Pretoria ook nou bankrot. 

R9 miljard se belastinggeld is in twee jaar gesteel en die  graderingsagentskap Moody’s het die land se hoofstad se kredietgradering afgegradeer van Ba3 na B1, wat beteken dat waar die stad voorheen ’n beduidende kredietrisiko was, hy nou geklassifiseer word as ’n hoë kredietrisiko.

Die ouditeur-generaal het die diefstal van R9 miljard openbaar aan die parlementêre komitee vir maatskaplike ontwikkeling. Hy het bekendgemaak dat daar “nie rekenskap” gegee kan word van die
bykans R9 miljard se belastinggeld vir die twee jare 2018 en 2019 nie. Verskeie staatsdepartemente en ander staatsentiteite word daarvoor aanspreeklik gehou, en “die regte verkrygingsprosedures word dikwels nie gevolg nie. Dit lei daartoe dat kostes opgeblaas word en dat diensverskaffers nie hul verpligtinge nakom nie,” is die verduideliking wat aangebied is. Geen name is in die verband genoem nie. Intussen blyk dit dat daar by Eskom net so woes gesteel is, sodanig dat die Nasionale  vervolgingsgesag ingevolge die Wet op die Voorkoming van 
Misdaad ‘n beperkingsbevel van R1,4 miljard bekom teen voormalige Eskom-base en kontrakteurs van die voormalige Tubular  onstruksie. Hulle sluit in Eskom se voormalige senior bestuurder van  kapitaalkontrakte, France Hlakudi, die voormalige groepuitvoerende
hoof van Eskom se kapitaalprojekte, Abram Masango, die voormalige hoof van Tubular konstruksie, Antonio Trindade, die sakeman Maphoko Kgomoeswana en die voormalige raadgewer vir Tubular Holdings, Michael Lomas. Van hul eggenotes word ook aangekla.

Daarbenewens is sowat R33 miljoen se belastinggeld vermors op ’n mislukte sogenaamde agripark in Westonaria. Dié bedrag is die  afgelope vier jaar bestee om varsprodukte soos spinasie en  blaarslaai deur middel van ‘n vertikale hidroponikastelsel in die agripark te kweek. Van die kweektonnels is daar feitlik niks oor nie en slegs hier en daar het daar ’n paar plantjies blaarslaai en kool oorgebly. Die premier van Gauteng, David Makhura, het in sy provinsiale rede aangedui dat hy nog soortgelyke agriparke
wil ontwikkel, sogenaamd om voedselsekuriteit en werkskepping in die landbousektor te verseker.

Die minister van onderwys, Angie Motshekga, moes erken dat ’n 100% terugkeer van leerlinge na skole nie haalbaar is nie. Tydens die sluiting van die skole tydens die Covid-gevangenskap is talle skole sodanig geplunder dat hulle nie ten volle kon heropen nie en verskeie sal waarskynlik nie meer kan open nie tensy daar etlike miljoene rande se herstelwerk gedoen word. Die staatskas is egter leeg besteel, sodat daar geen geld meer oor is nie en die bietjie wat daar nog oor is, word deur die geklike eise van die vakbonde opgeëis vir salarisverhogings vir stelende en nie-werkende amptenare. 

Selfs by SARS, wat die geld van belastingbetalers moet invorder, gaan dit so beroerd dat werknemers se salarisse nog nie eens vir einde April betaal is nie.

In Nelspruit staan die voormalige minister Bongani Bongo saam met elf ander tereg op 69 klagtes van korrupsie, bedrog, diefstal, geldwassery en oortredings in verband met die Openbare Finansies
Bestuurswet. Die klomp word verbind met ’n koop en verkoop van ’n R37,5 miljoen plaas in Oos-Transvaal. Bongi se voormalige vrou Sandile Nkosi is saam met hom gearresteer en die ander is sy broer Sipho, Robert Burwise, Patrick Donald Chirwa, Harrington Sizwakhendaba Dhlamini, Blessing Mduduzi Singwane, David Boy Dube, Vusi Willem Magagula, Bongani Louis Henry Sibiya, Elmon Lawrence Mdaka en Sibongile Mercy Mdaka. 

Selfs Cyril Ramaphosa moes as ANC-president voor die Staatskapingskommissie van regter Zondo erken dat die ANC geknou word deur korrupsie. Dit is dus sy eie mense en partygenote wat daarvoor verantwoordelik is. Die feit dat Ace Magashule nou uit die ANC geskors is omdat hy ook nog teregstaan op talle klagtes wat verband hou met bedrog, diefstal en korrupsie, sal nie die beeld van die ANC as ’n korrupte bende verbeter nie, meen waarnemers.

Pretoria se afgradering deur Moody’s is te wyte aan veral die ANC-bestuur van die stad. Die tyd toe die opposisie-koalisie die stad  bestuur het, was dit ook nie maanskyn en rose nie, maar dit was effe
beter, maar sedert die ANC se administrasie weer oorgeneem het, het dit slegter gegaan. Die ekonoom Dawie Roodt verwag dat die inwoners weer gaan moet opdok deur verhoogde belasting en dienstefooie. Terwyl dit bekend is dat Mamelodi, Eersterust, Soshanguve en ander reeds miljoene agterstallig is met hulle rekening betalings, kan ’n blinde met ’n stok sien wie hierdie verhoogde tariewe moet opdok.

Kunstenaars kla dat hulle ook nie geld gekry het soos belowe in die inperkingstyd nie en die vermoede is dat daardie geld ook reeds tussen neus en ore verdwyn het. Die grootste diefstal lê egter nog voor wanneer wetgewing aanvaar gaan word om onteiening van enige eiendom moontlik te maak sonder vergoeding.