

Suid-Afrika beleef tans onluste, geweld en in sekere mate terrorisme, soos wat die land nog nooit tevore beleef het nie.
Die swart opstande van Sharpeville in 1960, die opstande in Soweto van 1975 of die onluste van die tagtigerjare in PW Botha se tyd, het die impak gehad van wat tans in die land aangaan.
Aanleiding
Aanvanklik het dit begin met die gevangeneming van Jacob Zuma weens minagting van die hof – ʼn misdaad waarvoor beskuldigdes gewoonlik ’n boete met gedeeltelike opgeskorte vonnis kry. In Zuma se geval is hy summier tronk toe gestuur.
Dit het gevolg op sy weiering om voor die Zondokommissie na staatskaping te verskyn. Regter Zondo, voorsitter van die kommissie, is ook adjunk-hoofregter van die Grondwetlike Hof. Inplaas daarvan om Zuma se hofsaak in die Hooggeregshof af te wag, vat Zondo kortpad na sy ondergeskikte kollegas van die Grondwetlike Hof, kla Zuma daar aan en eis summier gevangeneming. Natuurlik luister die meerderheid van sy ondergeskikte kollegas daarna, alhoewel ’n paar in ’n minderheidsuitspraak van hulle verskil.
Waar die Grondwetlike Hof tot dusver ’n finale hof van hersiening was, het hy nou die terrein betree om homself as ’n strafhof te laat geld, waar ’n beskuldigde in afwesigheid verhoor en gevonnis word – iets wat bots met geldende strafregbeginsels in
Suid-Afrika. Die Grondwetlike Hof se geloofwaardigheid en statuur kom nou in gedrang.
Zuma vra dieselfde hof om sy kuldigbevinding en vonnis tersyde te stel. In ’n verstommende wending, besluit die Grondwetlike Hof, wat ook ’n finale hof van appèl is, dat hy sy eie besluit self gaan hersien en bepaal daarvoor ’n datum.
Inmiddels is daar verwarring in polisiegeledere of Zuma nou gearresteer moet word of nie. Die minister van polisie, Bheki Cele, wat voorheen vir Zuma in Nkandla gaan kuier het en ’n gesprek gevoer het waarvan die inhoud tot op hede nog nooit geopenbaar is nie, is die mees deurmekaar van almal en weet nie herwaarts of derwaarts. Uiteindelik besluit Zuma in middernagtelike ure om homself te gaan aanmeld by die tronk van sy keuse, in Estcourt, wat bekend is vir sy moderne (en seker luukse) inrigting. Zuma word voorlopig twee weke in die hospitaal se sagte beddens versorg.
Buite breek die hel los deur Zoeloes en ander Zumaondersteuners en hulle begin om veral in Natal vragmotors aan die brand te steek, te roof, te plunder en te brand. Intussen het die Grondwetlike Hof uitspraak voorbehou en weet Zuma steeds nie of
hy mag loskom of nie.
Ontwikkeling
In die onrus en geweld wat etlike dae duur, is dit duidelik dat die polisie geen beheer oor die situasie het nie. Plundering gaan deurnag voort en die aandklokreël wat vir die Covid-inperkings ingestel is, word verontagsaam en die polisie kan selfs dit nie eens afdwing nie, bo en behalwe die feit dat diefstal voor hul oë plaasvind deur ongemaskerde misdadigers en die polisie soos oudergewoonte “die situasie dophou”.
Aanvanklik word ’n niksseggende getal van 2 500 weermaglede aan die polisie toegewys om die volgende drie maande orde te probeer herstel. Na gesprekke met opposisie politici, wat duidelik meer begrip vir die situasie as die staatshoof het, besluit
die staatshoof om die getal tot 25 000 te vermeerder.
Gemeenskappe begin self mobiliseer om hulself te beskerm en in sekere gevalle neem hulle reg in eie hande, met groot sukses. Weer eens kan op sosiale media gesien word hoe ses gewapende burgerlikes wat iets wil doen, dit regkry om ’n skare van etlike honderde, indien nie duisende, op die vlug te jaag, want in wese is hulle slegs dapper as daar geen weerstand of verset is nie.
Gevolge
Nadat veral gemeenskappe ingespring het en besighede begin beskerm het, het die geweld drasties verminder.
Die gevolge daarvan is egter nog lank nie verby nie.
Ekonome reken dat die skade wat deur hierdie geweld aangerig is, soveel as twintig jaar kan neem om te herstel.
Voorlopige syfers praat van direkte skade aan infrastruktuur van R20 miljard. Die Sasria-versekering voorsien eise van etlike miljarde rand en die vrees is dat dit soos die Padongeluksfonds of die Werkloosheidsversekeringsfonds, nie genoeg geld gaan hê daarvoor nie.
Slegs in die Durban-omgewing van Natal is 40 000 formele besighede geraak deur die geweld en ten minste 5 000 sogenaamde informele besighede. Talle van hulle sal nie weer kan herstel nie en sal toe bly.
Slegs in die Durban-gebied het 129 000 werksgeleenthede verlore gegaan. In iSithebe is ’n klerefabriek verlede jaar September geopen. Die fabriek is so te sê met die grond gelykgemaak en verwoes. 600 werkers, wat 3 000 gesinne onderhou, sit nou sonder werk.
Behalwe die regering se beleidsomgewing wat werkloosheid skep (soos deur die belaglike en sosialistiese minimumlone) is hier nou reeds honderde duisende ekstra wat by die regering gaan aanklop vir armsalige toelaes.
Die skade aan die Witwatersrand is nog nie bereken nie.
Vorentoe
As gevolg van die skade wat aangerig is, is raffinaderye toegemaak. Die land staar ‘n tekort aan brandstof in die gesig. Boere begin reeds voorberei vir die nuwe seisoen en sonder brandstof gaan daar geen nuwe seisoen kan wees nie, met voedselskaarste as gevolg.
Vragmotorbestuurders weier tans dat hulle voertuie op die paaie gaan om lewensnoodsaaklikhede te versprei. Winkels in die hele land kan as gevolg daarvan tekorte ondervind. In Natal is daar reeds voedselskaarste. In Newcastle is winkels al leeg en word R50 vir ’n brood betaal, tot dié ook op is, want as gevolg van afwesigheid van bestanddele kan geen vars brood gebak
word nie.
Apteke is verwoes en medisyne is gesteel, selfs Covid-entstof is weggedra. Dit kan implikasies inhou vir plaaslike en selfs nasionale gesondheid.
Kitsbanke is beskadig en leeggeplunder. Mense se toegang tot kontant is dus uiters beperk.
Die verwagting onder veiligheidskenners is dat die geweld weer kan opvlam en dalk self erger word en landwyd kan voorkom as dit sou blyk dat geen voedsel of selfs brandstof beskikbaar is nie.
Ramaphosa se politieke lewe is volgens waarnemers in die weegskaal. Hy het totaal beheer oor die veiligheidsituasie verloor. Gee hy toe aan eise dat Zuma begenadig en vrygelaat moet word, sal die Zoeloe vreugdevure nog hoër brand as wat tot
dusver gesien is en sal elke gevangesetting met geweld opgevolg word tot misdadigers vrygelaat moet word. Dieselfde kan nog gebeur as Ace Magashule mettertyd vervolg gaan word vir sy deel in die land se ellende.