Redakteur 2 September 2022
Die ongelyke politieke bevooroordeeldheid van die sogenaamde Gelykheidshof, het weer duidelik geblyk toe daar in die guns van die EFF-leier, Julius Malema beslis is.
Malema is deur Afriforum aangevat oor sy herhaalde sing van “Kill the Boer, kill the Farmer”. Malema se verweer was dat hy dit gedoen het toe hy ANC Jeugleier was, maar sedert hy EFF-leier is, sing hy nou “Kiss the Boer”. Die Gelykheidshof het hierdie snert aanvaar en gesê Afriforum kon nie bewys dat dit op haatspraak neerkom nie, en dat daar geen verbintenis gemaak kan word met plaasmoorde nie.
In sy kommentaar oor die uitspraak, sê die leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach: “Die hofuitspraak oor die ‘Kill the Boer’- slagspreuk toon hoe die regbank misbruik word om die kommuniste se politiek van haat en uitwissing van die Afrikaner van agter die kommunistiese ‘reg’ onbetwisbare gesag te gee. Dit toon hoe uitgelewer ons is in ’n gemeenskaplike staat waar die volksbewuste Afrikaner verreweg ’n getalleminderheid is. Polities is ons enigste teenvoeter om die politieke gesag oor onsself te herwin. Dit moet die kernboodskap in al ons optrede en propaganda wees en dit regverdig ewe sterk slagspreuke en optrede van ons kant.”
Dieselfde “Gelykheids”hof het drie jaar gelede bevind dat die ou landsvlag, beter bekend as die Republiekvlag, “rassisties is, ’n simbool van rassehaat en mense wat dit in die openbaar vertoon, verlang terug na apartheid en die dominansie van wit mense oor swart mense”. Dié saak is deur die Nelson Mandela-stigting (NMS) en die Menseregtekommissie (MRK) gevoer en het ’n aansoek gebring om ’n verklarende bevel te kry oor duidelikheid oor die definisie van haatspraak, soos vervat in art. 10 van die gelykheidswet (die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die voorkoming van Onregmatige Diskriminasie).
Die NMS en MRK is destyds ondersteun deur Johannesburg Pride en die minister en departement van justisie en korrektiewe dienste, wat natuurlik ANC-aanstellings is.
Regter Phineas Mojapelo het in 2019 beslis dat die vertoon van die ou landsvlag haatspraak is. Hy het gelas dat die vlag voortaan net in akademiese, geskiedkundige, kuns- of joernalistieke konteks vertoon mag word.
Op sosiale media het dit gegons oor die uitspraak oor die “Kill the Boer”-lied, terwyl die EFF natuurlik gejubel het. Vrae is gevra wat sou gebeur as daar ’n lied soos “Skiet die K” gesing sou word, of die “gelykheidshof” dit ook “gelyk” sou bevind.
Die politieke onderrok van die “gelykheidshof het nou die soveelste keer uitgehang, aangesien nog geen noemenswaardige uitspraak oor haatspraak en diskriminasie ten gunste van Blankes gemaak is nie.
Dit werp ook bedenkinge op ander howe, aangesien die Johannesburgse Hooggeregshof dikwels sit as Gelykheidshof. Enige moontlike sukses tydens appèl is dus uiters skraal.
Die kwessie oor die Republiekvlag is vroeër vanjaar deur Afriforum na die Appèlhof verwys, maar dié het nog geen uitspraak gelewer nie.