1961
“Meneer die Staatspresident, ek het gesê dat hierdie eenkeer ons nie net ’n formele heildronk op u instel nie, maar op Suid-Afrika en op u, ons Staatspresident, die eerste keer hoof van ons eie staat. Ons doen dit vanaand omdat dit so ’n besondere geleentheid is. Vir ons is dit ’n toppunt. Ons het ’n berg uitgeklim oor jare. Ons het uiteindelik ’n plek bereik, nie die hoogste in die lewe van ons volk nie, want miskien is dit vandag nog maar net die begin van groter dinge; maar vir ons is dit ’n hoogtepunt wat ons bereik het, die vervulling van ideale om u nou te mag aanspreek as ons eie Staatspresident.”
Dit was die woorde van dr. HF Verwoerd as eerste minister die aand van 31 Mei 1961 nadat staatspresident, CR Swart, vroeër die dag ingehuldig is as Suid-Afrika se eerste staatspresident nadat die land ’n onafhanklike republiek geword het.
Die koms van die Republiek van Suid-Afrika, op dieselfde dag as waarop die vernederende Vrede van Vereeniging geteken is en ook dieselfde dag waarop die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het, was ’n strewe wat geleef het sedert die boererepublieke op 31 Mei 1902 hulle onafhanklikheid en dus republikeinse status verloor het.
Vir baie was die totstandkoming van die Unie op 31 Mei 1910 ’n soort kompromie, want die Engelse gebiede van Kaap en Natal is daarbý gevoeg en die nasate van die Boererepublieke het dit beleef as ’n Britse poging om die Unie uiteindelik weer ’n Britse kolonie onder streng Britse beheer te bring. Daardie Britse strewe het misluk as gevolg van die Afrikaners se wil om uiteindelik weer vry te wees. Die referendum van 1960 het duidelik getoon dat die Afrikaners vry wou wees van die Britse kroon en sy Statebond, terwyl die voormalige Engelse gebiede grootliks teen republiekwording gestem het, veral Natal. Nietemin het die meerderheid ten gunste van ’n republiek besluit en dr. Verwoerd het sy bes probeer om Suid-Afrika binne die Statebond te hou.
Voor sy vertrek na die Statebondskonferensie op 3 Maart 1961 sê dr. Verwoerd in sy afskeidsboodskap: “Ons neem afskeid van Suid-Afrika vir slegs enkele weke, maar ons gaan van hier gesterk deur die steun, vertroue en goeie gesindheid wat so ruimskoots aan ons toegesê is in talle telegramme, telefoonboodskappe en briewe wat ontvang is. Graag wil ek aan almal, Engels- en Afrikaanssprekend, blanke en nie-blank, politieke ondersteuners sowel as teenstanders, my hartlikste dank hiervoor uitspreek.”
Uit hierdie boodskap is dit dus duidelik dat daar wel Engelssprekendes asook nie-blankes was wat dus die republiek ondersteun het en dr. Verwoerd sterkte toegewens het met sy sending. Verder sê hy dat hy kennis geneem het dat hy dalk
in Londen deur betogers verwelkom sou word. Nog u, nog ek hoef daarvan veel notisie te neem. In die miljoenestad, Londen, is dit maklik om groot groepe bymekaar te kry bestaande uit onkundige persone en onoordeelkundige dwepers; professionele en politiek-gemotiveerde betogers, sowel as linksgesinde uitgewekenes uit ander lande.”
Oor sy toekomsvisie vir Suid-Afrika as republiek, sê hy dan verder: “Ek wil aan Suid-Afrika, naas my dank, ook ’n woord van bemoediging bring. Daar is onrus in verskillende dele van Afrika. Baie voel bedreig in hulle bestaan, of is besorg oor die voortbestaan van hulle nasionale identiteit. Die Unie van Suid-Afrika hoef so iets die minste te vrees. Ons beleid is geregtigheid vir almal, nie vir die Bantoe alleen nie – ook vir die blankes en gekleurdes. Dit word beoog deur ons beleid van goeie buurskap, liewer as vermenging. Dit is makliker en beter, sowel vir nasies as mensegroepe wat verskillend is, om as goeie bure naas mekaar te woon as om gedwing te word om een huishouding vol onderlinge twis te vorm.” Suid-Afrika sestig jaar later, in 2021, bewys dr. Verwoerd se profetiese insig volkome reg.
