Andries Breytenbach
Een van die belangrikste terreine van die volkslewe is die onderwys.
Onderwys bestaan uit twee fasette, nl. opvoeding en die oordra van spesifieke kennis van allerlei dinge waarmee die mens in sy lewe op aarde te doen kry, soos vervat in die geesteswetenskappe, fisiese wetenskappe, ekonomiese wetenskappe en dies meer.
Die woord van God, die natuur en ons gesonde verstand leer ons dat kinders reg geleer en opgevoed moet word. Opvoeding begin in die huis van die oomblik van ʼn mens se geboorte af. In die Bybel word die noodsaak en aard daarvan baie sterk beklemtoon, want daardeur word die mens gevorm om ʼn nuttige en deugsame burger van sy land, van sy volk en van God se koninkryk op aarde te wees. Word ʼn kind nie van kleins af reg geleer, opgevoed en beïnvloed nie, word hy gou die slagoffer van die tallose verkeerde invloede waaraan ons almal van oral af blootgestel word en is die kanse goed dat hy as ʼn wanaangepaste en ongewenste element in die samelewing sal ontwikkel tot nadeel vir homself en andere.
Die formele onderwys wat in die skool ondergaan word, moet ʼn verlengstuk wees van wat die kind tuis geleer word. So was dit in ons land gedurende die era voor 1994.
Omdat mense binne verbande van gesin, familie en volk in die wêreld kom en leef, is die sterk hou van dié verbande ʼn voorwaarde vir ʼn gesonde gemeenskap en volk. Elke volk op aarde besluit immers self wat vir hom reg en verkeerd is en orden sy regstelsel en maatskaplike orde daarvolgens. Ons volk se begrip van reg en verkeerd spruit uit ons geloof in God en ons verstaan van sy Woord, asook ons oorgeërfde Westerse godsdiens, kultuur en regsopvattinge. 1 Daarom lui artikel 9.1 van die HNP se Program van Beginsels kort en kragtig:
HNP Program van Beginsels Grondwet vir die Boere-Afrikanervolk
“Die HNP sal skole en hoër onderwysinrigtings daarstel waarin die Afrikaner se geskiedenis,
kultuur en lewensbeskouing aan die lerende gemeenskap oorgedra word.”2
Die kommuniste en linkses weet dit natuurlik ook, en daarom sorg hulle dat hulle ʼn sterk greep op die onderwys hou ten einde die opvoeding van die kinders in húlle rigting te stuur en ʼn burgery te kweek wat hulle ideologie aanhang en ondersteun.
Ewe gevaarlik is die liberale opvatting dat mense ʼn klomp los individue is wat elkeen toegelaat moet word om sy eie wil en begeertes te laat geld en nie deur die reëls en norme van die groter gemeenskap aan bande gelê mag word nie. Daarvolgens moet kinders toegelaat word om self proefondervindelik uit te vind wat reg en verkeerd of goed en sleg is — hulle mag nie deur opvoeding in een of ander rigting gedwing word nie. (Dít altans, is die propaganda solank as die liberaliste nie die mag het nie. Wanneer hulle die mag bekom, is die werklikheid egter anders en dwing hulle hulle liberale opvattinge onbeskroomd in die onderwys op leerlinge af). Die Bybel en ons praktiese lewenservaring leer ons dat die mens van nature eerder geneig is tot die kwade as tot die goeie; tot bandeloosheid eerder as onderwerping aan dissipline, gesag en moraliteit. Die resultate
van die linkse benadering word treffend verwoord deur die joernalis Paul Craig Roberts (weliswaar in ʼn ander verband geskryf, maar net so toepaslik hierop):
“Over the course of my lifetime I have watched the slow destruction of my country. … The young are not aware of it. They are born into the moral, political, and legal depravity, and to them it is normal. It is all they know. They are confident that they are more attuned to reality than an old fogey like me. The young, never having experienced the past, have no idea of what has een lost. Assertive in their ignorance, they march on into destruction, and the country goes with them.” 3
Omdat die oordra van vakkennis van net soveel belang is, bepaal art. 9.2 van ons Program van Beginsels:
“Onderrig en vakinhoud moet van ʼn akademiese
standaard wees wat by geen ander in die wêreld agterstaan nie.”4
Elke persoon wil die vertroue hê dat hy goed opgelei is in welke rigting hy hom ook al bekwaam. So was dit met ons in die era voor Suid-Afrikaanse wetenskaplikes en akademici het nie in die wêreld agtergestaan nie; inteendeel, in menige geval was ons op die voorpunt en het ons leiding gegee. Akademiese verhandelings is in Afrikaans geskryf en vir akademici van ander lande wat dit wou lees, was dit die moeite en koste werd om maniere te vind om die inhoud daarvan te bemeester. Ongelukkig kan dit nie meer ongekwalifiseerd gesê word nie. Sedert 1994 is skole en universiteite verswart en verengels en sonder om nou hier daaroor uit te wei, weet ons wat van ons standaarde van onderwys op alle vlakke geword het.
