Verhouding met ander state en volke:

Meinhard Peters

Die HNP se Program van Beginsels behandel in artikels 7.5 tot 7.6 enkele baie belangrike beginsels wat staatkundige
vryheid en integriteit aangaan. Dit is dié beginsels wat die party in die toekoms toegepas wil sien, sodat die Afrikaners hulle nasionale identiteit sal kan handhaaf en uitbou. In die vorige bespreking het ons reeds daaraan geraak.

Paragraaf 7.6.1 stel dit dat die owerheid in sy betrekkinge met ander state en volkere sorg moet dra dat die belange van die eie staat en volk te alle tye vooropgestel word. Dit is ’n uitgangspunt wat sy wortels het in die jare 1912-1914 toe generaal JBM Hertzog die idee bestry het dat die Unie van Suid-Afrika in alle opsigte onderhorig moes wees aan Brittanje. In die eerste beleidstukke van die Nasionale Party word vanaf 1914 groot klem gelê op die ideaal van “Suid- Afrika eerste”, net soos generaal Hertzog dit geformuleer het by De Wildt. Hierdie beginsel was die grondslag vir die uitgerekte stryd tot groter selfstandigheid van die Unie, maar dit het ook deel uitgemaak van die republikeinse strewe wat sedert 1934 groter momentum verkry het.

In die staatkundige strewe van dr. DF Malan, adv. JG Strijdom en dr. HF Verwoerd het dit sentraal gestaan: Suid-Afrika sou geen inmenging van buite duld in die ontplooiing van sy eie beleid nie; en Suid-Afrika moes ’n volkome selfstandige republiek word. Hierdie ideale is glansryk verwesenlik op 31 Mei 1961.

In die Republiek van Suid-Afrika na 1961 is daar streng gewaak teen vyandige inmenging en is die belange van die eie staat en volk te alle tye vooropgestel. Dit het beteken dat die Republiek kon ontwikkel volgens die natuurlike lewenspatrone wat oor 300 jaar in Suid-Afrika gevorm het. Dit wil sê: verskillende volke woon apart in hul eie gebiede; imperialistiese invloede en magsoorheersing word verwerp; en politieke druk op die regering van die land word teengestaan en indien nodig, met mag afgeweer.

Die HNP is dus baie duidelik oor die soort staatkundige profiel wat hy in die toekoms gehandhaaf wil sien; maar dit is ook ’n aktuele saak vir die politiek van ons tyd. Vanuit hierdie standpunt word elke regering en elke bedeling in die land getoets. In ons tyd ervaar ons toenemend inmenging van buite, en sien ons hoe die regering van die land beïnvloed word deur gewetenlose skurke soos die Guptas, skelmstreke deur die kommunistiese staat van Rooi Sjina, en manipulasie deur internasionale geldskieters soos die IMF en die Wêreldbank. Al hierdie verskynsels tas die nasionale selfstandigheid en integriteit van ons land aan.

Boonop is die hele grondwetlike bedeling van die RSA, naamlik ’n rasvermengde samelewing met ’n sogenaamde demokrasie (een mens, een stem) op die land afgedwing deur buitelandse magte – deur Amerikaanse druk, Britse bemoeienis, druk van internasionale banke, en die diplomatieke aksies van die sogenaamde Westerse Vyf. Daardie magte het hulle gewig agter die ANC-SAKP en die UDF ingegooi en het die opstande van swart vakbonde binnelands gefinansier. Die hele beginsel van Suid-Afrika eerste is uiteindelik tydens die NP-bewind onder FW de Klerk ten gronde gerig. Daardeur is ook die stabiliteit en vryheid van al die verskillende volke in ons land vernietig.

Onthou maar hoe die tuislande van die Xhosas, die Zoeloes, die Tswanas en andere ontdaan gemaak is as kerngebiede waarin swartmense hul eie toekoms kon uitwerk. Die regte van volke is daardeur ten diepste benadeel. Dit is die betekenis wat kort uitgedruk word in die HNP se program van beginsels in artikel 7.6.3, waar dit gestel word dat daar te alle tye regsgelykheid tussen die betrokke partye moet wees. Hierdie regsgelykheid geld in onderhandelinge met ander state, maar ook met betrekking tot inheemse volke. Die regte van die een mag nie ondergeskik gestel word aan die regte van die ander nie. So kan nasionale selfstandigheid en die karakter van elke volk behou en gehandhaaf word. Selfstandige state vir elke volk is ’n voorvereiste daarvoor.

Let op dat hierdie uitgangspunte nie aan getalle of magsoorheersing gekoppel word nie. Dit is beginsels wat moet geld, nie getalle of invloed nie. Die verstandhouding tussen state en volke word sodoende vanuit ’n suiwer denkraamwerk benader. Alleen so kan duursame vrede en goeie verhoudinge gekweek word.

Almal sien vandag hoe die miskenning van hierdie beginsels gelei het tot geweld en konflik in ons land, iets wat skynbaar geen einde kry nie. Van die mooi oproepe tot nasiebou het daar niks gekom nie; en die buiteland lag in hulle mou vir die chaos en armoede wat in die ANC-era uitgebreek het. Selfs die Ja-stemmers en die liberaliste in Suid- Afrika het hulle deuntjie spoedig verander. Hulle vra nou vir nuwe onderhandelinge en nuwe akkoorde – om die mislukking van die unitêre staat te probeer goedmaak. Maar, sonder suiwer beginsels sal hulle nie daarmee kan slaag nie.

Die wysheid van die HNP se Program van Beginsels staan andermaal sterk uit in die politieke verwarring wat rondom ons heers.

Uit Die Afrikaner van 13 Augustus 2021