Besinning oor dr HF Verwoerd na 55 jaar:
Dit was 6 September die 55-jarige herdenking van die moord op dr. HF Verwoerd, destydse eerste minister van Suid-Afrika. Hy is die middag in die parlement in Kaapstad vermoor deur Demitri Tsafendas.
Die geskiedenis het sedert daardie dag ‘n totaal ander wending ingeneem, maar ook voor sy dood was daar ‘n geweldige venyn te bespeur uit Engelse en linkse kringe.
In sy boek “Van Malan tot Verwoerd”, skryf BM Schoeman, wat ook voorheen redakteur van Die Afrikaner was: “’Verwoerd must go!’ Dit is die wanhoopskreet wat teen die einde van dr. Verwoerd se bewind al luider uit die opposisie-kringe in Suid-Afrika opgeklink het. In ‘n sekere sin was dit ‘n betuiging van ‘n gevoel van magteloosheid van die Afrikaner se politieke
vyande; in ‘n ander sin was dit ‘n erkenning van die onaantasbare posisie waarin dr. Verwoerd op daardie oomblik verkeer het. Hendrik Verwoerd was die één man wat tussen die Afrikaner en sy vyande gestaan het. Solank hy daardie posisie ingeneem het, sou die politieke gang van sake nie verander kon word nie. Verandering is geëis en verandering sou daar kom – maar eers wanneer die man Verwoerd van die toneel verdwyn het.”
Dit was inderdaad die geval. Die linkse en Engelse pers het gehoop op ‘n rebellie in die Nasionale Party om Verwoerd te vervang. Maar net tevore het die NP onder Verwoerd die grootste meerderheid gekry in die algemeneverkiesing. ‘n NP-skeuring was dus wensdenkery en ‘n strooihalm. Wat die linkse politici en media nie kon regkry nie, het ‘n uitlandse bode van die parlement, wat al tevore gedeporteer was, reggekry met ‘n mes was met groot bedrewenheid ‘n einde aan hierdie politieke reus gemaak het.
In sy boek, “Die Era van Verwoerd”, tref mnr. Jaap Marais ‘n interessante vergelyking tussen Verwoerd en Julius Caesar. “Sluipmoord op ‘n leier bly steeds ongewoon, al het dit dikwels gebeur”, skryf Marais. “En na gelang van die stuur van die betrokke leier, het sy val weens sluipmoord groot politieke golwe veroorsaak.
“Die bekendste geval is dié van Julius Caesar, een van die heel belangrikste historiese figure, omdat hy in die sentrum van Romeinse mag gestaan het toe Rome die sentrum van wêreldmag was. “In die kleiner samehang was dr. Hendrik Verwoerd in die sentrum van mag in die mineraalryke Suider-Afrikastreek, hoewel tegelyk in die groter samehang van die wêreldwye stryd in verband met rasseverhoudings.
“In een opsig is daar ‘n teenstelling in miskien die belangrikste politieke dade van dié twee manne. Caesar se ingrypendste stap was om die Romeinse staat oor die Rubicon binne te gaan, met die doel om die mag te gryp en die republiek te beëindig. Dit het ‘n bloedige botsing geword.
“Dr. Verwoerd, aan die ander kant, het die republiek tot stand gebring, en ondanks dreigemente van ‘n goeie Engelsman soos Douglas Mitchell dat Natal sou afskei, en dreigemente van Nelson Mandela om deur landwye stakings die inhuldiging van die eerste Staatspresident in Mei 1961 te verhoed, het die Republiek van Suid-Afrika sonder geweld tot stand gekom.
“Watter verskil daar ook al was tussen dié twee staatsmanne se persoonlike hoedanighede, metodes en loopbane, hulle was uitsonderlik begaafde mense. Dr. Verwoerd was as staatsman, net soos Caesar, gekenmerk deur drie hoedanighede: grenslose vitaliteit, wysheid van visie en snelheid van beslissing. Albei is op kritieke tye na bo gestoot tot heerskap en het in die tuig gesterf weens politieke sluipmoord. Albei se werk was onafgedaan,” skryf mnr. Marais.
Mnr. Marais gaan dan verder deur daarop te wys dat Caesar kon sorg vir opvolging deur sy suster se kind aan te neem, en, na ‘n burgeroorlog, verwoesting en bloedvergieting, kon Octavius uiteindelik Caesar se werk voortsit. “In die geval van dr. Verwoerd kon hy in die demokratiese bestel nie ‘n opvolger aanwys nie, en het hy seker ook nie gedink dat hy reeds in daardie stadium op een of ander wyse sy voorkeur moes betuig om sodoende die opvolging te beinvloed nie. In dié geval het die opvolging derhalwe op ‘n man te rus gekom wat dr. Verwoerd se werk nie voortgesit het nie, maar dadelik begin aftakel het,” skryf mnr. Marais.
‘n Verdere ooreenkoms tussen Caesar en Verwoerd wat mnr. Marais uitwys, is dat beide hul vyande bevorder het. Dr. Verwoerd het sy vroeëre teenstanders, John Vorster en PW Botha, bevorder, en selfs die land se veiligheid in Vorster se hande gelaat. Hy het daardeur verwag dat die verlede begrawe sou word en dat hulle as Afrikanernasionaliste die voortsetting van sy werk sou help verseker as hy nie meer daar sou wees nie.
