Andries Breytenbach

Nadat die verhouding tussen die volk en die owerheid uitgespel is, kom ons verhouding
met ander volke aan die beurt.

7 Die Afrikanervolk en ander volke

7.1 Die samelewing in Suid-Afrika na 1994 is ’n saamvoeging van ’n veelheid van volke, gemeenskappe en stamme wat ten opsigte van ras, taal, godsdiens en kultuur verskil. Die strewe om al daardie eiesoortiges tot ’n enkele nasie te integreer deur middel van algemene stemreg onder ’n sentrale owerheid het geen kans op sukses nie. Terselfdertyd is dit in stryd met die erkende reg op die voortbestaan en selfbeskikking van volke en gemeenskappe.

7.2 Die geskiedenis van Afrika is ’n aanskouingsles van die mislukte pogings om uiteenlopende volke, groepe en gemeenskappe in een parlementêre demokrasie te akkommodeer.

7.3 Die geskiedenis van die Sowjetunie en verskillende state in Sentraal- en Oos-Europa het getoon dat kulturele, godsdienstige en historiese verskille vernietigend kan ingryp in samelewings waar gepoog is om duidelike uiteenlopende volke, groepe en gemeenskappe kunsmatig te integreer.

7.4 Daarom streef die HNP daarna om die Afrikanervolk op ’n vreedsame wyse uit te lei uit die slawehuis waarin die Afrikaner vanaf 1994 vasgekeer is. Aangesien die Afrikaner die enigste blanke volk is wat hier te lande gebore is en by uitstek die draer van die Christelik-nasionale lewensbeskouing is en aangesien die Afrikaner weens sy eiesoortigheid geen regstreekse versterking van buite kan ontvang nie, wil die HNP deur onttrekking van die Afrikanervolk uit die multi-kulturele, nie-Christelike gemeenskap wat in 1994 in Suid-Afrika geskep is, sorg dat die Afrikaanse taal, kultuur en lewens- en wêreldbeskouing gehandhaaf word en die nasionale en kultuuridentiteit van die Afrikanerdom ongeskonde bewaar bly en groei.

7.5 Die HNP wil by die Afrikaner sy kragtige besef van nasionale selfstandigheid en vryheid stimuleer
en verder ontwikkel sodat die Afrikaners hulle nasionale identiteit sal handhaaf en uitbou.

7.6 In sy betrekkinge met ander state en volkere moet die owerheid sorg:

7.6.1 dat die belange van die eie staat en volk te alle tye vooropgestel word.
7.6.2 dat die soewereiniteit en onafhanklikheid van die eie staat in geen opsig aangetas word
nie;
7.6.3 dat daar te alle tye regsgelykheid tussen die betrokke partye is; en
7.6.4 dat geen inbreuk op ons Christelik-nasionale karakter en tradisionele lewenspatroon
gemaak word nie.

7.7 Immigrasie moet daarop gerig wees om die blanke beskawing uit te bou en dit moet streng beheer word ten einde die Protestantse karakter van ons volk te beskerm.

Bostaande beginsel is so duidelik uiteengesit dat dit eintlik geen verduideliking of toeligting behoef nie en daar dus met enkele opmerkings volstaan kan word. Aan die ander kant is verhoudinge tussen volkere ʼn saak wat al van die vroegste tye af tot op hierdie dag tot vernietigende oorloë en bloedvergieting gelei het en steeds lei. Ontelbare boeke en artikels is al daaroor geskryf en nasionale en internasionale konvensies en verdrae is geformuleer om dit te reël. Verhoudinge tussen volkere is dus geen geringe saak nie. Wat die Afrikanervolk betref, het ons godsdienstige opvattinge en ons verstaan van die Bybel enersyds, en ons praktiese lewenservaring andersyds, van vroeg af die besef by ons tuisgebring dat soort by soort hoort. In ʼn geografiese gebied wat deur verskillende volke met hul eiesoortige aard en kulture bewoon word (soos Suider Afrika), is staatkundige skeiding en onderlinge respek vir mekaar die beste resep vir vrede tussen daardie volkere en vir elkeen se welvaart en oorlewing. Daarenteen toon die geskiedenis in haas elke wêrelddeel dat ʼn gedwonge samevoeging van volke met uiteenlopende aard en kultuur tot veronregting, haat en rewolusie lei. Daarom het ons voorouers uit die Kaap getrek met die doel om vir hulle ʼn staat te vestig waar hulle hulleself kon regeer ten einde hulle “vry te hou van alle wette en gewoontes van
ander nasies, wat in stryd is met ons gewete en nasionale gevoel, en wat onbehoorlik in ons oë is”, en was dit hulle voorneme om in goeie buurskap met die volke om en langs hulle te leef. Dít is steeds ons basiese strewe.