Persverklaring van die leier van die HNP om Die Stem uit die ANC se landslied te verwyder:
Geagte leser,
Die leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach, het ‘n amptelike versoek gerig aan mnr. Cyril Ramaphosa dat die gedeeltes van “Die Stem” uit die landslied verwyder moet word, om historiese redes, en omdat ‘n groot aantal Afrikaners hulle nie vereenselwig met die huidige bestel nie.
Mnr. Breytenbach het voorts versoek dat ‘n aankondiging hieroor in volgende week se Staatsrede gemaak sal word.
Die volledige skrywe en motivering aan Ramaphosa word hierby aangehag.
Vir onmiddellike vrystelling.
Navrae: Mnr. Andries Breytenbach
Tel. 082 322 6590
Aanbeveling vir die skrapping van die Afrikaanse versreëls van Die Stem van Suid-Afrika uit die ANC se Nasionale Lied van Suid-Afrika.
Die HNP van SA versoek dat die Afrikaanse versreëls van Die Stem van Suid-Afrika wat in die huidige nasionale lied van Suid-Afrika (Nkosi Sikelel’ iAfrika) opgeneem is, uit laasgenoemde lied geskrap word.
Motivering:
Die Stem van Suid-Afrika is oorspronklik as ʼn gedig, en nie as ʼn volkslied nie, deur die voorste taalstryder van sy tyd vir Afrikaans, C.J. Langenhoven, spesifiek vir die Afrikanervolk geskryf. Daarom lui die slotwoorde van die tweede strofe:
“Vaderland! Ons sal die adel van jou naam met ere dra;
Waar en trou as Afrikaners — kinders van Suid-Afrika.”
Die gedig is getoonset en het toe as ʼn lied soveel byval by Afrikaners gevind dat hulle dit uiteindelik as volkslied aanvaar het en begeer het dat dit as die nasionale volkslied van die Unie van Suid-Afrika geproklameer moes word. (In daardie stadium — meer as 20 jaar na die totstandkoming van die Unie — is die Britse volkslied, God save the King, nog nie-amptelik as die nasionale lied van Suid-Afrika gebruik).
Om ook die Engelssprekende deel van die landsburgers van daardie tyd te oorreed om Die Stem as die amptelike volkslied van Suid-Afrika te aanvaar, moes ʼn Engelse weergawe (synde die ander amptelike taal van daardie tyd) ook geskep word. Die inhoud en karakter van dié lied is egter só sterk Afrikaner-gerig dat ʼn aanvaarbare Engelse vertaling slegs gedwonge en met groot moeite geskep kon word. Uit die materiaal van 226 vertalingspogings is uiteindelik daarin geslaag om ʼn definitiewe vertaling saam te stel wat deur die destydse regering as die amptelike Engelse vertaling van Die Stem aanvaar is.[1]
Tot 1957 is die Britse volkslied (God Save the King) en Die Stem van Suid-Afrika gesamentlik as nasionale liedere van die Unie van Suid-Afrika gebruik. Dit was natuurlik heeltemal onvanpas en in 1957 het die regering wetgewing deurgevoer om Die Stem van Suid-Afrika as die amptelike en enigste volkslied van Suid-Afrika te proklameer.
Toe die Unie van Suid-Afrika in 1961 ʼn republiek geword het, is Die Stem in die republikeinse grondwet as die amptelike volkslied van die Republiek behou.
In 1974 het die Transkeise volk onafhanklik geword en ʼn volkslied van sy eie keuse, wat daardie volk se karakter en strewe uitdruk, aanvaar. In daaropvolgende jare het ander volke wat onafhanklikheid van die RSA gekry het (Ciskei, Venda, Bophuthatswana) , dieselfde gedoen. Dit was reg, dit was mooi en so het dit gehoort. ʼn Land se nasionale lied moet die volk van dáárdie land se geskiedenis, karakter en sentiment uitdruk, nie dié van ʼn ander volk nie.
