O, moedertaal, o, soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks wat my siel ooit so bekoor.
O, moedertaal, o, soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.

Wanneer laas het ons volk hierdie lied gesing? Laat ons eerlik wees, die volk ken dit nie meer nie — miskien nog die ouer geslag, maar by volksgeleenthede waar ons bymekaarkom, staan ons volksgenote jonger as 30 oor die algemeen met hul monde vol tande. Party maak die lippe maar oop en toe sonder enige klank, dan lyk dit darem of jy sing, maar hoe raak iets jou siel of hoe druk jy jou innerlike gevoel en oortuiging uit as jy nie kan saamsing nie? Dankie tog vir die klompie CVO-leerlinge en dié wat jaarliks by Majuba of die AVKB se Skilpaddopkamp uitkom! Toe die verowerde Boererepublieke, Transvaal en die Vrystaat, in 1910 in ʼn Unie van Suid-Afrika saamgebondel is met die Britse kolonies, Kaapland en Natal — wat ook deur die Engelse van ons gesteel is — is deur die onversetlike aandrang van die Boeregeneraals Afrikaans (daardie tyd Afrikaans, in sy voorloperstadium van Afrikaans) en die ou, gevestigde taal, Engels, die taal van die veroweraar, baie teen die Engelse se sin as amptelike tale met gelyke status in die Grondwet van die nuwe Unie ingeskryf. Maar namate Afrikaans gegroei en ontwikkel het (want ons volk het gegroei, ten spyte van die geweldige slag wat ons in die Vryheidsoorlog toegedien is toe ʼn hele jong geslag in Brittanje se helkampe uitgemoor is), is die voorlopertaal deur Afrikaans ingehaal totdat Afrikaans op 8 Mei 1925 amptelik in die Grondwet van ons land in die plek van Hollands as amptelike taal (maar steeds naas Engels) opgeneem is. Dit was elf jaar nadat CJ Langenhoven die roerende pleidooi gelewer het wat ek hieronder aanhaal. Om daardie punt te bereik, was nie ʼn maklike stryd nie, maar danksy die volhardende stryders is die oorwinning behaal. Maklik was dit nie, veral omdat daar Afrikaners was met Engelse harte en Afrikaners met Hollandse harte, en dan, dank die Heer! Ook Afrikaners met Afrikaanse harte. Seker een van die mooiste pleidooie wat ooit vir Afrikaans gelewer is, was dié van CJ Langenhoven by die vyfde jaarvergadering van “De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst” aan die begin van Julie 1914. Ironies genoeg, is die notule en alle verrigtinge van “De Akademie” in Hollands genotuleer, ja, selfs dat “aan de heer Langenhoven
nu toegestaan zijn lezing (getitel ‘Afrikaans als Voertaal’) voor te dragen”. Dié lesing was eintlik voorberei ter ondersteuning van die beskrywingspunt wat hy ingedien het, naamlik “De Akademie bespreke de wenselikheid van het geleidelike invoeren van Afrikaans als medium by het Lager Onderwys”.

Dit was ʼn langerige en oortuigende lesing, in goeie Afrikaans gelewer, en afgesluit met die volgende woorde:

“Ek het nie ʼn tiende gesê van wat ek wou gesê
het nie, maar ek het reeds vér meer as te veel
van u tyd in beslag geneem. Ek is jammer, menere,
dat ek dit gedoen het; en nog jammerder
omdat die nie nodig moes gewees het vir my
om dit te doen nie — vir my nie en vir u nie. Dit
was die allerlaaste pleidooi waarvoor ooit geleentheid
of noodsaaklikheid moes bestaan het:
die smeekstem van ʼn Afrikaner met mede-Afrikaners
om te erken wat syne en hulle sʼn is, wat
dit tog maar altyd sal bly, wat nie van die gehalte
is om ons voor te skaam nie.
Te skaam nie, menere! Skande op daardie skaamte!
Dis ons kostelikste roem, ons hoogste besitting:
die één enigste witmanstaal wat in Suid-
Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar
gekom het nie, wat die spore van die lief en leed
dra van alles wat ons en ons vadere hier deurleef
en deurworstel en deurtriomfeer het; die één
band wat ons as nasie aanmekaar heg; die uitgedrukte
siel van ons volk.”

Baie ander en roerende dinge is al oor en in Afrikaans gesê, maar ek weet net van één man wat die moed van sy oortuiging gehad het om formeel in die Suid-Afrikaanse parlement voor te stel dat Afrikaans verhef moet word tot sy regmatige plek,
naamlik as die énigste amptelike taal van die Republiek. Die man was mnr. Louis Stofberg, wat opgetree het as die enigste Volksraadslid van die HNP. Hy kon sy pleidooi lewer op grond van die HNP se beginsel oor die Afrikaanse taal. In daardie stadium het dit min of meer soos volg gelui:

“Daarom moet die owerheid Afrikaans as amptelike taal handhaaf, Engels as tweede taal erken en die bestudering van ander tale aanmoedig.” Ons was toe al só aan die Engelstalige wêreld verknog dat, sover ek kan onthou, nie een van die ander lede van daardie vergadering die voorstel wou steun nie. Ná die fiasko van 1994 het ons die artikel hersien sodat dit nou soos volg lees:

8 Die Afrikaanse Taal

8.1 Die HNP erken Afrikaans as ’n inheemse taal van Afrika en as ’n kultuurtaal wat anders
is as al die ander inheemse tale.

8.2 Afrikaans is die enigste Westerse taal wat in Afrika sy beslag gekry het. Dit is die taal:

8.2.1 waarin die vryheidstryd teen die Engelse imperialisme en verdrukking gevoer is;

8.2.2 waarin die groot staatkundige, maatskaplikeen ekonomiese ontwikkeling plaasgevindhet;

8.2.3 wat sy stempel afgedruk het op duisende plase, dorpe en stede van die land met hul tipiese Afrikaanse name;

8.2.4 wat die riviere en berge, bome en plantegroei, visse, voëls en diere van die land hul name gegee het; en

8.2.5 wat terme, woorde en uitdrukkings bevat om tegnologie, wetenskap en ekonomie te beskryf en wat elke volk die morele reg gee om oor homself te regeer omdat hy ten volle kan kommunikeer.

8.3 Dit gee aan Afrikaans ’n onvervreembare en unieke reg en sal daarom die enigste amptelike taal in die Afrikanervaderland, waarna gestreef word, wees.

8.4 Immigrante kan slegs burgerskap van die Afrikanerstaat ontvang indien hulle in staat is om die Afrikaanse taal op ʼn bevredigende vlak te lees, skryf en praat.

Afrikaanses met Engelse, bruin en swart harte is daar vandag nog. Hulle is nie Afrikaners nie, al praat hulle dieselfde taal as ons. Maar dank die Heer! Daar is steeds die Afrikaners met Afrikaanse harte. Hulle sal die toekoms bou, en is daar één wat dié beginsel vandag en in die toekoms nie van harte sal onderskryf nie?