Gelukkig is ons volk, wat onderwys betref, nie volkome aan die staat uitgelewer nie. Daar is darem nog geleentheid om ons eie onderwysinrigtings te skep, maar dit kos geld en wilskrag — wilskrag wat helaas so dikwels ontbreek. Daarom lui art. 9.3 van die Program van Beginsels:
“Solank die Afrikanervolk hom binne die
heersende bedeling bevind, beywer die HNP
hom vir die daarstelling en uitbouing van
volkseie onderwys wat aan die voorgenoemde
norme beantwoord, deur middel van
Christelik-volkseie (CVO) skole en tuisonderrig.
Ouers word aangemoedig om hul
kinders in volkseie onderwysinrigtings te laat
onderrig en hulle sodoende van die verderflike
invloed van die huidige bedeling se
staatskole te weerhou.5.
Weer eens is dit nie net ʼn strewe en begeerte wat tot die HNP beperk is nie. Daarvan getuig instansies soos die BCVO (www.bcvo.co.za), Tabok (www.tabok.co.za) en verskeie ander skeppers van private Afrikanerskole waar die Afrikaner sy eie etos t.o.v. kultuur, taal en godsdienstige beginsels kan uitleef terwyl ʼn hoë standaard van onderrig gehandhaaf word.
Vanuit die GHA (www.afrikaans.org.za) het daar jare gelede al die pleidooi gekom vir ʼn eie Afrikaanse onderwysdepartement, waarin ons ons eie kurrikulums, vakinhoude en standaarde kan voorskryf wat aan ons volk se vereistes voldoen. Wat tersiêre- en ambagsopleiding betref, ondersteun ons die oprigting van inrigtings soos Sol-Tech (https://sol-tech.co.za) en Akademia
(https://akademia.ac.za), waarmee Solidariteit die voortou geneem het.
In die Boere-Afrikanervolk se eis om Selfbeskikking word dié strewe soos volg verwoord:
“Soos enige ander volk op aarde sy eie nageslag
wil opvoed volgens sy eie oorlewering
en kultuur, is dit ook die plig, begeerte
en reg van die Boere-Afrikanervolk om ons
kinders in die Christelike geloof en tradisies
van ons volk op te voed in ‘n staatkundige en
maatskaplike milieu wat dit ondersteun.”6
1 http://www.volksraad.co.za/.cm4all/iproc.php/Eis-om-Selfbeskikking-meester.pdf?cdp=a
2 Program van beginsels | HNP
3 America R.I.P. (freewestmedia.com)
4 Program van beginsels | HNP
5 Program van beginsels | HNP
6 http://www.volksraad.co.za/.cm4all/iproc.php/Eis-om-Selfbeskikking-meester.pdf?cdp=a
Uit Die Afrikaner van 27 Augustus 2021