Van die Hoofsekretaris se lessenaar:
Sekere dinge verander nooit nie.
Toe die HNP in 1969 gestig is, hy nie in die vervroegde 1970-verkiesing van die tafel gevee kon word nie, en die gooi van vrot tamaties en eiers na die leiers, hulle net meer vasberade gemaak het om met hulle roeping voort te gaan, is die doodswyg-strategie ingespan.
Elke keer as die HNP op radio of televisie sy standpunt wou stel, het dit ‘n hele geveg en lang onderhandelings gekos, en dan ook was ons tydjie maar kort geknip.
Dit gebeur vandag nog. Ons leier, mnr. Andries Breytenbach, se eis aan die ANC-staatshoof, Cyril
Ramaphosa, dat Die Stem uit die saamgeflanste landslied verwyder moet word, was immers nuuswaardig – geen ander party of beweging beywer hulle daarvoor nie, behalwe die HNP. Die HNP is steeds ontuis in hierdie onnatuurlik saamgeflanste eenheidsbedeling. Almal wat tevrede is met Die Stem as deel van die landslied, is dus tevrede met die bedeling en het geen werklike strewe, soos die HNP, om daaruit te kom nie.
Selfs media wat ons vir ‘n lang tyd as goedgesind beleef het, toe dit nog Radio Pretoria was, het nou ook deel geword van die doodswyg-kliek.
Gelukkig ken ons hierdie behandeling al meer as ‘n halfeeu, en ontsenu dit ons nie meer nie. Die HNP het al geleer om sy eie potjie te krap sonder ander se steun of hulp. Daarom laat dié soort optrede ons nie in sak en as nie. Daar is alternatiewe.
Tans is die sosiale media goed vir ons. Die Afrikaner se Facebook-bladsy groei daagliks, en daar is interessante en lewendige besprekings. By die ter perse gaan van hierdie uitgawe was daar al byna 6 500 volgelinge op dié blad. Die wat nog nie daar ingeskakel is nie, tik “Die Afrikaner” in die soekblokkie op u Faceboekblad.
Die webbladsy van die HNP word ook voortdurend opgegradeer. Tik net “www.hnp.org.za” by u soekenjin in. Daar sal u vorige uitgawes van Die Afrikaner vanaf Januarie 2020 kan vind. Daar is ook interessante geskrifte en selfs ‘n paar kort videos.
Die HNP doen ook moeite om by volksbyeenkomste sigbaar te wees, soos die afgelope naweek toe hulle weer ‘n stalletjie by Majuba gehad het. Die reën het egter die “lewe” van die stalletjie effens kortgeknip.
As ‘n slotopmerking wil ek ‘n beroep op elke volksgenoot doen om hulle nie te laat vertel dat daar nie meer plek vir nasionalistiese partye en konserwatisme in Suid-Afrika is nie. Die Volk raak al meer bewus van die noodsaaklikheid daarvan om voort te bestaan. En hoe meer ons in getalle groei, hoe sterker sal ons word. Onthou die gesegde wat wyle mnr. Jaap Marais so dikwels gebruik het: “Om reg te wees, is om ‘n mag te wees”.
Gaan kyk maar na die geskiedenis en besluit dan self wie was (en is) reg!