Jaap Marias was wéér reg:
Sewe en twintig jaar nadat die voormalige HNPleier, wyle mnr. Jaap Marais, in sy boek, Die Era van Verwoerd, duidelik aangetoon het dat Dimitri Tsafendas geen mal man was toe hy dr. HF Verwoerd vermoor het nie, is dit bevestig deur ‘n Portugese akademikus, Harris Dousemetzis.
In 2019 het Dousemetzis ʼn boek van meer as 500 bladsye die lig laat sien onder die titel: The man who killed apartheid – the life of Dimitri Tsafendas. Hierdie inligting het weer aktueel geword nadat die Grieks Ortodokse Kerk van Maputo dié maand besluit het om Tsafendas te vereer. Twee linkse kommentators, Max du Preez en Piet Croucamp, is deur die Afrikaanse staatsuitsaaier, RSG, in die Monitorprogram gevra vir hul kommentaar oor die verering.
Beide was wel van mening dat om iemand te vereer wat iemand anders doodgemaak het, nogal in ‘n vreedsame instelling soos die parlement, nie reg is nie. Du Preez het dit sterker uitgedruk deur te sê dit is fundamenteel verkeerd dat ‘n kerk of geestelike instelling iemand vereer wat ‘n moord gepleeg het.
Dousemetzis is deur Du Preez as ‘n bekwame akademikus beskryf wat goeie navorsing gedoen het in sy boek oor Tsafendas. Van die onderhoude wat hy gevoer het, was met vier Grieks-Ortodokse priesters wat Tsafendas goed geken het, en wat
hom nie as mal beskryf het nie. Dit blyk duidelik at Tsafendas al van jongs af ‘n politieke aktivis was. So vroeg soos 1938 het die Portugese polisie hom al begin dophou en ‘n dossier oor hom oopgemaak. Hy was van toe af al ‘n politieke figuur.
Uit die onderhoude wat in die boek gepubliseer is, blyk dit dat Tsafendas vir verskeie mense gesê het dat apartheid sal sneuwel as Verwoerd nie meer daar is nie, en dat Verwoerd eintlik doodgemaak moet word. Max du Preez glo ook dat Tsafendas duidelik heeltemal by sy sinne was en dat hy geen mal man was met ‘n wurm in sy kop nie, soos verklaar is na Verwoerd se moord en Tsafendas as staatspasiënt verklaar is.
Piet Croucamp het wel ʼn opmerking gemaak dat Verwoerd ‘n “legitieme politieke teiken” was vir sy opponente, maar dit as weersinwekkend beskou om iemand daarvoor dood te maak.
Reeds in 1992 het mnr. Jaap Marais in sy boek, Die Era van Verwoerd, genoeg getuienis aangehaal wat daarop dui dat Tsafendas geen mal man was nie, maar dat hy ‘n politieke figuur was. Mnr.Marais gaan egter verder en glo dat daar magte
agter Tsafendas gesit het wat die hele beplanning en tydsberekening hanteer het. Daardie aspek is egter nooit ondersoek nie, en deur Tsafendas mal te verklaar en in ‘n inrigting te plaas, is die ware motief vir sy daad ook onder die mat ingevee. Mnr.
Marais skryf daaroor: “Tsafendas was 47 jaar oud toe hy die moord gepleeg het. Sy lêer by die Gevangenisdiens is A5078, waarin hy beskryf word as ‘’n gekleurde persoon, ‘n uiters vindingryke en geslepe individu, wat liggaamlik en geestelik in
staat is om ‘n ontsnapping te beplan en uit te voer.’ Dit strook kwalik met die bevinding dat hy nie bevoeg is om verhoor te word nie. Alles rondom die versuim en nalatigheid in verband met Tsafendas, die verhoor en die bevinding dat hy onbevoeg
is om verhoor te word, en die ondersoek deur (regter JT) Van Wyk, flits vrae wat nog nie beantwoord is nie.”
Ander belangrike inligting wat mnr. Marais gepubliseer het, is dat Tsafendas verbonde was aan die Kommunistiese M- Apparaat, dat die SA Veiligheidspolisie al in 1941 ‘n lêer oor hom gehad het en dat hy gereeld gesien is by die kommunistiese prokureur, Rowley Arenstein, se kantoor in Durban. Daar was ook getuienis voor regter Van Wyk
van ‘n mnr. Vercueil, onder wie Tsafendas gewerk het, dat laasgenoemde aan hom gesê het: “Jy is net soos jou “bloody” regering. Ek sal jou nog kry. Ek sal ook julle Eerste Minister kry.”
Ten tye van mnr. Marais se boek, is hy nie ernstig opgeneem oor sy onthullings nie, maar dit is nou weer bewys dat Jaap Marais reg was.
Uit Die Afrikaner van 22 Oktober 2021