Dolf Buitendag

Die ekonomiese beleid van ‘n land vorm ‘n belangrike basis vir die voortgesette sukses van ‘n land, maar moet ook in diens van sy volk staan. Die ekonomie moet konstante groei toon en op nasionale en internasionale vlak kan meeding. Dit moet ‘n volhoubare en aanvaarbare lewenstandaard aan die bevolking bied en ook ‘n belastinginkomste aan die volk se regering om belangrike dienste soos gesondheid, onderwys, wet en orde, infrastruktuurskepping en instandhouding te kan lewer; voeg hierby ook nog ander belangrike dienste soos landsverdediging en ander funksies wat van ‘n staat
verwag word.

In lyn met die HNP se Program van Beginsels, soos vervat in klousules twee en drie word die ekonomiese beginsels ook in die Heilige Skrif, die onfeilbare Woord van God, voorgeskryf. Die sewe beginsels waarop die ekonomiese beleid berus kan dan ook terug herlei word na Die Bybel.

Die drie hoof ekonomiese stelsels wat tans in die wêreld gevind word, is kapitalisme, kommunisme en sosialisme. Kommunisme het oral in die wêreld misluk en daarom het kommunistiese regerings begin om toenemend kapitalisme in hulle stelsels in te voer. Sjina is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Sosialisme probeer om homself by ‘n kapitalistiese stelsel in te druk en wil soveel moontlik teer op die rykdom wat deur kapitalisme geskep is. Uiteindelik beweeg sosialisme al hoe nader aan kommunisme en kan homself nie oor die lange duur handhaaf nie.

Kapitalisme is die enigste volhoubare ekonomiese stelsel. Ongelukkig het geldsugtige kapitaliste van wêreldformaat hulself regte begin toeëien en die stelsel misbruik vir eie selfsugtige gewin. Die Program van Beginsels van die HNP – Grondwet vir die Boere-Afrikanervolk Ekonomiese Beleid Hulle het verskeie voorskrifte in die Bybel geïgnoreer en tree op asof hulle in beheer van die wêreld is. Die lesse hieruit bring ons terug na hoe volhoubare kapitalisme behoort te werk; die stelsel kan beskryf word as Meelewende Kapitalisme.

“Meelewende Kapitalisme is ‘n ekonomiese stelsel wat kapitaal voortbring as beloning aan die entrepreneur en aan hom die geleentheid bied om sy vermoëns aan te wend tot sy voordeel en tot diensbaarheid aan sy volk met verantwoording en eer aan sy Skepper. Kompetisie, winsneming, etiese norme en selfbeheersing vorm deel van die stelsel, getoets aan die riglyne aan Die Bybel.” (Meelewende Kapitalisme p. 43).

Sonder een van die belangrikste bates wat die kapitalisme meegebring het, naamlik vrye mededinging, sou die vrye wêreld vele uitvindings en ontdekkings wat ons daaglikse lewe verryk, moes ontbeer. Dit is waarom kommunisme so ‘n groot oortreder van ander lande se uitvindings is.

Die sewe pilare of beginsels waarop meelewende kapitalisme berus is almal terug herleibaar tot Die Woord en behels die volgende:

• Behandel werknemers regverdig
• Bied geleenthede aan volksgenote
• Sien om na die hulpbehoewendes
• Bedryf sake volgens etiese norme
• Betaal jou offergawes
• Gee om vir die natuur
• Onderhou die Sabbat

Behandel werknemers regverdig

‘n Land se regering se eerste verantwoordelikheid is teenoor sy volk. Die Woord vereis dat daar ‘n spesiale verhouding
tussen volksgenote (naaste) moet bestaan, maar dat die vreemdeling regverdig behandel moet word. Elke werknemer
moet dus regverdig en billik behandel word. Die onderneming kan alleen volhoubaar bedryf word as werknemers volgens meriete aangestel en bevorder word. Regverdige behandeling en vergoeding word dus vereis. Die beleid berus op ‘n vrye ekonomiese stelsel met minimale staatsinmenging; vergoeding word bepaal deur vraag en aanbod asook kwalifikasie en ondervinding; gesonde ekonomiese groei is dus belangrik om die balans tussen vraag en aanbod en mededingende vergoeding te behou.

