In die vorige aflewering het ons gekyk na die verantwoordelikheid van die burgery van ʼn Christelike volk (art. 5).

Die HNP — en trouens die Boere/Afrikanervolk — se beskouing oor hoe ons volk regeer wil en behoort
te word, word in artikel 6 van sy Program van Beginsels, naamlik Die verantwoordelikheid van
’n Afrikanerowerheid
uitgespel.

“Aangesien die staat die openbare regsgemeenskap is, is dit — met inagneming van die feit dat die owerheid se taak en gesag nie onbeperk is nie en ook nooit in absolutisme mag ontaard nie — die taak van die owerheid om:

6.1 die publieke reg te handhaaf en die veelheid van regsbelange binne sy grondgebied
in ewewig te hou;

6.2 volgens Christelike norme ’n openbare orde te handhaaf waarbinne die Afrikanervolk
sy roeping, taak en ideale kan uitleef;

6.3 te waak teen elke vorm van vreemde oorheersing — hetsy dit geestelik, polities,
ekonomies, kultureel of fisies is;

6.4 onderworpe daaraan dat die soewereiniteit van die staat eerbiedig word, volle burgervryheid
aan die volk te verseker;

6.5 op alle lewensterreine hulp aan die volk of gemeenskappe te gee sodat selfstandigheid
bevorder en staatsafhanklikheid vermy word;

6.6 die onafhanklikheid en onpartydigheid van die regbank te handhaaf en te eerbiedig;

6.7 noulettend te waak teen enige skending van die soewereiniteit en onafhanklikheid van die Afrikaner-vaderland en moet alles wat hiermee strydig is, met alle geoorloofde middele bestry word. “

Eenvoudig gestel, sê hierdie artikel met sy subartikels dat die owerheid daargestel word as regering vir almal in sy magsgebied, en nie, soos die Kommuniste glo, net vir sy ondersteuners en die klompie regeringslede, terwyl die res van die bevolking maar verwaarloos, vertrap en uitgebuit kan word nie. Dit kom daarop neer dat die regering met dieselfde aandag en toewyding na al die volke en kulturele gemeenskappe onder sy gesag, se belange moet omsien.

Sommige gemeenskappe of volke se belange mag dus nie afgeskeep en dié van ander bevoordeel word nie. Dit beteken egter NIE dat die verskille en verskillende behoeftes wat tussen volke en gemeenskappe bestaan, geïgnoreer mag word en almal oor dieselfde kam geskeer moet word, asof almal dieselfde is nie. Dit sal ʼn ontkenning van die werklikheid en uiteindelik onregverdig teenoor almal wees, soos wat ons tans in die huidige bedeling ervaar. Veel beter en regverdiger is dit dat sodanige verskille juis in ag geneem en gerespekteer moet word en dat elke groep volgens sy eie aard en behoeftes behandel moet word. Dit was dan ook die grondliggende rede vir die verstandige en regverdige beleid van afsonderlike ontwikkeling. Die Boere-Afrikanervolksraad het hieroor in sy vryheidseis die volgende standpunt gestel:

“Die Boere-Afrikanervolk se Westerse herkoms, sy eiesoortige geskiedenis, sy geestelike waardes, norme en opvattinge trek ‘n radikale verskil tussen dié volk en die Afrika-konglomerasie met sy andersoortige ontwikkelingsgeskiedenis en geestesagtergrond. Dit is daarom in ons oë verkeerd en ongeregtig om ons volk in een konstitusionele bestel met ander volke of ‘n konglomerasie van volke saam te dwing en aan hulle te onderwerp. Derhalwe verklaar ons dat ons nie kán en nie wíl deel wees van ‘n gemeenskaplike nasie met ander volke binne dieselfde grondgebied nie.”

Voorts moet die owerheid volgens Christelike norme die openbare orde handhaaf.

Dit vereis dat die polisie en die regstelsel bemagtig moet word om wetteloosheid, plundering, brandstigting en anargie — soos wat ons in hierdie bedeling telkens tydens betogings sien gebeur — vas te vat en uit te roei. Dié soort ding is nie deel van ons volk se kultuur nie en daar moet gewaak word dat dit nie onder die invloed van die wêreldwye “menseregte”kultuur onder ons posvat nie.

Terwyl die onafhanklikheid en onpartydigheid van die regbank gehandhaaf en eerbiedig moet word, moet ʼn regsorde daargestel word waarbinne die wetsgehoorsame burgery beskerm, en die misdadigers na behore gestraf en tot orde geroep word. Die burgery moet geregtig wees om hulle en hulle geliefdes se lewens en goed met die middele tot hul beskikking te beskerm sonder vrees vir vervolging.

Daarenteen moet misdadigers weet dat hulle hulle kwalik op enige “regte” kan beroep as hulle deur hulle optrede ander mense se regte misken en aantas.

Onderworpe daaraan dat die soewereiniteit van die staat eerbiedig word, moet die owerheid volle eiendomsreg en burgervryheid aan die volk verseker; en op alle lewensterreine hulp aan die volk of gemeenskappe verskaf sodat selfstandigheid bevorder en afhanklikheid van die staat vermy word. ʼn Volk wat so afhanklik van die staat raak dat hy sy
vermoë tot selfstandige denke en optrede verloor, is kwesbaar en word maklik aan die neus gelei en uiteindelik verslaaf.

Ten slotte moet die owerheid noulettend waak teen enige skending van die soewereiniteit en onafhanklikheid van die Afrikaner-vaderland asook teen elke vorm van vreemde oorheersing — hetsy dit geestelik, polities, ekonomies, kultureel of fisies is. Alles wat hiermee strydig is, moet met alle geoorloofde middele bestry word.

In dié verband moet opgemerk word dat ons volk ons vryheid verloor het omdat ons ons van ons vroegste tye af afhanklik gemaak het van volksvreemde arbeid. As gevolg daarvan het ons uiteindelik ons vryheid en politieke seggenskap oor
onsself en ons land verloor. Benewens ons afhanklikheid van vreemde arbeid, was ons volk ook nog nooit ekonomies werklik baas van ons eie bates nie — dit was van die begin af hoofsaaklik in die hande van volksvreemde geldmagnate, wat dit téén ons volk en ons belange aangewend het. Dink maar aan die gespuis wat die Jameson-inval georganiseer en befonds het,
en nader aan ons eie tyd, Oppenheimer en sy geesgenote se ryk.

In die nuwe republiek waarna ons streef, sal daar ten opsigte van sake soos hierdie ʼn totaal nuwe kultuur geskep moet word. Plekke soos Orania en Kleinfontein bewys dat dit moontlik is, maar toon terselfdertyd dat dit wilskrag verg en allesbehalwe ʼn maklike proses is.