Andries Breytenbach

 Artikel 4 van ons beginsels handel oor die instelling, doel en gesag van ’n Afrikanerstaat. Dit lui soos volg:

 4.1 Die HNP streef na die vestiging van ’n eie, soewereine staat vir die Afrikaner- ofte wel Boerevolk in ’n eie vaderland onder ‘n volkseie

owerheid. Sodanige staat sal gevestig word met die doel dat die staat al die opdragte vervat in die Woord van God om die goeie te doen
en die deurwerking van die kwaad te stuit, sal nakom.

4.2 Daarom word die reg van die owerheid om die swaard te dra, erken en aanvaar omdat die owerheid sy gesag van God ontvang en in die eerste plek aan God verantwoording verskuldig is vir die manier waarop hy sy dienswerk uitvoer. In die tweede plek is die owerheid ook verantwoording verskuldig aan die volk wat hom
daarstel.

In art. 4.1 word ons volk se verbintenis tot nasionale vryheid ondubbelsinnig uitgedruk. Wyle genl. JBM Hertzog het by geleentheid gesê dat die strewe na vryheid die hoogste ideaal is waarna ʼn volk kan streef. Hierdie vryheidsideaal was die dryfveer
agter die Groot Trek, die bloedige vryheidsoorloë, die 1914-rebellie en die lang politieke stryd ná die Tweede Vryheidsoorlog totdat ons in 1961 weer ʼn republiek geword het.

Dit verstom ʼn mens dat ons volk ons roemryke geskiedenis so maklik kon vergeet en toegelaat het — selfs aktief meegewerk het — om ons vryheid sommerso prys te gee, en die politieke gesag oor ons land en volk aan ʼn swart massa onder aanvoering van ʼn kommunistiese bende terroriste oor te dra. As daar ʼn sonde van hierdie volk is wat met groot erns bely moet word, is dit hierdie een.

Eweneens is dit verstommend dat volksgenote wat hulle weliswaar vir “selfbeskikking” beywer, kan kibbel oor wát “selfbeskikking” nou eintlik beteken en wat ons in die huidige omstandighede moet probeer bereik: is dit interne selfbeskikking? Is dit kulturele selfbeskikking? Is daar dalk ander “modelle” of vorms van “selfbeskikking” behalwe die tradisionele wat ons altyd nagestreef het? Die “nuwe wêreld” vereis mos glo “nuwe denke” oor dié sake. In werklikheid is dit alles ʼn gespeel met woorde om ons aandag af te lei van die een duidelike ideaal waarvoor ʼn volk met selfrespek alles veil moet hê, naamlik die vestiging van ’n eie, soewereine republiek vir óns volk in ’n eie vaderland onder ʼn volkseie owerheid — en onder ‘n Grondwet vir die land wat die oppergesag van God erken. Die wette wat ons bestaan reguleer, moet dus op die grondslag van Gods Woord berus, en nie op ‘n sekulêre grondwet wat God en sy Woord misken nie. Slegs dan kan die volk se morele waardes erkenning en beskerming geniet op alle vlakke van die volkslewe. In dié republiek sal ons self besluit wat vir ons volk reg en verkeerd is en daarvolgens sal ons ons regstelsel en maatskaplike orde bepaal. Ons begrip van reg en verkeerd is nie willekeurig nie, dit spruit uit ons geloof in God en ons verstaan van sy Woord, asook ons oorgeërfde Westerse
godsdiens, kultuur en regsopvattinge. 

Dit spreek vanself dat die owerheid wat hier in die gedagte is, ʼn  volkseie owerheid is, gekies deur die volk en uit die volk, en een wat sy  verantwoordelikheid teenoor God, van Wie hy sy gesag ontvang,
en teenoor die volk wat hom verkies, ken en nakom. Oor hierdie saak (die verband tussen God wat die gesag gee en die volk wat die owerheid kies) kan veel en diep gefilosofeer word. Hierdie is nie die
plek daarvoor nie. Hier word slegs die beginsel gestel dat owerhede ʼn instelling van God is en dat hulle met gesag beklee word om te verseker dat orde in die samelewing gehandhaaf word. Daarom
kon Jesus aan Pilatus, wat sy eie magsposisie aan Hom voorgehou het, sê: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van Bo gegee was nie.” Daardie uitspraak was ook ʼn vermaning aan Pilatus (en enige
ander owerheid) om die mag waarmee dit beklee word, reg en met Godsvrees te gebruik.

Die erkenning dat die owerheid sy gesag van God ontvang, ontneem ons nie die reg en verpligting om ons te beywer vir vervanging van ʼn volksvreemde owerheid met ʼn volkseie een, of vervanging van  ’n slegte owerheid met ʼn goeie een nie. Inteendeel, met betrekking hiermee het ons ʼn dure plig, en nou moet ons nie die Here beskuldig  vir die gemors waarin ons ons bevind nie; dit was die  kiesers se klakkelose stemmery vir die verloopte NP toe dit reeds duidelik was waarheen hulle besig was om die land te lei, wat ons daarin gedompel het. Volgende keer kyk ons na die verhouding tussen ʼn Afrikanerowerheid en sy burgery en hulle onderskeie
verantwoordelikhede.