Deur die leier van die HNP, mnr Andries Breytenbach

Was daar al ooit  ʼn volk op aarde wat so met sy voortbestaan gedobbel het soos die Afrikanervolk ná 1966? Ek glo nie.

Vroeër daardie jaar het die Nasionale Party met sy beleid van afsonderlike ontwikkeling sy opponente in ʼn algemene verkiesing verpletter. Ná die dood van dr. HF Verwoerd, bykans ses maande later, het mnr. John Vorster die leisels oorgeneem en die politieke wa na links begin krink. Die veranderinge was subtiel en die propagandamasjien wat dit gesteun het, oorweldigend. Dit is daarom te begrype dat die kiesers in 1970 in oorweldigende getalle die NP sou steun. Hulle wou nie glo dat daardie party (en ons volk) in ʼn nuwe rigting gelei word nie. Maar in weerwil van al die waarskuwings en duideliker wordende tekens wat in die jare daarna gevolg het, het ʼn groot deel van die kieserspubliek die NP bly steun. In 1983 het hulle PW Botha se driekamerparlement met ʼn oorweldigende meerderheid goedgekeur. Daarmee is die blanke se alleenseggenskap oor ons vaderland prysgegee, en nege jaar later het hulle die politieke mag holis polis aan ʼn swart terroristebende oorhandig.

Meer as 27 jaar lank dra ons reeds die gevolge van daardie dwaasheid. Terwyl dit tot al meer Afrikaners deurdring dat onafhanklikheid in ʼn eie soewereine republiek die enigste hoop op oorlewing bied, klink die kreet al meer op dat ons moet “saamstaan”.

Met eenheid van oortuiging, kragte, middele en doel kan baie bereik word. Dit het ons voorouers al besef toe hulle Eendrag maak mag as leuse gekies het. Sonder dié elemente is ʼn blote saambring van getalle misleidend. Dit skep ʼn misplaaste hoop dat die getalle noodwendig ons situasie noemenswaardig gaan verbeter en selfs tot ʼn soort selfstandigheid vir ons volk sal lei.

Die kernvraagstuk waarmee nie net óns volk nie, maar ook talle ander volke wat onder vreemde heerskappy gebuk gaan, worstel, is die vraag: hoe kom ons onder die vreemde politieke juk uit? Deur die gewone (vreedsame) politieke prosesse is dit onmoontlik ten spyte van die vrome internasionale konvensies wat volke se reg op “selfbeskikking” erken. Toe Suid-Afrika onafhanklikheid gegee het aan die volke van die Transkei, Bophuthatswana, Venda en die Ciskei, wou geen land hul onafhanklikheid erken nie; inteendeel, hulle het almal saamgespan om al die volke in Suid-Afrika, insluitend die Afrikanervolk, in een kunsmatige eenheidstaat in te boender.

Ons is oortuig dat die teenswoordige politieke bestel nie onbepaald kan voortduur nie; dit sal in duie stort. ʼn Grondwet van ʼn land dra net gesag solank as wat die onderhorige bevolking hom daaraan onderwerp en die regering oor die mag en instrumente beskik om dit af te dwing. Wanneer die bevolking hom nie meer daaraan gebonde ag nie en die owerheid ook nie meer in staat is om sy gesag te laat geld  nie, ontstaan anargie. Dan trek die werklikheid ʼn streep deur die bestaande wetboeke. Die bevolking neem die reg in eie hande en oefen gesag uit soos en waar hulle kán en ter wille van selfbehoud móét. Dit sal vir ons volk die geleentheid skep — en ons trouens dwing — om self gesag te vestig waar ons dit kán doen. Wanneer die anargie tot bedaring kom, sal nuwe wette geskep word volgens die situasie wat dan heers, en nie volgens onhoudbare akademiese teorieë van liberaliste nie.

Die HNP glo in die toekoms van ons volk. 52 jaar gelede het ons die stryd aangebind teen die magte wat ons wil vernietig. Daardie stryd duur voort.

Mag hierdie kongres die vryheidsvlam in die harte van ons volk só laat opvlam dat volksgenote wat nog aan hierdie goddelose politieke bedeling vasklou, die rug daarop keer en die toekoms moedig instap onder die vaandel van ONS EIE EERSTE!