Mnr AE Breytenbach

Artikel 5 van die HNP se program van beginsels handel oor die verantwoordelikheid van die burgery,
d.w.s. die burgers van ʼn Christelike volk, soos wat ons volk onsself graag gesien het. Dit bepaal soos volg:

5 Verantwoordelikheid van die burgery

Die burgery moet aan die owerheid gehoorsaam wees in alles wat nie strydig met die wet van God en die eise van reg en geregtigheid is nie. Die volk is medeverantwoordelik vir die beleid en dade van die owerheid wat hy gekies het. Daarom moet die stemgeregtigde burgers steeds die beleid en dade van die owerheid toets aan die wet van God en vir hierdie doel hulle kritiek en burgerregte uitoefen.

Nogal ʼn mondvol, en vir sommige mense omstrede, want, sê hulle, Romeine 13 sê “elke mens moet hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is”, en, voeg hulle by, die Romeinse owerheid was ʼn heidense regering. Die HNP lees egter die hele Bybel, en ruk nie net enkele teksgedeeltes uit verband nie, daarom word met reg bepaal dat die gehoorsaamheid net verskuldig is ten opsigte van “alles wat nie strydig met die wet van God en die eise van reg en geregtigheid is nie”. Petrus en die apostels het dit ook so verstaan en daarom kon hulle vir die Joodse Raad sê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand.5:29). Op grond van dié beginsel het baie martelare gekies om eerder op die brandstapel en ander wrede maniere te sterf, as om blindelings die Romeinse keiser se wette in stryd met God se wet, te gehoorsaam. Die Bybel en die geskiedenis is vol soortgelyke voorbeelde.

Hoe nou gemaak in die tydsgewrig en omstandighede waarin ons volk ons bevind, onder ʼn heidense owerheid wat ʼn grondwet vir die land daargestel het wat bepaal dat dit die “hoogste reg van die Republiek” is; dat “enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, ongeldig is; en dat die verpligtinge daardeur opgelê, nagekom moet word?”

Weer eens is dit duidelik dat die HNP se beginsels nie slegs vir ʼn politieke party nie, maar vir die Boere/Afrikanervolk, synde ʼn Christelike volk, geskryf is. Die sekulêre grondwet van die land druis vierkantig in teen ons volk se geestelike erfenis en karakter. Daarom kon die Boere-Afrikanervolksraad prontuit verklaar: “Onderwerping aan ʼn Grondwet wat beginsels en norme daarstel en wette voortbring wat in stryd is met ons godsdienstige en morele opvattinge, is onreg, en uit Bybelse oogpunt gesien, sonde”.1

Dit plaas Christene voor die baie moeilike keuse om sekere wette wat gemaak word, te ignoreer en die gevolge te dra of willens en wetens hul gewetes geweld aan te doen — byvoorbeeld ongebore babas deur onnodige aborsies te vermoor — en hul optrede te rasionaliseer met die argument dat dit nou “wet is”.

In dié verband is dit interessant dat selfs die sekulêre reg die beginsel aanvaar dat wanneer ʼn persoon wat onder gesag staan (bv. militêre gesag), ʼn bevel ontvang om iets te doen wat onwettig sou wees, hy moet weier om dit uit te voer en die gevolge van sy weiering moet dra, eerder as om onwettig op te tree en die erger gevolge daarvan in die gesig te staar. Om dus onwettig op te tree en daarna in ʼn hof aan te voer dat hy onder opdrag opgetree het, word nie as ʼn verweer aanvaar nie. Op grond van dié beginsel is Duitse offisiere in die Neurenberg-verhore gestraf en is ook Suid-Afrikaners wat in die vorige era opdragte uitgevoer het, vervolg. Dink maar aan die volgehoue regsteistering van ʼn man soos dr. Wouter Basson.

Aanvaar ons wat verder in die Program van Beginsels staan, naamlik

“Die volk is medeverantwoordelik vir die beleid
en dade van die owerheid wat hy gekies het.
Daarom moet die stemgeregtigde burgers steeds
die beleid en dade van die owerheid toets aan
die wet van God en vir hierdie doel hulle kritiek
en burgerregte uitoefen”,

dan besef ons wat ʼn geweldige oordeel en ellende ons volk in die breë oor onsself gehaal het toe so ʼn groot deel van die volk versuim het om die verantwoordelikheid wat dié beginsel op ons lê, na te kom.

Dit was wyle mnr. “Jolly Johnny” Vorster (onthou iemand hom nog?) wat by geleentheid vir die kiesers gesê het dat al stel die NP ʼn besemstok as kandidaat, dan moet die kiesers vir hom stem, want dit is ʼn NP-besemstok. En so het dit gekom dat die NP-banke in die volksraad mettertyd gevul is met besemstokke wat maar klakkeloos een na die ander van daardie vrot prokureur van Vereeniging se onwettige wette wat in stryd was met die toe heersende grondwet, goedgekeur en die politieke gesag oor ons land aan die ANC-terroriste oorhandig het. Dan wonder ons nog hoekom dit met ons gaan soos dit gaan!

Die verantwoordelikheid van ’n Afrikanerowerheid

Aangesien die staat die openbare regsgemeenskap is, is dit — met inagneming van die feit dat die owerheid se taak en gesag nie onbeperk is nie en ook nooit in absolutisme mag ontaard nie — die taak van die owerheid om:

5.1 die publieke reg te handhaaf en die veelheid van regsbelange binne sy grondgebied in
ewewig te hou;

5.2 volgens Christelike norme ’n openbare orde te handhaaf waarbinne die Afrikanervolk sy
roeping, taak en ideale kan uitleef;

5.3 te waak teen elke vorm van vreemde oorheersing — hetsy dit geestelik, polities, ekonomies,
kultureel of fisies is;

5.4 onderworpe daaraan dat die soewereiniteitvan die staat eerbiedig word, volle burgervryheid
aan die volk te verseker;

5.5 op alle lewensterreine hulp aan die volk of gemeenskappe te gee sodat selfstandigheid bevorder en staatsafhanklikheid vermy word;

5.6 die onafhanklikheid en onpartydigheid van die regbank te handhaaf en te eerbiedig; en

5.7 noulettend te waak teen enige skending van die soewereiniteit en onafhanklikheid van die Afrikaner-vaderland en moet alles wat hiermee strydig is, met alle geoorloofde middele bestry word.