Uit Die Afrikaner van 10 Junie 2022.
Nie die arrestasie van die Guptas of die vervolging van Cyril Ramaphosa vir geldwassery of enige ander klagte, gaan die misdaadprobleem oplos nie.
Binne enkele dae is die nuustoneel deur verskillende gebeure oorheers: die skokkende misdaadstatistiek wat weer eens drasties gestyg het, die strafregtelike klagtes wat gelê is teen die ANC-president, Cyril Ramaphosa oor onverklaarbare miljoene dollars op sy plaas naby Warmbad (die sogenaamde Dollargate), en die nuus dat twee van die berugte staatskapers, die Gupta- broers, in Dubai gearresteer is.
Veral die Gupta-arrestasies het tonge los, en kommentators betwyfel die tydsberekening van die arrestasies, kort op die nuus van Ramaphosa se probleme. In die proses het die skokkende misdaadsyfers op die agtergrond verdwyn.
Die groot probleem waarmee elke landsburger egter te kampe het, is die steeds stygende misdaad. Die jongste amptelike misdaad statistiek van die polisie (wat in elk geval al as monbetroubaar bestempel, is omdat talle polisiestasies mense ontmoedig om klagtes te lê sodat hulle statistiek nie te sleg lyk nie), toon dat nuwe rekord hoogtepunte in die meeste misdaadkategorieë aangeteken is.
Hierdie probleem wat elke vlak van die samelewing raak, is vinnig verdwerg agter Cyril se dollars ‘n die Guptas. Daarmee is die misdaad nie opgelos nie, is geen maatreëls aangekondig om dit te beheer nie, en het Ramaphosa nog nie van Bheki Cele, wat seker die swakste minister van polisie ooit was, ontslae geraak nie, wat beteken landsburgers bly daagliks teikens van dié situasie wat buite beheer is. Onder Cele het die polisie se bedrywighede grootliks tot stilstand gekom met 70% aan alle polisievoertuie wat wag om herstel te word, die vuurwapenregister wat in chaos verkeer ‘n forensiese dienste so pateties geword het, dat skurke vrygelaat word wat agter slot en grendel sou gewees het as die forensiese getuienis voor die hof kon gedien het.
Uit die statistiek wat vrygestel is vir misdaad vanaf 1 Januarie tot 31 Maart vanjaar (‘n tydperk van 90 dae), blyk dit dat alle geweldsmisdaad toegeneem het teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Moord het toegeneem met 22,2%, (van 12 133 tot 13 799), poging tot moord met 24,8% (4 582 tot 5 717) en aanranding met die doel om ernstig te beseer, met 18,1% (36 417 tot 42 992). Dit beteken dat meer as 153 mense daagliks vermoor word! Roof het toegeneem met 13% (9 549 tot 10 787) en roof met verswarende omstandighede met 6,5% (30 768 tot 32 783). Moord op kinders in die ouderdomsgroep 0 tot 17 jaar het met 37,2% toegeneem vanaf 223 tot 306, terwyl moord op vroue skerp gestyg het met ʼn toename van 17,5% (764 tot 898).
Ramaphosa
Intussen ontken Ramaphosa dat hy ooit van enigiemand geld gesteel het. Maar die bewerings van Arthur Fraser is nie hoofsaaklik daarop gemik nie. Hy het klagtes gelê van geldwassery, regsverydeling en ontvoering, en nie van diefstal nie. Dit meld van $4 miljoen in kontant wat op Ramaphosa se plaas weggesteek is in ‘n meubelstuk, en wat tydens ‘n rooftog gebuit is. Fraser meld ook dat die rowers gevang en ontvoer is, en saam met van Ramaphosa se personeel omgekoop is om stil te bly.
Fraser was voormalige hoof van Staatsveiligheid en van Korrektiewe Dienste. Hy het waarskynlik goeie bronne gehad wat hom ingelig het. Sy verklaring van meer as 40 bladsye sal waarskynlik meer feite bevat as versinsels.
Van die vrae is hoekom daar soveel kontant in Cyril se huis was? Waar kom dit vandaan, is dit
enigsins in terme van valuta-regulasies of inkomstebelasting voorskrifte verklaar by die relevante instansies?
Ramaphosa het wel verklaar dat hy nie by geldwassery betrokke was nie. Hy is egter bekend vir die groot bedrae geld wat hy uitgee of ontvang met sy wild se koop- en verkooptransaksies. Sy belang van R84 miljoen in ‘n buffelbul het etlike jare gelede opslae gemaak, en veral die sogenaamde eksotiese wildbedryf is al beskryf as een van die grootste geldwasseryskemas wat die land ooit gesien het. ‘n Paar mense het groot geld daaruit gemaak, maar baie het groot geld daarmee verloor. Ramaphosa was daarmee doenig.
Daar was ook bewerings dat die Namibiese regering sou geweet het wie die rooftog by Ramaphosa se plaas sou uitgevoer het, maar ook Hage Geingob, Namibiese president, het baie vinnig verklaar dat hy niks verkeerd gedoen het nie, en gesê dat geen verdere ondersoek gaan plaasvind nie.
Ramaphosa het waarskynlik meer kontakte in die finansiële wêreld as wat enige van sy voorgangers gehad het, met die gevolg dat hy waarskynlik baie invloed daar het wat hy tot sy voordeel kan manipuleer. Vandaar die versigtigheid van die Reserwebank om enige kommentaar te lewer.
Guptas
Daar word druk bespiegel wanneer die Guptas in Suid-Afrika sal wees en wanneer hulle voor die hof sal verskyn. Dit is egter nie so maklik en so vinnig nie.
Alhoewel die Guptas sterk gekoppel is aan Jacob Zuma, was Ramaphosa die adjunkpresident, en die Guptas kan moontlik selfs inligting het wat hom nie gaan aanstaan nie. Dit is ondenkbaar dat ‘n adjunkpresident, wat dikwels waarneem as president, nie weet waarmee sy direkte hoof besig is nie. Die moontlikheid dat Ramaphosa van baie geweet het, maar eerder besluit het om sy kop weg te draai sodat Zuma hom nie vervang nie, is groot. Dit laat die moontlikheid dat Ramaphosa dalk nie so gretig is om die Guptas in die land terug te verwelkom nie, al is hulle agter tralies.
Intussen het daar ‘n vreemde kink in die kabel gekom. Mediaberigte het gemeld dat die Guptas in die Dubai in hegtenis geneem is na ‘n gesamentlike operasie van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se openbare vervolger, ministerie van justisie en die polisie van Dubai.
‘n Verklaring van die polisie van Dubai, wat teen die finalisering van hierdie publikasie nog nie bo alle twyfel geverifieer kon word nie, lui: “Die Dubaipolisie ontken die bewering oor die arrestasie van Gupta-broers wat deur Suid-Afrikaanse owerhede gesoek word vir aanklagte van kriminele en geldwassery.
“Die Dubai-polisie dra geen van die sirkulerende nuus wat in groot media gedek word oor die arrestasie van Atul en Rajesh Gupta, Suid-Afrikaanse verdagtes wat gesoek word in verband met geldwassery en kriminele aanklagte in Suid-Afrika.
“Dubai-polisie ontken dat ons die genoemde individue in hegtenis geneem het, omdat hulle nie sedert Februarie 2020 in die jurisdiksie van die VAE of Dubai was nie. Die verklaring deur die Ministerie van Justisie, Republiek van Suid-Afrika, is nie akkuraat in die bewering dat ons die arrestasie bevestig het nie.
“Die storie van die beweerde arrestasie is dus ‘fopnuus”.