Die Suid-Afrikaanse eenheidstaat misluk en sy hooggeroemde demokrasie is besig om ’n hol simbaal te word met baie geraas maar geen betekenis nie.
Dit is die standpunt van die HNP-leier, mnr. Andries Breytenbach, in ’n onderhoud met Die Afrikaner.
Die terreur en plundery wat in Natal en die Witwatersrand gesien is, het sy ontstaan by ’n rasse-oorlog van die Zoeloes teen die ander volke gehad, sê mnr. Breytenbach. “Die hulp wat gemeenskappe gebied het om die gemors van die misdadigers op te ruim, was suiwer omdat niemand in ’n varkhok wil leef nie. Die beeld wat voorgehou word van ’n land wat ‘saamstaan’ is ’n wanvoorstelling wat deur die linkse dissipels van hierdie stelsel voorgehou word. Dit is vals,” sê mnr. Breytenbach.
Die twee groot gebeurtenisse van die afgelope tyd, die Covid-19 pandemie en die onlangse onluste, het juis gewys hoe verdeeld die land is. Behalwe die skeidslyne wat die ANC-bewind op rassegronde trek (byvoorbeeld slegs hulp aan swart bevoordeelde besighede), is daardie verskille tussen werkendes wat daardeur iets opgebou het en werkloses, wat glo die wêreld skuld hulle alles. In swart geledere is daar stamverskille, soos nou weer duidelik geblyk het, daar is politieke faksies, sodanig dat daar beweer word dat die geweld in wese ’n staatsgreeppoging was. Dan is daar misdaadbendes wat mekaar die stryd aansê. “Dit is duidelik dat dit nie tekenend is van ’n land wat eensgesind is nie en ’n eenmalige opruimingsveldtog om jou eie lewe draaglik te maak, kan nie vertolk word as ’n land wat kwansuis saamstaan nie. Dit was ad hocoptrede en het niks blywends nagelaat nie,” sê mnr. Breytenbach. Die feit dat die staat se ore en oë, die inligtingsdienste, niks kon bespeur nie en
mekaar nou verwyt, is ’n teken van ’n stelsel waarvan die boom reeds uitgeval het, sê mnr. Breytenbach.
Die hantering van die Covid-19-epidemie bevestig die mislukking van die bestel. Selfs in ’n tyd van nasionale nood, word daar geplunder en gesteel en selfs die minister van gesondheid word daarby betrek en afgedank. Die ekonomie word verwoes deur ondeurdagte inperkings en maatreëls, wat die ekonomie vernietig het, die staatskas leeg gelaat het en wat tot die dood van mense gelei het.
“Die hoeksteen van die huidige bestel, in hul eie woorde, is die sogenaamde regstaat en sy demokratiese instellings. Die regbank het die laaste ruk swaar te gekry en die Grondwetlike Hof se integriteit is erg onder verdenking. Instellings soos die
Menseregtekommissie kyk anderkant toe as daar misdrywe en vergrype teen blankes gepleeg word, maar al die res word tot rassisme deur blankes verklaar. Die sogenaamde Openbare Beskermer is ’n klug. As sy die president se geldsake wil ondersoek, kry hy ’n Grondwetlike Hof bevel dat sy dit nie mag doen nie.
En laaste is die demokrasie wat kwansuis so sterk is. Die diktatoriale magte wat die regering homself toegeëien het met die Covid-regulasies, buite die ‘demokratiese’ parlementêre proses om, het ’n streep getrek deur enige skyn van demokrasie. Die
hoog geroemde Handves van Menseregte, wat vryheid van beweging, vryheid van spraak, vryheid van assosiasie en vryheid om ’n bestaan te maak sou ‘waarborg’, is nie meer die papier werd waarop dit geskryf staan nie, want al daardie regte is deur
die ondemokratiese ‘Covid-bevelsraad’ tersyde gestel, sonder dat daar iets teen gedoen kon word.
“Die hoeksteen van ’n demokrasie, naamlik die reg van burgers om hulle verteenwoordigers by ’n stembus te kan aanwys, is nou ook in die gedrang. Die OVK het ’n aanbeveling van regter Dikgang Moseneke aanvaar dat die munisipale verkiesings uitgestel moet word. Verstaan mooi: die HNP het nog nooit aan enige van hierdie bestel se verkiesings deelgeneem nie en is ook geensins van plan om dit te doen nie. Maar dit is nou duidelik dat alles wat ons voorgehou is in 1994, nou, soos die HNP
destyds voorspel het, bewaarheid word as leuens,” sê mnr. Breytenbach.
“Ons hoef nie eens nou te betoog oor deelname aan verkiesings, al dan nie. Die feit is dat die verkiesing waarskynlik uitgestel gaan word en dit gaan ’n presedent skep vir die toekoms. Daar is wette, dalk selfs die land se grondwet, wat verander moet word. Dit word nie gedoen vir ’n tydperk van drie maande nie. ’n Verandering is ’n permanente verandering, wat dan enige tyd later weer gebruik kan word. Dus, kiesers wat tot dusver hulle hoop op die stembus geplaas het, gaan moet besef dat selfs daardie kruisie elke vyf jaar nou nie eens meer ’n waarborg is nie,” sê mnr. Breytenbach.
“Ons strewe en oorlewing moet egter voortgaan, met of sonder stembusse. Daar is baie terreine waarop ons werklik kan saamstaan, behalwe om misdadigers se rommel agter hulle op te tel. Daardie bedreiging van die diefstal van grond en ander eiendom. Daar is die bedreiging van die ontwapening van die bevolking. Daar is die bedreiging van ons reg tot godsdiens-
beoefening. Daar is die bedreiging teen ons kinders in wettelose en laegraadse skole en nog vele ander bedreigings. Daar is die fisiese bedreigings deur sogenaamde protesoptrede, waar misdadigers voorkeur kry om strate na hartelus en soos hul wil
te sluit, sodat wetsgehoorsame burgers maar die opofferings en ongerief moet maak vir ander roetes. Ons moet saamstaan daaromheen, ons standpunte duidelik maak dat ons dit nie gaan aanvaar nie, kom wat wil. Ons gaan ons verset duideliker moet toon, want niemand is bang vir ’n bang mens nie. Almal is versigtig vir helde en ons moet heldhaftiger begin optree. Dit gaan ons redding wees,” glo mnr. Breytenbach.
Hy sou graag wou sien dat die verskillende Afrikanergroeperings ’n Volkskongres belê om oor dié sake te besin en die pad vorentoe te beplan. Dalk is dit tyd dat die Afrikanerfront, wat tans dormant is, weer daarvoor ingespan moet word,” sê mnr. Breytenbach. “Een ding is egter seker: ons sal moet mobiliseer vir ons oorlewing, want hierdie bestel kon nog nooit werklik nie, maar kan nou minder as ooit, iets vir ons bied nie.”
Uit Die Afrikaner van 30 Julie 2021