Toe die Suid-Afrikaanse afvaardiging op 16 Maart 1961 die wind van voor kry oor sy aansoek om lid te bly van die Statebond, het dr. Verwoerd by wyse van ’n boodskap aan sy volk die volgende verduideliking gegee: “Byna uit die staanspoor van die
driedaagse bespreking was dit duidelik dat etlike van die Eerste Ministers, veral diegene van die Afro-Asiatiese groep en Kanada, vasbeslote was om dit vir Suid-Afrika moeilik te maak om sy lidmaatskap te behou… Dit was egter baie gou duidelik dat ons teenstanders nie in die materiële of geestelike welsyn van die bantoe, of enige ander bevolkingsgroep, belang gestel het nie, maar vasbeslote was om net op die onderwerp van politieke regte te konsentreer, blykbaar met die doel dat sodanige
regte op ’n gemeenskaplike kieserslys so spoedig moontlik tot die posisie van een-man-een-stem moet lei. Dit was ook duidelik dat hulle net in ’n aanval op Suid-Afrika belang gestel het en enige verwysing na onderdrukking en rassediskriminasie
in hul eie lande, opsy gestoot en geïgnoreer het. Logika en feite het nie by hulle getel nie – net hulle vooroordeel teen Suid-Afrika.” Nog ’n profetiese insig van dr. Verwoerd wat waar geword het.
In sy verdere toespraak tydens sy heildronk op 31 Mei 1961 tydens die banket in Pretoria, het dr. Verwoerd
weer eens sy beleid van regverdige behandeling vir almal duidelik uitgestippel – die pad wat die land sou volg as republiek en met sy eie Staatspresident aan die stuur: “Ek wil graag hê u moet aan Suid-Afrika as ’n vrygewige land dink, ’n land wie se
mense nie net vir hulself lewe nie, ’n land wie se inwoners en Regering dink kragtens almal vir wie hulle verantwoordelik is. Die buitewêreld is geneig om Suid-Afrika as ’n verdrukkende land te sien. U wat hier woon, weet dat dit nie die geval is nie. Ons het verskillende rassegroepe, wat nog in baie opsigte agterlik is, maar nêrens in die wêreld het ’n volk die agterlike mense in sy midde aan die lewe gehou en gepoog om hulle te ontwikkel, soos Suid-Afrika vir geslagte gedoen het nie… “Mag ek u vra om aan Suid-Afrika as ’n eerlike land te dink. Ons kan maklik die wêreld ’n rat voor die oë draai deur oënskynlik beleide te volg wat sy vereistes bevredig, maar wat, wanneer hulle behoorlik nagegaan word, bevind word die teenoorgestelde te wees van wat hulle oppervlakkig skyn te wees, soos in so baie van die lande wat ons kritiseer die geval is. Ons in Suid-Afrika is eerlik omdat ons niks anders kan wees nie. Ons hou daarvan om ons probleme openlik in die oë te staar, om ons beleide duidelik te stel, om te doen wat ons kan vir mekaar en vir onsself, om die hele wêreld in die oë te kyk, indien nodig.
“Mag ek u vra om aan Suid-Afrika te dink as ’n land met standvastige mense, mense wat glo in wat hul sê en probeer doen wat hulle glo wat reg is. Dit mag miskien vir ons baie moeilikheid en misverstand meebring, maar op die lange duur is dit waarheidsliefde en eerlike bedoelinge en duidelikheid van ideale wat van ’n nasie maak wat hy moet wees.
“U, meneer die Staatspresident, is geroepe om die wêreld saam met ons in die oë te kyk en om die wêreld te laat weet dat wat ons ook al doen, ons dit as Christenvolk doen, as mense wat bereid is om ons Christelikheid te bely en om dit uit te lewe volgens ons opvatting van sake. U, meneer die Staatspresident, is die simbool van hierdie volk en mag u en ons almal geleidelik beter verstaan word.”
Dit is die basis waarop die republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961, nou 60 jaar gelede weggespring het.
