Mnr. Andries Breytenbach

Die ANC-bewind beoog om eersdaags die sogenaamde PEPUDA wet in werking te stel.

Die afkorting vir dié nuwe onding staan vir Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act.

Die leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach, het in sy persoonlike hoedanigheid kommentaar hieroor ingedien by die direkteur-generaal van Grondwetlike Ontwikkeling. Hy het dit duidelik gestel dat hy absoluut gekant is teen die beoogde wetgewing.

Mnr. Breytenbach sê in sy voorlegging dat die wêreldgeskiedenis oorvloedige voorbeelde bevat van owerhede wat al probeer het om mense se vryheid van voorkeur, denke, oortuiging en emosies met wetgewing te reël en te onderdruk. Uiteindelik het hulle ALMAL MISLUK omdat die mens as ‘n denkende wese deur God geskape is en ons sal nooit anders wees nie. “Nou wil hulle waaragtig ook met hierdie voorgestelde wetswysiging probeer doen waarmee alle ryke en maghebbers wat nog voor julle tyd gekom en gegaan het, misluk het. LEER JULLE DAN NIE?”, sê mnr. Breytenbach.

Hy verwys dan daarna dat die hoogste hof in hierdie land op 29 Junie getoon het hoe onuitvoerbaarso ‘n wet is: sewe geleerde regters oorweeg saam dieselfde getuienis wat voor hulle gelê word: vyf van hulle bevind by monde van die agbare waarnemende Hoofregter dat die aangeklaagde hom skuldig gemaak het aan “slanderous public statements” en dat “His (Zuma’s) statements do not fall into the category of tolerable criticism; they are intolerable.” En dat “he… has sought to undermine and destroy the rule of law”; dat sy “vituperative statements had been a calculated effort to impugn the judiciary” en dat hy “abandoned all ethical standards”. Dit is sterk taal waaraan baie mense van wie so iets gesê mag word, erg aanstoot sal neem.

Daarenteen bevind twee regters van dieselfde vlak dat die vonnis “trampled on Zuma’s constitutional rights” en dat die dringendheid van die saak deur die hof toegelaat “prevented fair procedure… It limited the right to silence”, en dié gebreke “amounted to a serious violation of Zuma’s constitutional rights.” “Bostaande aanhalings toon hoe ernstig mense oor ander mense se optrede en uitsprake kan verskil en aanstoot kan neem. As sewe geleerde mense ná oorweging van dieselfde getuienis nie eenstemmig daaroor kan oordeel nie, hoe op aarde kan verwag word dat 57 miljoen mense nie ook dinge sal sê of só sal optree dat iemand aanstoot sal neem of beledig sal voel of dat daar teen hom/haar of sy/haar groep gediskrimineer word nie? En hierdie beoogde wetswysiging skep nou ruimte vir elkeen om in so ‘n geval hof toe te hardloop om kompensasie te kry of die regbank te misbruik om wraak te neem, en die maklike manier waarop dit toegelaat word, is in werklikheid ‘n uitnodiging om dit te doen”, sê mnr. Breytenbach.

OOR DIE STREWE NA “GELYKHEID”

“Ongelykheid is ‘n feit van die lewe en dit is inherent aan die mensdom, want mense word met verskillende vermoëns, intelligensievlakke, emosies en geaardhede gebore. Kortom, alle mense is nie dieselfde nie. Daarom is daar leiers en volgelinge, genieë en morone, kampioene en verloorders, base en werkers, ens. Mense raak groot in verskillende
omgewings, onder verskillende ouers en sosiale omstandighede. Om deur middel van wetgewing ‘n gelyke en eenderse mensheid te probeer skep, is kranksinnigheid, want dit is absoluut onuitvoerbaar en onhaalbaar. Die voorgestelde wetswysiging skep die geleentheid vir onderpresteerders en jaloerse mense om ander mense vir hulle eie wanprestasie
of agterlikheid te blameer en voor die reg te daag omdat daar glo teen hulle ‘gediskrimineer’ word. Tewens hou die voorgestelde wetswysiging die gevaar in om ondernemende, dinamiese mense met die aanstelling en bevordering van begaafde, flukse werknemers en werkspanne met hoë vlakke van werksetiek te demp, omdat hulle telkens van diskriminasie aangekla kan word.

OOR GELOOF EN GODSDIENS

“Die voorgestelde wetswysiging leen hom daartoe dat enige persoon aanstoot kan neem teen ‘n bepaalde geloofsoortuiging se leer en opvattinge en dan daaroor hof toe kan hardloop. Die Suid-Afrikaanse grondwet stel homself reeds as die ‘hoogste
reg van die Republiek’. Baie van die wetgewing wat uit sy menseregtebepalings spruit, is direk in stryd met die Woord van God, wat die Christendom aanvaar en bely. Tot dusver het Christene dit verduur deur konfrontasie daaroor sover moontlik te vermy. Maar hierdie voorgestelde wetswysiging kan en sal waarskynlik mense se gewetes in direkte botsing bring met die landswet. Het julle al gedink of julle kans sien om duisende Christene wat eerder aan God en sy woord getrou sal bly as aan julle landswet, in die tronk te stop?

GEVOLGTREKKING

“Die voorgestelde wetswysiging dra in hierdie land met sy diverse bevolking en veelheid van volkere die kiem vir die skepping van wrewel en haat teenoor mekaar. Die voorgestelde wysigings is onnodig, onprakties, in sigself erg diskriminerend en nuitvoerbaar. Bestaande wetgewing is voldoende om sake van die aard waaroor die wet handel, effektief te bereg,” lui mnr. Breytenbach se voorlegging.

Hy maak dan ’n aanbeveling dat in die lig van sy argumente die voorgestelde wetswysigings in hul geheel geskrap moet word, en dat die bestaande wette wat reeds op die wetboek is, “gebruik word om die relevante aangeleenthede op ‘n regsinnige wyse te bereg.”