“Elke aansoek vir lisensiëring van ʼn vuurwapen vir beskerming van die aansoeker en sy afhanklikes
se lewe en eiendom, moet simpatiek oorweeg word en indien geen redelike diskwalifiserende redes
vir die weiering van sodanige aansoek aangetoon kan word nie, moet die aansoek toegestaan word.”
Dit is die voorstel wat die HNP-leier, mnr. Andries Breytenbach, gemaak het wat hy reken in die vuurwapenwet
opgeneem moet word. Hy het namens die HNP die voorgestelde wysigings aan die wapenwet verwerp en voorgestel dat dit met bogenoemde vervang moet word.
Lede van die publiek en belanghebbende instansies het tot vroeër die maand geleentheid gehad om kommentaar te lewer op die vuurwapen wetsontwerp.
Daar is lank reeds pogings om die wetgehoorsame landburgers hulle vuurwapens te ontneem, in ‘n tyd dat die polisie geen beheer het oor misdaad en anargie nie, terwyl wapens van weermag en polisie in hande van misdadigers val.
Groot ongelukkigheid heers oor die voorgestelde wet wat “selfverdediging” vir die verkryging van ‘n handwapen buite orde wil reël.
Derduisende voorleggings is na die betrokke parlementêre portefeuljekomitee gestuur.
Mnr. Breytenbach het namens die HNP ‘n voorlegging ingedien, wat hiermee volledig gepubliseer word.
Mnr. Breytenbach rig sy skrywe aan die voorsitter van die komitee en sê dat in antwoord op die uitnodiging om kommentaar te lewer op die Wysigingswetsontwerp vir die beheer van vuurwapens 2021, die HNP die volgende voorlê:
Kommentaar oor die bepaling dat selfverdediging/selfbeskerming nie meer as rede vir die toekenning van ʼn vuurwapenlisensie oorweeg sal word nie.
a. Die hoë voorkoms van misdaad en moord in Suid-Afrika is algemeen bekend; dit word daagliks in die media berig.
b. Die onvermoë van die SA Polisie om misdaad en moord aan bande te lê, is eweneens bekend. Daaroor word ook gereeld
in die media berig en die polisie se misdaadstatistiek wat gereeld vrygestel word, bevestig dit. Die feit dat die weermag
tydens die onlangse veldtog van plundering en brandstigting ontplooi moes word om die polisie te ondersteun, het die polisie se onvermoë om wet en orde te handhaaf, onderstreep.
c. Géén reg kan swaarder weeg as ʼn persoon se reg om sy eie en sy afhanklikes se lewens en eiendom teen aanslae van moordenaars en boosdoeners te beskerm nie, en aangesien die staat dit nie doeltreffend kan doen nie, is die burgery op hulleself aangewese om dit te doen.
d. Wanneer ʼn persoon se lewe en eiendom deur misdadige elemente bedreig word en die middele tot selfbeskerming word die persoon ontneem sodat hy weerloos gelaat word teen sy aanvallers, is die persoon of instansie wat hom daarvan ontneem het — in hierdie geval die regering ofte wel die staat — medepligtig aan die moord. Dit beteken dat indien die betrokke bepaling goedgekeur word, die staat en die polisie geag sal word medepligtig te wees aan elke geval van moord en beskadiging van eiendom wat gepleeg word teen persone aan wie ʼn vuurwapenlisensie vir selfbeskerming geweier word.
e. Die staat se funksie is onder meer om sy burgers te beskerm, NIE om ʼn tirannieke bewind teen hulle te voer nie. Met hierdie en ander beperkende bepalings in die Wysigingswetsontwerp vestig die regering homself as ʼn misdadige tirannie wat die burgery dwing om ter wille van selfbehoud wapens ongelisensieerd te bekom en te besit, met ander woorde die wet te oortree.
Gevolgtrekking:
a. In die lig van die heersende misdaadsituasie in Suid-Afrika en die staat se bewese onvermoë om dit effektief te bekamp,
is die onderhawige bepaling onlogies, onregverdigbaar en kom dit neer op oogluikende toelating deur die staat van terreur
teen sy burgers. Daarvoor sal die staat voor die reg aanspreeklik gehou word.
b. Die bepaling sal géén bydrae lewer om onwettige besit van vuurwapens te bekamp nie. Dit sal inteendeel onwettige besit van vuurwapens ten einde die eie lewe en goed te beskerm, aanmoedig.
3. Aanbeveling:
a. Dat die onderhawige bepaling in sy geheel geskrap word.
b. Dat die volgende bepaling in die wet opgeneem word:
“Elke aansoek vir lisensiëring van ʼn vuurwapen vir beskerming van die aansoeker en sy afhanklikes se lewe en eiendom, moet simpatiek oorweeg word en indien geen redelike diskwalifiserende redes vir die weiering van sodanige aansoek aangetoon kan word nie, moet die aansoek toegestaan word.”
Uit Die Afrikaner van 13 Augustus 2021