Waar dr. Verwoerd in sy Oujaarsboodskap van 1961 nog soms bekommerd oorgekom het, was dit ’n jaar later heeltemal anders. Op 31 Desember 1962 sê hy in sy nuwejaarsboodskap: “Oor die verhoudings tussen die verskillende bevolkingsdele versterk die vooruitsigte binnelands. Die koms van die Republiek en die uittrede uit die Statebond het nie die duistere voorspellings van die pessimiste verwesenlik nie. Laasgenoemdes kan nog net probeer om die indruk te laat posvat dat die kloof tussen die twee taalgroepe steeds wyer word. Volgens my ervaring – en dit is baie omvangryk – gebeur juis die teenoorgestelde…
“Met dieselfde vertroue weerlê ek bewerings van hulle wat verbeteringe ontken in die verhouding tussen swart en wit. Hulle laat toe dat die kleinere getalle se lawaaierige beskuldigings en handelinge wat ’n mens erken lelik is, hul oortuigings kleur. Ek
verkies daarenteen om die houding en optrede van die groot massas te neem as die toets van hoe dit gaan met die menslike verhoudings. Geen twyfel kan hoegenaamd bestaan dat die beplanning van Bantoe-ontwikkeling, met insluiting van die bewys
wat die Transkeiplan verskaf het dat dit nie alles blote teorie is nie, aanleiding gegee het tot beter onderlinge begrip en toekomsverwagtings. Net so sien die Kleurlinggemeenskap in toenemende mate raak dat daar groot beloftes skuil in die planne vir hul toekoms. Die Indiërgroep sal hopelik dieselfde insig ontwikkel en daarvan bestaan reeds belowende tekens.
“Kan daar vir optimisme beter regverdiging bestaan? Op ekonomiese, maatskaplike en politieke gebied bestaan heldere planne en beleide wat in toenemende mate vrugte dra op belangrike terreine waar die mens hom laat geld.”
Dus net meer as anderhalf jaar later, het die positiewe resultate van Republiekwording reeds op elke lewensterrein begin wys. Nog vier jaar later, toe dr. Verwoerd vermoor is, het die prentjie nog beter gelyk en was dit waarskynlik die rede waarom hy uit die weg geruim moes word. Op daardie stadium was die ekonomie sterk, Suid-Afrika internasionaal feitlik onaantasbaar na sy oorwinning in die Internasionale Geregshof oor Suidwes-Afrika, en dr. Verwoerd het daardie jaar se algemene verkiesing
met ’n nog groter meerderheid gewen.
Enkele vergelykings
In 1965 verskyn daar ’n ekonomiese oorsig waaruit die blyk dat die Republiek ’n ekonomiese bloeiperiode beleef. Daarvolgens blyk dit dat daardie laaste 5 jaar ’n groeikoers van 5,6% was, hoofsaaklik as gevolg van vordering in die vervaardigingsektor.
Van die oorspronklike Nasionale padbouskema is 94% reeds in 1961 afgehandel – nuwe paaie sonder slaggate.
In 1961 was die rand twee Britse pond werd, vandag het hy teruggesak na ongeveer R20 per pond. Vanaf 1961 tot in 2020 het pryse ongeveer 97 keer gestyg: R100 in 1961 is ongeveer R10 000 in 2021.
In die Republiekjaar was die inflasiekoers 1,9% en voedselinflasie was 2,1%, terwyl daar geen styging was in die prys van klere en skoene nie.
’n Pak mieliemeel van 5kg het 30 sent gekos, vars hoender was 70 sent per kilogram en tamaties 20 sent per kilogram. Die BBP per capita het in daardie jaar met 2,7% gestyg. In 2020 was dit -15,2%.
Werkloosheid in die algemeen was in 1961 17,4%, terwyl slegs swart werkloosheid op 15% gestaan het. Dit het gedaal tot 2,2% in 1966, die jaar waarin dr. Verwoerd vermoor is. Daarvandaan het dit net gestyg, volgens Trevor Bell se 1984-verslag aan die Instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit van Durban-Westville.
Die republiek, deur Afrikaners geskep en bestuur, was goed vir die hele land.