Mnr. Marais se verdere waarneming is “dat dié wat dr. Verwoerd tydens sy lewe teengestaan het, vyf en twintig jaar na sy dood (op daardie stadium het mnr. Marais die boek geskryf. Red.) verbete veg om sy nagedagtenis af te breek, is klaarblyklike getuienis van die mistieke mag wat aan ‘n heldefiguur kleef. Die verval en agteruitgang na dr. Verwoerd se dood, net soos in die geval van Caesar, is nie bewys van mislukking van sy staatsmanskap nie. Die verantwoordelikheid daarvoor rus op dié wie se doen en late sy lewe kortgeknip het voordat sy beleid ten volle kon ontplooi het, en op dié wat nie net sy werk nie voortgesit het nie, maar dit ontdoen het.” Sover die geskrif van mnr. Jaap Marais oor dr. Verwoerd.
Wat egter hierdie jaar opmerklik was met die 55ste herdenking van sy heengaan, was die jonger geslag se opmerkings daarvan op sosiale media. Talle inskrywings is gemaak, byna almal met die strekking dat dinge anders sou gewees het as dr. Verwoerd nie vermoor is nie. Selfs die gebruiklike geniepsighede vanuit linkse kringe het ontbreek.
Ons sluit hier (met toestemming van die outeur) af met ‘n inskrywing op Facebook van ‘n latere geslag – iemand wat die geskiedenis duidelik bestudeer het, en wat dit vergelyk met vandag.
Die inskrywing onder die naam van Marlene Silwerstene lui: “Die moord op Dr H.F. Verwoerd was rigtingbepalend vir die toekoms van Suid-Afrika. “Op 6 September 1966 is dr. HF Verwoerd met vier dolksteke vermoor.
“Met sy dood het Suid-Afrika sy vryheid verloor. Dit het die deure oopgemaak vir diegene wat nie in die mense van die land enige belang gehad het nie, maar eerder hulle finansiële belange voorop gestel het. “Dit het die doodsklok gelui vir ‘n eens welvarende land, met ‘n sterk Rand- wisselkoers, ‘n land wat selfversorgend was op talle gebiede, wat goedere vervaardig het wat wêreldwyd uitgevoer is. Destyds was die Suid-Afrikaanse universiteitskwalifikasies hoogs aangeskrewe, en dít wêreldwyd.
Die land het ‘n opvoedkundige sisteem gehad wat toegang gebied het tot skolastiese en tersiêre opleiding vir selfs die armstes in die bevolking. Misdaad was haas onbekend, ‘n mens hoef nooit jou huis, jou kar eens toe te gesluit het nie! “Ons het groot geraak in ‘n omgewing waar ons wedersydse respek en begrip vir mekaar geleer is, elkeen sy wyse van doen en late volgens sy kultuur en tradisies gegun was, elke bevolkingsgroep het die geleentheid gehad om volgens sy eie waardestelsel te groei en ten volle te ontvou, maar helaas, dit het nie in die planne van die Nuwe Wêreldorde en hulle trawante gepas nie! Hulle het die wiele aan die rol gesit om ‘n eiesoortige bestaan, ‘n veilige omgewing, voorspoed vir mens en dier, asook die
beskerming van die natuurlike omgewing te vernietig vir hul onblusbare geld- en magsug!
Ons sit nou met ‘n land sonder behoorlike grensbeheer, wat derduisende geluksoekers (en ook kriminele!) die geleentheid gee om die land ongestoord binne te kom, dit hou ‘n ernstige veiligheidsrisiko in vir die land en sy bevolking, dit skaad die ekonomie, die bietjie wat nog daarvan oor is, dit hou ‘n gesondheidsrisiko in vir hierdie land se bevolking, want dis onbekend watse siektes hulle aandra, dit plaas ‘n ongelooflike stremming op infrastruktuur soos mediese dienste, skolastiese opleiding, behuising, sanitasie, voedings- en waterbronne, hierdie bronne is beperk en kan net ‘n sekere aantal mense dra. Suid-Afrika was op ‘n agterbakse manier ingetrek in die globalistiese wêreld sonder grense, sonder eiesoortigheid,sonder enige vorm van beskerming. Die gevolg is dat ons geen weermag het waarop die land kan staatmaak vir die beskerming van die land se grense nie, polisiedienste het in duie gestort, so ook die opvoeding van die land se mense, gesondheidsdienste is in ‘n haglike toestand, water- en eletrisiteitsvoorsiening het ook erg agteruitgegaan. Ons sit nou met ‘n land wat in totale wanorde verval
het, waar moord en doodslag aan die orde van die dag is, waar mense mekaar erg wantrou, ‘n bevolking sonder enige morele waardes, sonder trots en sonder ‘n toekoms!
“Gevolglik kan net diegene oorleef wat geld het om hul lewenskostes te dek, wat hulself kan verdedig in geval van nood. Elkeen net vir homself! Dít in teenstelling van waarvoor dr. HF Verwoerd se siening was: ‘n land van voorspoed vir almal, veilig, elkeen volgens sy eie kultuur en tradisies met wedersydse respek, sy beginsels was gegrond op ‘goeie buurmanskap’, soos wat hy dit genoem het. Hy was ‘n vêrsiende man, wat die volke van Afrika geken het en net die beste wou gehad het vir ieder
en elk.”
Solank ons ‘n nuwe geslag het wat hierdie dinge raaksien, bly daar hoop vir ons volk se toekoms!
Uit Die Afrikaner van 10 September 2021