Dit is ʼn ou en mooi tradisie om aan die begin van ʼn nuwe jaar aan ons geliefdes, gemeentes en volk Nuwejaarsboodskappe te rig. Omdat ons toekomsgerig is, weerspieël sulke boodskappe gewoonlik die hoop en verwagting dat die jaar wat voorlê beter of voorspoediger sal wees as die een wat verby is. Met drie weke van 2022 al agter die rug en alle bedrywighede reeds in volle swang, kan daar kwalik nog sprake wees van ʼn “Nuwejaars”boodskap. Tog kan ons in hierdie onseker tye mekaar maar weer herinner aan die apostel Jakobus se tydlose vermaning: “Kom nou, julle wat sê: vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan — julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. In plaas dat
julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”
Met dié vermaning ter harte genome, kyk ons vorentoe en boontoe met betrekking tot ons volk omdat ons weet dat ons lotgevalle in ʼn hoër en beter Hand is as ons eie. Dit ontneem ons egter nie die plig en verantwoordelikheid om hard en met toewyding te stry vir die behoud van die erfenis wat deur ons voorgeslagte aan ons oorgegee is nie. Dit was die wyse koning Salomo wat êrens geskryf het dat ʼn lewendige hond beter is as ʼn dooie leeu. Toegepas op ons volk se situasie kan ons sê dat wanneer ons aan die einde van die jaar sal terugkyk, “klein” dinge wat gedurende die jaar uitgevoer is, van groter betekenis sal wees as allerlei groot ondernemings waarvan gedroom is, maar wat net by drome gebly het.
Mens bespeur soms ʼn geneigdheid by vele van ons volksgenote om nuwe dinge, nuwe groeperings, nuwe aksies na te jaag. Die nuwe inisiatiewe hou nuwe belofte in en die entoesiasme daarvoor is groot. Maar wanneer dit nie aan die — dikwels onrealistiese — verwagtings wat daaraan gestel word, voldoen nie, kwyn die belangstelling daarvoor en word na ʼn nuwe strooihalm gegryp. Om nuwe dinge te begin, is maklik. Om daarmee vol te hou, is ʼn perd van ʼn ander kleur.
As ons maar net kultureel kon handhaaf wat ons 28 jaar gelede, toe die politieke mag oor ons vaderland so klakkeloos prysgegee is, gehad het, sou ons volk vandag veel sterker gestaan het, in staat om die aanslae teen ons met soveel meer effek te weerstaan. Om te handhaaf, is dus op sigself al iets groots; om daarop voort te bou, getuig van doelgerigtheid en lewenskrag, en dit werk aansteeklik. Daarom is dit die moeite werd om in die jaar wat voorlê ons kulturele en geestelike erfenis te koester en te bewaar. Eers wanneer ons volk, wat in hierdie stadium maar taamlik verflenterd en gefragmenteer daar uitsien, weer kultureel en geestelik sterk staan, sal daar in die woorde van wyle dr. D.F. Malan uit die graf van die huidige doodsheid verrys nuwe hoop, nuwe vaderlandsliefde, nuwe wilskrag en nuwe eenheid — om doelgerig en vasberade die groot en dringende vraagstukke van ons volk op te los. Dit is nie ʼn kitsresep nie, dit verg deursettingsvermoë, volharding en offerbereidheid. Van die Voortrekkers, wat by uitstek dié eienskappe gehad het,
het NP van Wyk Louw geskryf:
“Hul het aan geen groot daad gedink
of roem of rykdom, en gesink
eenvoudig sterwend, in die dood,
soos ʼn donker fondamentklip val
en nié weet van die suil wat groot
hoog oor hom in die son sal blink.”
Kom ons gryp die geleenthede wat op ons weg lê, self met dié gesindheid aan, sonder om te wag dat een of ander “leier” eers na vore kom en die toon aangee. Dan sal ons en ons nageslag aan die einde met behae en dankbaarheid kan terugkyk op hierdie moeilike tydvak in ons geskiedenis.
Andries Breytenbach