

Wat het in 183 jaar verander?
Die leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach, het ’n ope brief aan die land se staatshoof gestuur na aanleiding van dié se toespraak met “die land se mense” or die geweld wat tans heers. Nadat Cyril Ramaphosa se voorganger, Jacob Zuma, tronk toe is weens minagting van die hof, het die Zoeloes in Natal in opstand gekom, aanvanklik vragmotors uitgebrand en later begin om winkels te stroop en te plunder en aan die brand te steek. Dit het versprei na die Witwatersrand waar daar ook baie Zoeloes woon wat tradisioneel in die myne gewerk het.
Aangesien die polisie nie die situasie kon beheer nie, is die weermag se hulp ingeroep. Dit het egter tot en met die ter perse gaan van hierdie uitgawe, nog geen verskil gemaak nie.
Mnr. Breytenbach se ope brief aan amaphosa lui:
“Ek het geluister na u toespraak gisteraand. Daar is ʼn paar sake wat u gerus ter harte kan neem:
1. Ons, die beskaafde en wetsgehoorsame deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, is nou meer as keelvol vir die ontwrigting, plundering en verwoesting deur ʼn wanordelike misdadige gepeupel telkens wanneer hulle een of ander grief het en hulle wil op die samelewing probeer afdwing deur perkelose geweld.
2. Hierdie land was eens ʼn toonbeeld van vrede, orde, veiligheid en voorspoed. Suid-Afrika het geskitter soos ʼn diamant in ʼn beroerde donker kontinent wat vandag nog niks beter lyk as 50 jaar gelede nie.
3. Die ANC het self ʼn kultuur van wetteloosheid en geweld geskep toe julle met julle “struggle” besluit het om kinders as stormtroepe voor te stoot ten einde die Polisie se hande te bind. Julle het daardie kinders geleer om gesag uit te tart, brand te stig en te verwoes. Julle wou mos die land onregeerbaar maak. Daardie geslag het grootgeword en doen nou net voort soos julle hulle opgevoed het.
4. Dit was julle “moeder van die nasie”, Winnie Mandela van Stompie-faam, wat beduie het dat julle die land met vuurhoutjies “vry” sou maak. Nou sien ons hoe, elke keer as een of ander groep nie sy sin kry nie, treine, busse, besighede en enige ding aan die brand gesteek word. “Ons sal die land bránd” sê hulle, en hulle doen dit, want julle het hulle so geleer.
5. Wetsgehoorsame persone in julle eie gemeenskappe is teen hulle sin met julle “necklaces” en ander metodes van terreur geïntimideer en gedwing om aan julle massa-aksies deel te neem.
6. Nadat daardie verraaier, De Klerk, die politieke gesag aan julle oorhandig het, het julle bly voortborduur op julle “Nasionale Demokratiese Rewolusie” en daardeur ʼn gees van opstand, rewolusie en haat brandende gehou. Julle voortdurende retoriek oor armoede, ongelykheid en wit bevoordeling skep ʼn gees van regverdiging by die gepeupel vir hulle misdadige optrede. Daarom word boere en werkers op plase wreedaardig vermoor, want hulle het mos die grond wat glo aan julle behoort het, “gesteel”.
7. Diefstal, plundering en verwoesting spruit nie in die eerste plek voort uit armoede en ongelykheid nie, dit spruit voort uit die hebsug en selfsug wat eie aan die sondige mens is. Het julle Zondo-kommissie nou al een enkele persoon voorgebring wat
hom dik gesteel het omdat hy “arm” of “ongelyk” was? Almal wie se doen en late voor daardie kommissie blootgelê word, is stinkryk en het hulle rykdom vermeerder deur korrupsie en diefstal. En wie het die voorbeeld gestel? Julle leier en president,
Jacob Zuma. Man, die oortreding waarvoor hy nou gevonnis is, is niks in vergelyking met die misdade waarvoor hy voor die gereg gebring behoort te word nie. Maar julle het hom daar verduur en toegelaat dat hy telkens vervolging vryspring en met die reg woerwoer speel. As julle leier so ʼn voorbeeld stel, hoe kan jy verwag dat die volgelinge anders sal optree?
8. Met julle “menseregte” het julle die wet van God opsy gestoot en dit ondergeskik gestel aan julle grondwet. Is jy verbaas oor die vrugte daarvan? God se wet skep orde, verantwoordelikheid, respek vir mekaar, en stel perke aan die bandeloosheid van die mens. Daarenteen laat julle ongebreidelde “menseregte” die bandeloosheid van die mens onbeperk botvier.
9. Julle onrealistiese illusie van “een nasie” is sulke opsigtelike bog, maar julle klou daaraan. Ons was nog nooit een nasie nie en sal nooit een wees nie.Die Swartmense van Suid-Afrika is nie eers een nasie nie, hoe verwag jy dan dat ons, die BoereAfrikanervolk met ʼn totaal ander herkoms, geskiedenis, geestesagtergrond, vaderlandsbeskouing en wêreld- en lewensbeskouing as julle, een nasie met julle moet wees? Ons is nie soos julle nie en wil nie soos julle wees nie. Solank as wat julle aan die twak wat die kommunisme en liberalisme in julle koppe ingeprent het, bly vashou, sal daar in hierdie land ongesonde wedywering, veronregting,
haat en vyandskap tussen volke en gemeenskappe wees. Jou gepraat oor vrye deelname van almal is pure huigelary. Weens julle ekonomiese beleid sit duisende bekwame mense in die buiteland omdat hulle “te wit is” en nie toegelaat word om hier binnelands te werk nie. Intussen voer julle dokters en ingenieurs van Kuba af in om werk hier te doen waarvoor daar genoeg gekwalifiseerde mense van ons eie is.
10.En jou Sjinese vriende? Wanneer gaan julle agterkom dat die land geleidelik deur Sjina gekoloniseer
word?
11.Die ANC-regering is ʼn skande vir hierdie land en ʼn voorwerp van bespotting vir die wêreld.
12. En tog is die oplossing vir ons land in beginsel eenvoudig: erken die verskeidenheid en verskille tussen die volke in Suid-Afrika en skep ruimte vir elke volk wat dit begeer, om homself volgens sy eie aard te regeer. Dan kan daar goeie buurmanskap tussen die volke wees tot almal se voordeel en heil.”