In 1994 is ʼn nuwe politieke en sosiale bedeling op die volkere in Suid-Afrika afgedwing. Die nuwe bedeling is voorgehou as ʼn “versoening” tussen die blanke en swart inwoners van Suid-Afrika en die skepping van ʼn “Suid-Afrikaanse nasie”. Dit is ʼn valse voorstelling want met dié bedeling het die Boerevolk/Afrikanervolk sy status as ʼn soewereine onafhanklike volk verloor. Sedertdien word ons unieke volkskap, geskiedenis, karakter, aard en sentiment misken en vertrap. Dit is juis die besef van eie volkskap wat die Voortrekkers beweeg het om gedurende die 1830s uit die Kaapkolonie te trek en eie Boererepublieke tot stand te bring. Dié republieke is weliswaar na ʼn bloedige oorlog in 1902 deur Brittanje vernietig, maar nie die volk van daardie republieke en sy besef van eie volkskap nie. Dié sentiment en strewe het voortgeleef en was die dryfkrag wat gelei het tot die oprigting van die Republiek van Suid-Afrika in 1961. Die Stem is ʼn uitdrukking dáárvan.
Lynreg daarteenoor staan die bedeling wat in 1994 tot stand gekom het, en die ANC se Nkosi Sikelele Afrika. Van laasgenoemde lied skryf die antropoloog David Coplan: “ ‘Nkosi Sikelel’ iAfrika’ has come to symbolize more than any other piece of expressive culture the struggle for African unity and liberation in South Africa.”[2]
Om ʼn paar versreëls van ʼn lied met ʼn baie spesifieke betekenis, soos Die Stem, uit verband te ruk en in ʼn ander lied met ʼn teenoorgestelde betekenis en inslag (Nkosi Sikelel’ iAfrika) in te plak, ten einde aan Afrikaners kastig ʼn gevoel van insluiting te gee, is totaal onvanpas en pure huigelary, soos wat die uitsluiting van Afrikaners op talle terreine, en die afgradering en onderdrukking van die Afrikaanse taal sedert 1994, toon. Ons beskou sit as misbruik van ons kultuurerfenis.
Ons, die Afrikaner/Boerevolk vereenselwig ons nie met die huidige politieke en sosiale bedeling en ʼn “Suid-Afrikaanse nasie” nie. Ons is ʼn volk in eie reg, met ʼn eie kultuur, herkoms, geestesinslag, lewens- en wêreldbeskouing wat verskil van dié van die ander volke van Afrika. Ons ganse geskiedenis is ʼn verhaal van stryd téén oorheersing deur vreemde magte. Ons is nie deel van die “African unity” nie. Die “liberation in South Africa” het vir ons volk die verlies van ons vryheid meegebring.
Aanbeveling:
In die lig van bostaande motivering en aangesien die insluiting van die betrokke versreëls van Die Stem in Nkosi Sikelel’ iAfrika die valse indruk skep dat ons ons met die heersende politieke en sosiale bedeling vereenselwig, beveel ons aan en versoek ons dat die onderhawige versreëls uit die ANC se huidige nasionale lied van Suid-Afrika geskrap word. Afrikaanssprekendes wat hulleself met die heersende bedeling vereenselwig, behoort tevrede te wees met die ANC se Nkosi sonder ʼn paar versreëls van Die Stem.
A.E. Breytenbach
1 Februarie 2022
[1] Ensiklopedie van die Wêreld, Vol. 3, p. 433.
[2] https://en.wikipedia.org/wiki/Nkosi_Sikelel%27_iAfrika#cite_note-2: Coplan, David B.; Jules-Rosette, Bennetta (2004). “ ’Nkosi Sikelel’ iAfrika’: From Independent Spirit to Political Mobilization”. Cahiers d’Études Africaines. 44 (173/174): 343–367. doi:10.4000/etudesafricaines.4631.