem aan die multikulturele en veelrassige reënboognasie en sy strukture wat in 1994 onwettig tot stand gebring is om die Afrikaner van sy soewereiniteit, sy vaderland en sy toekoms te vervreem nie.

In 3.1 hierbo word erken dat God, nie die mens nie, die oppergesag oor die hele skepping beklee; dat ons as individue en as volk in sy diens staan; dat ons van Hom en Hom alleen afhanklik is en dat ons in alles wat ons doen, sy eer voor oë moet stel.
Dit stem ooreen met die eerste bede van die gebed wat Jesus Christus ons geleer het: “laat U naam geheilig word”. Dié artikel lyk of dit eerder in ʼn kerklike belydenis tuishoort as in ʼn dokument van ʼn politieke party. Ons voorouers het egter nie so ʼn breë skeidslyn tussen hul godsdienstige belydenis en die volkslewe getrek soos ongelukkig vandag gebeur nie. Daarom kon Andries Pretorius en sy volgelinge met erns die bekende Bloedriviergelofte aflê, en kon president Paul Kruger verklaar: “ook op staatkundige gebied bely ek die ewige beginsels van Gods Woord”. Talle meer voorbeelde van dié aard kan aangehaal word.

Deur die opname van dié artikel in ons program van beginsels word die grenslyne neergelê waarbinne die volkslewe uitgeleef en die toekomsideale gerig moet word. In kort kan ons sê dit verteenwoordig die begrip “Christelik” in ons Christelik-Nasionale lewensbeskouing.

Artikel 3.2 druk die nasionale aspek van ons lewensen wêreldbeskouing uit. Daarin erken ons dat volkere en nasies deur God se wil en beskikking tot stand gekom het en dat dit ons plig en verantwoordelikheid is om ons identiteit en volkskarakter noulettend te bewaar. Dit sluit die bewaring van en koestering van die goeie en mooie van ons volkserfenis in: ons Christenskap, ons witmanskap, ons taal en kultuur, ons geskiedenis, ons land, ons huweliks- en gesinslewe, ons sedes en vele meer. Dit laat geen ruimte vir rasseverbastering, ʼn sogenaamde reënboognasie en ‘n sekulêre eenheidstaat waarin na eenvormigheid van alle mense gestreef word en die natuurlike onderskeide deur antiChristelike wette ontken, en gepoog word om dit onder dwang uit te wis nie. Dit laat ook geen ruimte vir die vermorsing van ons taal, die verwaarlosing van ons geskiedenis en vele ander dinge wat deesdae mode onder ons volk geword het nie. Geen wonder dat ʼn groot gees in ons volk, dr. Tobie Muller, in ʼn vroeër era kon verklaar dat papheid op nasionale gebied sonde is nie.

Kortom, die beginsels hier uitgedruk, vorm ʼn direkte teenstelling téén die basiese uitgangspunte en beskouing wat in die huidige grondwet van SuidAfrika uitgedruk word en as die hoogste wetlike gesag in die RSA geld. Dit is ʼn formulering wat die
geestelike grondslae en lewensbeskouing waarmee ons volk gebore is en gegroei het, weergee. Daarom is dit geen wonder dat ons van die begin af in botsing gekom het met die liberale beskouings wat eers Brittanje, en later die hele internasionale wêreld op ons wou afdwing nie. Hoe skandelik en jammer tog dat ons deur verraad en lamsakkigheid uiteindelik voor daardie dwang geswig het!