HNP kla minister aan by MRK

Die voorneme om die Afrikaanse Taalmonument se naam te verander, kom neer op haat-optrede teen die Afrikanervolk.

Só sê die voorsitter van die HNP, mnr. Peet Joubert, in die klagte wat hy by die Menseregtekommissie (MRK) gelê het teen die ANC se minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa.

Mthethwa was vir twee buitensporighede in die nuus: Die een was omdat hy die naam van die Afrikaanse Taalmonument in Paarl wil verander, en omdat hy beplan het om ’n reuse vlagpaal by die sogenaamde Vryheidspark in Pretoria op te rig teen ’n bedrag van R22,5 miljoen rand.

Mnr. Joubert het die klagte namens die HNP by die MRK ingedien, en gemeld dat Mthethwa se optrede nie net gemik is teen die Afrikaner as volk nie, maar ook teen alle Afrikaanssprekendes. “Afrikaans is die tweede grootste taal in Suid-Afrika, en sy optrede maak deel uit van die vertrapping, verkleinering, miskenning en algehele vernietiging van die Afrikaner se taal en herkoms.”

Die monument is reeds in 1975 opgerig as ’n diverse monument wat erkenning gee aan verskillende tale wat regstreeks verband hou met die ontwikkeling van Afrikaans as ’n taal. “Die Afrikaanse Taalmonument is ’n wêreldbekende monument en dat Mthethwa se optrede neerkom op die menseregteskending van die Afrikaner en Afrikaanssprekende burgers. Ons versoek die MRK om teen die minister op te tree en die beplande naamsverandering te keer,” sê mnr. Joubert.

Intussen het die direkteur-generaal van die Departement Kuns en Kultuur probeer om sy minister se bas te red deur te sê dat die minister nie opdrag kan gee dat die monument se naam verander word nie, maar dat die raad van die monument hoogstens gevra kan word om dit te oorweeg om sodoende “inklusiwiteit te bevorder”. Heel duidelik is die ANC se “inklusiwiteit” noodwendig uitsluiting van Afrikaans en die Afrikaner.

Aan die ander kant het Cyril Ramaphosa ingespring en Mthethwa oor die vingers getik oor die
R22,5 miljoen vlagpaal-projek, en Mthethwa het gesê die projek word nou “hersien”. Ramaphosa het by die Black Business Council gesê dat die projek weer op die been gebring kan word as die “ekonomie weer vlieg”. Dit is dus geensins van die baan nie, met geen rede om te juig nie, sê waarnemers.

’n Kenner van die internasionale reg, prof. Hercules Booysen, skryf op sy Facebookblad dat “vir ’n regering wat hoofsaaklik slegs een rassegroep verteenwoordig om ’n ander, en dan ook ’n minderheid-rassegroep se kulturele monumente te vernietig, is in stryd met talle internasionale konvensies waartoe Suid-Afrika ’n party is en ook waartoe die ANC-regering toegetree het. Dit is internasionaal onregmatig. Trouens, dit is ook ’n internasionale misdaad. Die skending van ’n ander etniese groep se kulturele goedere val binne die omskrywing van die Misdaad van Apartheid soos gedefinieer deur die konvensie waartoe die ANC toegetree het. Dit is ook ’n oorlogsmisdaad volgens die konvensies wat die reg in oorlog omskryf en beheer.

“Uiteraard is ’n naamsverandering nie dieselfde as ’n kwaadwillige vernietiging nie. Dit kan egter wel op ’n skending van die Afrikaner se kulturele goedere neerkom. Dit hang ook af wie in beheer van die Afrikaanse Taalmonument is. Wat ’n naamsverandering wel impliseer, is ’n direkte aanval op die Afrikaner se kulturele goedere wat onregmatig is en ook die misdaad van apartheid daarstel…”

Prof. Booysen sê hy glo dat die Afrikaner elke geleentheid moet benut om die ANC-regering, sy meelopers en apologete te stroop van hulle valse kleed van internasionale aanvaarbaarheid en om hulle konstant internasionaal te ontbloot vir wat hulle is. “Om slegs petisies en versoekskrifte op te stel en te rig aan dieselfde persoon of instansie wat in die eerste plek onregmatig optree, is in my oë ’n oefening in futiliteit; soortgelyk as ’n vriendelike versoek aan ’n krimineel om nie meer misdadig te wees nie.”

“Die Afrikaner kan egter die internasionale regsisteem ook beter benut vir hierdie doeleindes: die blootlegging van die ANC-regering se anti-wit- en besonder, anti-Afrikaner-rassisme. / Mens kan slegs internasionaal ageer as jy eers al jou plaaslike regsmiddels uitgeput het. Daarom is dit so noodsaaklik om dadelik en deur middel van die Suid-Afrikaanse howe op te tree om enige skending van die Afrikaner se kulturele erfenis te probeer stop. Selfs al verloor jy in die SA-howe, dit is die poort waardeur jy moet gaan tot die internasionale arena,” skryf prof. Booysen.