Selfvoorsiening vir kos al hoe belangriker:

Die oorlog in Oekraïne het weer eens die noodsaaklikheid om selfvoorsienend met voedsel te wees, beklemtoon.

Die sogenaamde globalisme het grense oopgemaak, handel bevorder en die wêreld klein gemaak. Die wêreldwye benadering het posgevat, wat sê:
“Wat ek nie het nie, kry ek by jou.”

Tot daar iewers oorlog uitbreek. Skielik is daar ‘n tekort aan kookolie, want Oekraïne is een van die wêreld se groot verskaffers daarvan. Netso is Rusland, saam met Oekraïne, van die groot koring-voorsieners van die wêreld. Omdat die Weste sanksies teen Rusland instel, het dié land geen keuse as om sy voorrade vir homself te hou en sy eie bevolking eers te voed, voor hy vyandige lande aan die lewe hou.

Les bes het die oorlog ‘n invloed op die brandstofpryse wat maand vir maand rekordhoogtes behaal.

Dan word daar onwillekeurig gedink aan die destydse totstandkoming van Sasol, om Suid-Afrika tot ‘n groot mate te beskerm teen sanksies. As daardie gedagte verder gevoer sou wees, sou die land vandag minder vatbaar gewees het vir die wispelturigheid van internasionale pryse.

Die hoë brandstofpryse maak dit ook onmoontlik vir boere om nou skielik groter aanplantings van koring en sonneblom te maak om die land dus meer selfvoorsienend te maak. Kunsmispryse het net so geweldig gestyg, en boere kan nie meer daarby uitkom nie.

Daar word al lank in landboukringe gewaarsku dat daar ten alle koste verhoed moet word dat voedsel onsekerheid ‘n werklikheid word. Honger massas het al deur die eeue heen wêreldwyd gewys dat dit die teelaarde vir rewolusie is. Een van die eerste voorbeelde was die Franse Rewolusie, toe die arm en verhongerde Franse volk in opstand teen die ryk adel en koningshuis gekom het. Die bekende woorde van die koningin, Marie-Antoinette, sal altyd van toepassing bly: die koningshuis het so verstik in sy eie weelde en oorvloed, dat daar geen begrip was vir die honger massas nie. Toe die volk kla dat hulle geen brood het nie, het Marie-Antoinette doodluiters aan die hand gedoen dat hulle dan koek gegee moet word.

Tog is daar ernstige rooiligte wat begin flikker vir voedselsekerheid in Suid-Afrika. In die volgende vyf tot tien jaar kan die omgewing van landbouprodusente so drasties verander, dat ‘n tekort aan kos ‘n realiteit kan word.

‘n Ondersoek wat gedoen is deur dr. Kandas Cloete by die Universiteit Stellenbosch se Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, het bevind dat een uit elke vyf kommersiële boere beoog om binne die volgende vyf jaar die landboubedryf te verlaat. Wat hierdie syfer nog meer skrikwekkend maak, is dat die meeste van dié boere tussen dertig en vyf en veertig jaar oud is.

Die oorgrote meerderheid van kommersiële boere is reeds oor sestig jaar oud, en as hierdie navorsing werklikheid word, beteken dit dat twintig persent van die jonger boere, wat die oueres moet opvolg, nie meer daar gaan wees nie. Saam met die ouer garde wat aftree of sterf, gaan dit ‘n reuse negatiewe impak hê op kundige en beskikbare kommersiële boere oor tien jaar.

Volgens die ondersoek gaan dit hoofsaaklik oor die onsekere landboubeleid, en die bedreiging dat die politieke koers vir landbou en grondeienaars inhou. Verder is daar die finansiële uitdagings wat eenvoudig te groot geword het. Hierdie jonger garde is jonk genoeg om ‘n ander loopbaan te begin.

Wat interessant is, is dat die ondersoek geen melding maak van sake waaroor boere dikwels moedeloos is nie: die een jaar geen opbrengs as gevolg van droogte, en die volgende jaar geen opbrengs as gevolg van oorstromings en vloede nie. Die Suid-Afrikaanse boer het al oor ‘n paar eeue heen geleer om met die wispelturige weer saam te leef. Hulle het geleer om ‘n opbrengs te kry uit marginale landbougrond. Dit is ook onsekerhede, maar wat tot ‘n groot mate met kundigheid en ervaring bestuur word.

Die politieke omgewing is egter anders. Mense met geen ervaring of kundigheid, wat die politieke besluite neem, maak die beleidsomgewing wispelturig en onbestuurbaar, en dis juis dit wat boere nog meer moedeloos maak as die klimaat. TLU SA pleit al dekades lank dat die beleidsekerheid noodsaaklik is. Dit gebeur nie. Inteendeel. Die fokus bly op ‘n ongedefinieerde transformasie, en die regering staan op die punt om ‘n nuwe landbouplan af te teken wat die beleidsonsekerheid gaan verhoog. TLU SA het aangedui dat hy nie dié plan gaan onderteken nie, omdat dit nie op ekonomiese beginsels gebou is nie.

Dit is alles deel van die groter prentjie. Al hoe meer mense besef dat hulle op kleinskaal ook selfvoorsienend moet word. Tydens die Covid-inperkings, het baie mense weer met ‘n groentetuin begin. Dit sal dalk in die toekoms al hoe meer noodsaaklik word om te verseker dat daar kos op die tafel is: gesonde kos wat self gekweek is en wat bekostigbaar is.