Bied geleenthede aan volksgenote

Geldsugtige korporatiewe ondernemings duld geen kompetisie nie; mededinging moet dus uitgedruk of uitgekoop word. Dit is dus belangrik dat die balans in die mark dop gehou moet word om geleenthede ook aan ander ondernemers te bied wat die mark wil betree.


Sien om na die hulpbehoewendes

Enige volk het sy hulpbehoewendes. Dit mag wees weens ouderdom, gestremdheid of ander faktore.
Die staat het ‘n verantwoordelikheid teenoor diesulkes en moet na hulle omsien met deernis; dit sluit nie mense in wat te lui is om te werk nie, maar dan moet daar werksgeleenthede bestaan.

Bedryf sake volgens etiese norme
Daar word van die volk se regering verwag om volgens etiese norme te regeer, dieselfde etiese optrede word van ondernemers verwag. Oortreders sal vervolg word en korrupsie sal op geen terrein van die ekonomie geduld word nie; nie tussen staat en ondernemers of tussen ondernemers onderling nie.

Betaal jou offergawes

Die verantwoordelikheid vir ‘n onderneming om sy offergawes te betaal is ‘n saak vir sy gewete. Die volksregering se taak sal wees om die klimaat te skep sodat die geestelike behoeftes van sy inwoners in vrede en met redelikheid en met minimum
belasting kan plaasvind.

Gee om vir die natuur
Die grond en wat daarop en daarin is en die lug, is deur die Skepper aan almal gegee. Die vernietiging daarvan kan nie aanvaarbaar wees nie. Waar mynbou moet plaasvind moet die natuur herstel word en as die lug besoedel word, moet dit sover moontlik verhoed word. Die volksregering moet die nodige wetgewing skep om die balans te handhaaf.

Onderhou die Sabbat


Onnodige handel op Sondae moet gestop word. In die verlede was Sondaghandel nie nodig nie en dit is toegelaat deur ‘n regering wat sy Christelike verantwoordelikheid versaak het ter wille van die geldsug van groot ondernemings. In vele oorsese lande is Sondaghandel steeds minimaal en dit kan ook in ‘n eie volksregering tot orde geroep word. Sondaghandel oortree nie net die Woord nie; dit ontwrig gesinne waar die vader of moeder moet gaan werk om in ander se selfsugtige behoeftes te voldoen.

Elkeen van die beginsels word duidelik in die Skrif behandel en verduidelik. As dit toegepas word, sal die natuur en die mens nie ly soos wat tans die geval is nie. Hulpbehoewendes sal die nodige versorging ontvang, die entrepreneur kan sy talente met
oorgawe, maar met selfbeheersing, uitleef en op daardie basis vir hom sy beloning (rykdom) skep. Die groot korporatiewe ondernemings sal saam met kleiner besighede kan saamleef en nie alles net vir hulself wil inpalm nie.

Die volk se regering sal met dieselfde selfbeheersing na die land omsien en nie riviere laat besoedel en nywerhede toelaat, wat niks ontsien, om alles in hulle geldsug in te palm nie. Eiendomsreg sal vanselfsprekend eerbiedig word en so ook die eienaarskap van ‘n onderneming se aandeelhouers, want hulle is en was die risikonemers. Die staat se inmenging in die ekonomie sal beperk word, want die ondernemers volg die sewe riglyne. ‘n Onderneming wat die riglyne ignoreer het homself te blameer as die staat hom moet aanspreek.

As die sewe riglyne toegepas word sal dit ‘n gebalanseerde ekonomie skep waar prysuitbuiting nie sal voorkom nie; daar sal ook geleentheid wees vir werknemers om te presteer en om volgens meriete vergoed te word.

‘n Vrye ekonomie, binne die kapitalistiese stelsel, is onlosmaakbaar van vryheid vir ‘n volk. Dit is waarom kommunisme en sosialisme indring in die vryheid van indiwidue en ondernemings. ‘n Volksregering, onderskraag deur ‘n vrye kapitalistiese
stelsel wat die riglyne volg wat uitgewys is, sal dit maklik vind om in diens van sy volk te bly en die vryheid en regte van sy volk te beskerm en oor te dra na die volgende geslagte.

Uit Die Afrikaner 24 September 2021