Dit was hierdie week een en twintig jaar gelede dat Suid-Afrika een van sy onbekroonde eerste ministers verloor
het.

Op 8 Augustus 2000 moes die land kennis neem van die heengaan van mnr. Jaap Marais. Sy opvolger, wyle
mnr. Willie Marais, het hom beskryf as die beste eerste minister wat Suid- Afrika nie gehad het nie. Hy sou later
vanjaar 99 jaar oud geword het, wat beteken dat hy volgende jaar 100 jaar oud sou gewees het.

Mnr. Marais se waarskuwings en voorspellings is dikwels laggend afgemaak as bangmaakpraatjies. Tog was hy in die kol en het hy die land se toekoms reg ingesien.

Die groot rede daarvoor was dat hy ‘n liefde vir geskiedenis gehad het. Enigiemand weet dat as daar nie uit die lesse van die geskiedenis geleer word nie, die straf gaan wees om dieselfde paadjie weer oor te stap. Pres. Paul Kruger het immers al gesê dat die goeie uit die geskiedenis geneem moet word, en daarop voortgebou moet word vir die toekoms. Die ander kant van
daardie munt is ook waar, naamlik dat as iemand, of ‘n volk, nie leer uit die negatiewe van die geskiedenis nie, hy daarmee geen toekoms kan aanpak nie. Die slegte ervarings van die geskiedenis sal in die toekoms bly spook, en dalk selfs erger.

Maar Jaap Marais was ook ‘n kultuurmens. Sy skryfwerk was nie sommer net woorde op papier nie – dit was afgeronde prosa. Hy het liefde vir sy taal gehad, en daarom was hy die dryfveer agter die herstigting van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) – daardie stoere taalstryd aksie wat wyle dr. Hennie Terblanche gelei het in die GHA se eerste bestaan, en
wat na mnr. Marais se herlewing deur net so ‘n stoere aktivis, wyle Leon Strydom, gelei is. ‘n Taalstryd aksiegroep waaraan daar tans weer so ‘n behoefte is.

Omdat Jaap Marais ‘n kultuurman was, het hy kultuur geken. Maar ook kulture – ander kulture. Uit daardie kennis het hy die besef gehad dat kulture nie suksesvol met mekaar meng nie, en daarom het hy geweet dat ook die voorgestelde reënboog kultuur wat FW de Klerk met Nelson Mandela bekonkel het, nie gaan werk nie.

Hy het dit trouens al voorsien, selfs toe FW de Klerk nog maar net ‘n politieke gedagtetjie was. Toe John Vorster in die laat sestiger jare van beleid verander het, was dit Jaap Marais, en sy destydse leier, dr. Albert Hertzog, wat gesien het dat die eerste teken van ‘n beleidsverandering, gaan lei tot die finale vernietiging van die beleid. Mnr. Marais was bekend vir sy uitdrukking dat een klein toegewinkie, die dun punt van die wig is. As die wig eers in die deur is, sal die deur nooit weer kan toemaak nie, en sal hy steeds verder oop geforseer word. Dit is presies wat in Suid-Afrika gebeur het toe John Vorster, ter wille van sport en gewildheid, die dun punt van die wig in die Suid-Afrikaanse politiek toegelaat het. Alhoewel Vorster self dalk
(met die klem op “dalk”) wou terugkrabbel in sy latere jare, was dit onmoontlik. Dieselfde met PW Botha wat na sy uittrede uit die politiek presies kon sien wat verkeerd was, maar niks daaraan kon doen nie, want hy het die wig van John Vorster, net verder in die deur opening gedruk. Hulle kon die deur nie meer toemaak nie. Jaap Marais het dit geweet en gewaarsku. Die linkse politici en media het hom daaroor gehoon, maar hy was reg.

Dit was seker een van Jaap Marais se mees ware woorde ooit: Om reg te wees is om ‘n mag te wees. Dit het van Jaap Marais in wese ‘n magtige man gemaak, want hy was feitlik altyd reg, tot frustrasie en bitterheid van sy teenstanders. Die feit dat hy ‘n uiters bedrewe debatvoerder was, het die linkse liefde vir hom nie vergroot nie – inteendeel. Omdat sy argumente op feite geskoei was, gegrond op sy historiese en kulturele kennis, en sy ervaring in die politiek onder sy mentor en uiters skerp politikus en staatsman, dr. HF Verwoerd, kon Jaap Marais nie van stryk gebring word, of oortuig word dat hy verkeerd was
nie, want hy was reg.

Ook het Jaap Marais voorspel dat die huidige bestel geen kans op oorlewing het nie. Hy het voorsien dat chaos en anargie ‘n kenmerk van die land gaan wees. Die daaglikse “protesoptrede” en die onlangse boewery in Natal en Witwatersrand het gewys dat Jaap Marais se voorspelling waarheid gaan word. Hy het egter ook gewaarsku – iets wat ons deeglik ter harte moet neem – is dat wanneer die bestel deur chaos en anargie in duie gaan stort, die Afrikaner reg moet wees om weer sy regmatige deel en plek in te neem. Die vraag is egter: is die Afrikaner reg wanneer (nie “as” nie!) die anargie sodanige afmetings
aanneem, dat ons beheer moet neem. Dit is ‘n vraag waaroor elke individu, organisasie of gemeenskap, dringend sal moet besin.

Ons weet wat gaan gebeur. Jaap Marais het dit voorspel. Sover was hy reg en ons saam met hom. Dit maak van
ons ‘n mag!

Uit Die Afrikaner van 13 Augusts 2021