Die land se openbare uitsaaier is weer lustig besig met propaganda vir die sogenaamde Mandelamaand. 18 Julie sou dit weer Nelson Mandela se verjaardag gewees het as hy nie agt jaar gelede vir hoër of laer diens aangemeld het nie. Nie net in Suid-Afrika nie, maar dwarsoor die wêreld word dié dag herdenk, asof hy die engel Gabriël se mentor sou gewees het.
Selfs die aanlyn-ensiklopedie, Wikipedia, wat hom ook as ’n soort heilige wil voorhou, kan nie wegkom van die feit dat hy ’n voorstander van die rewolusie was nie en dat hy ’n sosialis was. Dit verklaar waarom hy Cyril Ramaphosa in die vroeë negentigs aangestel het as hoofonderhandelaar van die ANC, want Ramaphosa is self ’n sosialis wat dit met behulp van vêrlinkses en realiteit-vervreemde akademici, kamoefleer onder ’n baie dun, maar uiters deursigtige lagie van ʼn hoogs twyfelagtige vorm van kapitalisme.
Vroeër hierdie maand het die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) sy honderdste bestaansjaar gevier. In sy gelukwensingsboodskap aan die SAKP het Ramaphosa dié klomp “uitgedaag om die agenda van sosialisme in Suid-Afrika verder te bevorder” en dat die “SAKP aan die voorpunt in die stryd teen rassisme en kapitalistiese uitbuiting” is (woordelikse aanhaling uit SABC se RSG nuusbulletin, 4 Julie 2021, 15:00)
Ramaphosa is dus direk deur Mandela opgelei om ’n goeie sosialis te wees, net soos Mandela self ’n stuk geskryf het onder die titel “How to be a good Communist”.
Mandela het in 1943 lid van die ANC geword en het daarna een van die stigters geword van die revolusionêre ANC-jeugliga. Peter Mokaba van “Kill the Boer, kill the Farmer”-faam was een van die opkomende leiers van die jeugbeweging onder die nasionale leierskap van Mandela. Nadat Mokaba dood is aan Vigs het Julius Malema hom opgevolg – hy het ook deur die range van dié rewolusionêre beweging gekom wat Mandela gestig het.
Sedert 1955 is Mandela verskeie kere gearresteer vir bedrywighede wat met hoogverraad verband hou en het in 1956 op tegniese punte losgekom op ’n klagte van hoogverraad. Op daardie stadium het hy in die geheim lid geword van die toe reeds verbode SAKP, aangesien hy sterk aangetrokke gevoel het tot die Marxisme.
In die Republiekjaar, 1961, help hy om die ANC se gewapende terroristebende, uMkhonto we Sizwe (MK) op te rig en lei ’n veldtog van sabotasie teen die Suid-Afrikaanse regering. In die daaropvolgende jaar word hy weer gearresteer, suksesvol vervolg en moes dankbaar gewees het dat hy net lewenslange tronkstraf opgelê is en nie gehang is nie, want hy en sy mede-terroriste is inderwaarheid skuldig bevind aan ’n halsmisdaad, naamlik sameswering om die regering omvêr te werp – ’n staatsgreep.
Met sodanige optrede het hy die vonk van rewolusie aan die brand gesteek en wat deur sy vrou Winnie, verder aangevuur is met slagspreuke soos “liberation before education” en dat sy met haar buitebande en vuurhoutjies die rewolusie sal lei. Vandag sien ons daardie revolusionêre optrede steeds en dit kan direk teruggevoer word na die Mandelas. Waarskynlik ook om daardie rede dat Ramaphosa nie te hard wil optree nie, want dit is sy mentor en sy party se ingewortelde kultuur.
Die tronk het Mandela beslis nie gerehabiliteer nie.Vanuit die tronk was hy steeds betrokke by beplanning en goedkeuring van dade van terrorisme, soos die Kerkstraat-bomontploffing in Pretoria, die Johannesburgse Landdroshof-bomontploffing en
ander teikens waar onskuldige burgerlikes omgekom het. Selfs nadat FW de Klerk die enorme flater begaan het om hom vry te laat, was hy dadelik arrogant, het eise gestel en geweier om geweld af te sweer.
Daardie geweldspiraal duur voort, soos ons in “Mandela-maand” weer duidelik ervaar. Daarom sal Julie voortaan in volksgeledere eerder bekend staan as “Terroristemaand”.