Mnr A Breytenbach
Wyle mnr. Jaap Marais het dikwels voorspel dat die politieke bestel waaronder ons land sedert 1994 gebuk gaan, in duie sal stort. Wanneer dit gebeur, sal dit gepaard gaan met geweld en dan sal daar “nuwe” grense getrek word — langs etniese lyne. Daardie tyd moet ons volk gereed wees om óns grense af te baken.
Wat presies word bedoel met “die bestel sal in duie stort”? Ons sien en hoor daagliks hoe die land agteruitgaan: die staatskorporasies, paaie, munisipale dienste. Dorpe sit dae lank sonder water, kort-kort verduur ons beurtsonderkrag, die land se geld is op, die fiskus is leeg gesteel, en dies meer. Daar gaan letterlik nie ʼn dag om wat daar nie op een of ander plek betogings teen “swak dienslewering” plaasvind nie. Die betogings gaan telkens met geweld, brandstigting, vernielsug en ontwrigting van ander mense se lewens gepaard.
Die instrumente wat wet en orde in die land moet handhaaf en verseker dat die verkose regering in beheer bly, naamlik die polisie, weermag, howe en gevangenisse, funksioneer egter nog — weliswaar die na wense nie, maar darem tog. Daarom bly die swart regering in beheer van die land. Wanneer hierdie instrumente nie meer funksioneer nie, is die staat se vermoë om wet en orde — en daarmee saam sy gesag — te handhaaf, tot niet. Dan neem die burgery oor: die gepeupel met die doel om te plunder, te verwoes en anargie te skep; en die beskaafdes om in hul onmiddellike omgewings of belangegebiede hulself en hul eiendom te beskerm en orde te handhaaf. Die gebeure in Natal en dele van Transvaal vroeër vanjaar is ʼn voorbeeld van so ʼn situasie.
In ons land met sy 90 persent swart inwoners, waarvan die grootste deel onontwikkeld en baie boonop werkloos is, vorm hierdie gepeupel die falankse wat roof, plunder en verwoes. In die onderhawige omstandighede ontstaan daar tussen hulle faksies wat met mekaar wedywer (byvoorbeeld die bendes op die Kaapse vlakte). Sulke faksies maak hulle eie reëls wat op die inwoners van die gebiede wat hulle domineer, afgedwing word. As die polisie nie in staat is om die wettige gesagstrukture daar in stand te hou nie, word die gewone landswette effektief vervang met die reëls van die sterkste faksie in ʼn bepaalde gebied. Ons het iets daarvan gesien gedurende die ANC se “struggle”,
Wanneer die bestel in duie stort toe hulle die land onregeerbaar wou maak en met halssnoermoorde die bevolkings van talle swart woongebiede tot onderhorigheid aan húlle gesag gedwing het.
Wanneer die anargie uitgebreid en erg genoeg is, proklameer die verkose regering gewoonlik ʼn noodtoestand, want dit stel hom in staat om die gewone regsprosesse en menseregte te systap en allerlei streng reëls en regulasies uit te vaardig ten einde sy gesag te probeer handhaaf. Die polisie word met spesiale magte beklee wat vinnig tot magsmisbruik en onderdrukking van die gewone burgery lei. Die teenswoordige ramptoestand, wat telkens net verleng word, toon hoe maklik dit is om die verkose parlement te ignoreer en die regte van die burgery wat deur die land se grondwet “gewaarborg” word, na willekeur op te skort en ʼn tirannieke bewind te voer.
Neem die anargie toe en die burgery bereik ʼn punt waar hulle hul met geweld en offensiewe aksie teen die regering se tirannie en die gewapende magte wat dit moet afdwing, verset, slaan die anargie oor in ʼn volskaalse rewolusie. In sulke omstandighede moet die veiligheidsmagte besluit waar hulle lojaliteit lê: by die regering in wie se diens hulle staan, of by die opstandige bevolking wat dalk vorentoe met hulle gaan afreken.
Daar is tans ʼn videoknipsel op die sosiale media in omloop oor drakoniese maatreëls wat in die staat Victoria in Australië ingestel word of staan te word teen persone wat nie die Covid-inentings wil aanvaar nie. Dit behels onder meer dat sulke persone nie winkels mag besoek nie of toegang tot bankdienste kan kry nie, swaar boetes vir winkeliers wat sulke persone sou bedien en swaar boetes vir minderjarige kinders wat nie maskers dra nie.
As so iets in Suid-Afrika geproklameer sou word, wil ek nog die polisie sien wat vir ʼn horde honger gepeupel voor ʼn winkel vol voorraad beduie dat hulle hul eers moet gaan laat inent voordat hul kos mag koop. Uit vrees vir die gepeupel en uit simpatie met hulle, is daar min twyfel oor waar daardie polisie hulle lojaliteit sal laat geld. Wanneer dié punt bereik word, stort effektiewe beheer en gesag van die wettige regering in duie, en as die gepeupel eers die gevoel kry dat hulle die oorhand het, ken hul optrede nie meer perke nie. In Frankryk het hulle die Bastille bestorm en die koning se kop afgekap.