Die huidige republiek, bestuur deur mense wat die resultaat is van swart bevoordeling, “affirmative action” en kader ontplooiing, is sleg en nadelig vir die hele land. Wat opgebou is rondom Republiekwording en daarna as gevolg van die vryheid wat die land gehad het, word meer as net stelselmatig afgebreek.
Die “ou Republiek” van voor 1994, het ’n goeie en gedissiplineerde weermag gehad. Vandag is oorgewig soldate die grap van die nasie; spoorweë was betroubaar en veilig, vandag word treine deur bendes en misdadigers beheer, oorhoofse kabels
word gesteel en treinspore vir skrootyster verkoop. Destyds het die spoorweë werk geskep, so ook staatsinstellings. Vandag word geld geskep deur enigeen wat magtiging het om iets te koop.
Die rand met Van Riebeeck se afbeelding het waarde gehad, die papier met Mandela se gesig op is waardeloos.
President CR Swart was waardig. Die eerste minister kon toekomsvisies deel, praat oor vooruitgang en verbetering. In vandag se tyd is presidente en oud-presidente beskuldigdes in strafsake, vernederde getuies oor staatskaping en is die enigste refrein
in toesprake dat korrupsie uitgeskakel sal word, terwyl niks daarvan gebeur nie, Inteendeel! O ja en moenie vergeet van die hê-mentaliteit. Dr. Verwoerd se republiek wou skep en ontwikkel, die huidige heersers wil onteien, steel en vat.
Die SA Polisie en SA Spoorwegpolisie was gerespekteerde handhawers van wet en orde, vir wie daar respek was. Oorgewig en slapende polisielede is deesdae die onderwerp van video’s op sosiale media en as hulle en die weermag mense in die Covid tyd op strande kan terroriseer, is hulle in hulle element – met goedkeuring van die minister van polisie aan wie daar ooglopend min waardigheid kleef as na sy optrede en uitsprake geluister word.
In die “ou Republiek” is universiteite en skole gebou. Tans word dit afgebrand, gevandaliseer of besteel. Kwalifikasies was wêreldwyd gerespekteer, vandag is dit nouliks die papier werd waarop dit gedruk is.
SA Lugdiens se oranje sterte was ’n trots op elke lughawe, diens was goed en hulle het gevlieg. Tans is SAA in sakeredding en veg vir oorlewing as gevolg van wanbestuur deur onbekwame swart bevoordelingskandidate. So ook Prasa, Eskom, Poskantoor, Denel en ander, wat die trots was van ondernemingsgees en intellektuele kundigheid in die Republiek.
Brandstof is uit steenkool vervaardig en YSKOR is ontwikkel en het werk aan derduisende gegee – totdat dit in die ANC-republiek verkwansel is aan Indiërs.
Al wat van die modelrepubliek van 1961 oorgebly het, is ’n republiek van skandes – die een openbare skandaal na die ander waarby elke vlak van regering betrek word.
Waar dr. Verwoerd op 31 Mei 1961 tydens die staatsbanket en heildronk op die Staatspresident nog kon sê: “Wanneer ek u vra om aan Suid-Afrika te dink, wil ek graag hê dat u aan Suid-Afrika moet dink as hierdie pragtige land waarin ons woon; die
land wat ons so lief het;… die land van ruwe berge en wydgestrekte grasvelde met hul talryke pragtige diere wat ons probeer om vir die nageslagte te bewaar…Dink aan hierdie skone Suid-Afrika met sy blou lug, sy wit strande wat om ons land strek, met skoonheid oral en soms ook ruheid, wat versag as met liefde daarna gekyk word.”
Wat vandag daarvan oor is, is lugbesoedeling deur lukraak mynwese, grasvlaktes en landbougrond wat oop en vuil steenkoolmyne geword het waarvan die Guptas die meeste voordeel trek. Daar word nie met liefde na ons riviere gekyk nie, want plaaslike owerhede stort rou ongesuiwerde riool daarin, sodat die pragtige diere wat ons moes bewaar het vir die nageslagte, vrek as hulle daardie water drink. Republiek van skandes!
Die Afrikaner 21 Mei 2021