Sommiges is meer gelyk as ander:
Op 21 Maart is dit 62 jaar gelede dat sowat 7 000 swartes opgeruk het na die Sharpeville polisiekantoor, met alles behalwe vreedsame bedoelings.
Soos op die een foto gesien kan word het van die mense in die skare met gebalde vuiste opgeruk, ander het stokke en klippe by hulle gehad waarmee hulle die polisie bestook het.
Deesdae word dié dag as sogenaamde Menseregtedag gevier, waartydens alle blaam op die polisie geplaas word wat destyds nie juis ‘n ander keuse gehad het as om hulleself teen dié geweldige oormag te beskerm nie. Daar was slegs sowat 20 polisiebeamptes aan diens, en mettertyd het die skare vermeerder tot sowat 20 000 waarna daar 130 ekstra polisie versterkings ingebring is.
Lugmagvliegtuie is ingespan om laag oor die skare te vlieg om hulle uiteen te probeer jaag. Die betogers het klippe gegooi, drie polisiemanne geslaan en ernstig aangerand, asook die polisieversperrings bestorm. Polisiebeamptes het probeer om traangas te gebruik om hierdie eskalerende geweld af te weer, maar dit was ondoeltreffend, en die polisie het teruggeval op die gebruik van hul knuppels. Omstreeks 13:00 het die polisie probeer om ‘n betoger te arresteer en die skare het vorentoe gestroom, waarop die polisie geen keuse gehad het as om te skiet nie, waartydens 69 mense gedood en 180 beseer is.
Dié gebeure word herdenk, terwyl die Boipatongslagting in 1992 waartydens 46 mense dood is, die Shell-huis aanval op 28 Maart 1994 waartydens die ANC 19 IVP-lede doodgeskiet het, geïgnoreer word, en so ook die Marikana-slagting van 2012 waarin 44 mense dood is, en verlede jaar se gewelddadige betogings waarin 337 mense dood is.
Sharpeville is in 1943 gebou om Topville te vervang, ‘n nabygeleë nedersetting wat oorbevolk was en waar siektes soos longontsteking algemeen voorgekom het. Weens die siekte is daar in 1958 met verskuiwings vanaf Topville na Sharpeville begin, in die belang van die bevolking se gesondheid. Sharpeville het egter hoë werkloosheid- en misdaadsyfers gehad. Baie kinders het by bendes aangesluit en eerder misdaad gepleeg het as om skool te gaan.
Die jaar 1960 het verskeie groot gebeurtenisse opgelewer: Op 21 Maart het die gebeure by Sharpeville plaasgevind. Op 9 April is dr. Verwoerd geskiet tydens sy optrede by die Randse Paasskou. Op 17 Mei het dr. Verwoerd sodanig herstel van die skietvoorval, dat hy sy vrou op haar verjaardag verras het met sy tuiskoms. Op 26 Mei het die grootste politieke saamtrek tot op daardie tydstip in Transvaal plaasgevind by Meyerton, nie te ver van Sharpeville af nie, waar dr. Verwoerd die Republikeinse veldtog met die oog op die referendum later die jaar geopen het. Tydens daardie optrede het hy gewys dat na die skietery op hom, en die Sharpeville gebeure, hy nie bang was vir enige verdere aksie teen hom nie, want hy het aan die voorpunt van ‘n motorstoet van meer as 6 km in ‘n oop motor gery, sonder enige teken van ‘n blouligbende in sig nie.
Hoofstuk 2 van die huidige Suid-Afrikaanse Grondwet (Wet 108 van 1996) bepaal in artikel 9(1) “Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg”, en in artikel 9(3) “Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, … etniese of sosiale herkoms, kleur, … godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.”
Onder byna 28 jaar van ANC-bewind, het dit geblyk dat bogenoemde bepaling nie op die Blankes, en in besonder die Afrikaners, van toepassing is nie, en dat dié geen menseregte blyk te hê nie, en dat die ANC se selfbeeld steeds so swak is dat hy homself deur wetgewing probeer beskerm teen ‘n blanke minderheid wat weier om deur hulle ondergeploeg te word.