In Rusland het hulle die Tsaar en sy hele gesin vermoor. In Suid-Afrika het oorlede Winnie-hulle geleer hoeveel krag daar in ʼn dosie vuurhoutjies verpak is. Ek sidder vir die parlementsgebou daar in die Kaap…
Dit is nie net die Covid-beperkings wat so ʼn toestand kan laat ontwikkel nie. Met alles wat die ANC reeds in Suid-Afrika agteruit laat gaan of vernietig het en hulle onuitvoerbare beloftes aan die swartes waarvan dadels gekom het, het die vlakke van ontevredenheid en spanning in die land abnormaal hoog gestyg. Dit word aangevuur deur die onderdrukkende diskriminasie teen óns volk en die voortdurende haatpropaganda wat die witmense blameer vir die swartes se agtergeblewenheid en alles wat verkeerd is in die land, en die gevolglike aanvalle en moorde op ons mense.
Nog ʼn faktor wat die land oornag in anargie kan dompel, is die onbestendige kragvoorsiening deur Eskom as gevolg van sabotasie, diefstal, onwettige kragaansluitings en ander vorms van ondermyning wat klaarblyklik daarop gerig is om te “bewys” dat die huidige hoof ook maar nie beter kon vaar as sy swart voorgangers nie.
Wat ook al die oorsaak mag wees, wanneer so ʼn toestand ontstaan, is die burgerlike gemeenskap op homself aangewese vir sy veiligheid. Die verantwoordelike deel van die bevolking het geen keuse nie as om in die gebiede waar hulle woon, strukture te vestig wat gesag kan uitoefen, orde kan afdwing en hulle mense teen die terreur van die gepeupel en gesagsdraers van die tirannieke owerheid kan beskerm. Ons moet onder geen illusies verkeer nie, regerings kapituleer nie maklik nie en solank hulle volgelinge wapens in die hand het, is daar altyd ʼn klomp lojaliste wat met ongekende magsvergrype die bevolking sal viktimiseer en intimideer. Dít is wat mnr. Marais bedoel het toe hy voorspel het dat die bestel in duie sal stort.
Ons het gesien hoe, tydens die voorgenoemde onluste in Natal en dele van Transvaal, die voorsiening van lewens- en ander noodsaaklike voorrade en dienste ontwrig is tot die mate dat winkelrakke, vulstasies en ander voorsieningspunte leeg geraak het en noodsaaklike lewensmiddele onverkrygbaar was. Vanaf die streke in die land waar die lewe normaal voortgegaan het, kon daar gelukkig noodvoorrade na die onlusgeteisterde dele geneem word. Maar hoe gemaak wanneer die anargie landswyd plaasvind en vervoer so belemmer word dat mense mekaar nie meer op die gewone manier kan bereik nie?
Dit is dán wanneer die inwoners georganiseer moet wees, want nou gaan dit om selfbehoud. Indiwidue met hier ʼn pistool en daar ʼn jaggeweer en ʼn klomp wat hulleself ontwapen het toe hulle hul wapens by die polisie ingehandig het, keer nie ʼn massa besetenes waarvan baie oor ongelisensieerde wapens en selfs outomatiese gewere beskik nie. Dit moet ʼn behoorlik georganiseerde verdedigings- en burgerlike bestuursaksie wees, want die gewone behoeftes van die burgery duur voort. Die gemeenskap moet weet wie voer die bevel oorhoofs en per groep; wie doen watter take, waar klop hulle aan vir hulp, waar bied hulle hulp aan. Hulle sal in spanne georganiseer moet word om na die voorsiening van ʼn menigte noodsaaklike dienste en goedere om te sien: elektrisiteit, water, brandstof, brandbestryding, noodhulp, voedsel, medisyne en dinge om babas, oumense en hulpeloses te versorg. Ook kommunikasie, want daar sal nie op selfone en die Internet staatgemaak kan word nie. Ervaring het getoon hoe maklik torings en sentra wat onder regerings- of vyandige beheer is, afgeskakel kan word. Toegang en verblyfreg vir inwoners en arbeiders sal beheer moet word, en fasiliteite om gearresteerde persone aan te hou en met hulle te handel, moet daargestel word.
Só sal gebiede tot stand kom waar ons onsself, en ander volke hulleself regeer, nie onder gesag van die huidige volksvreemde regering en wette van húlle parlement nie, want die huidige politieke bedeling sal irrelevant wees, tot niet, sal nog net op papier bestaan. Op die grond sal die toestand anders lyk as tans, en wanneer orde herstel en die land tot bedaring gebring is, sal ʼn nuwe Grondwet en ander wette geskryf word wat die werklikhede van Suid-Afrika en sy volkere verskeidenheid weerspieël, nie die onhoudbare akademiese teorieë van die liberaliste nie.
Is ons gereed om óns grense af te baken? Dit sal goed wees as volksgenote van verskillende instansies byeenkom vóórdat so ʼn toestand oornag op ons daal. Ons moet oor verskeie van dié dinge ooreenstemming bereik en inligting uitruil, want sommige gebiede het al ver gevorder met beplanning vir so ʼn situasie, terwyl ander nog geen gebeurlikheidsplan in plek het nie. Wanneer dit skielik op ons afkom, sal daar nie tyd wees vir beplanning nie, die leidende persone sal te besig wees om die praktiese dinge wat gedoen moet word, te bestuur.
Die Afrikaner 26 November 2021