Voordat die bloed behoorlik begin kook oor die saak, net so ‘n staaltjie in ligter luim:
Daar word vertel dat die staatshoof van Lesotho so ‘n ruk gelede in die geheim vir Cyril Ramaphosa besoek het met ‘n hele afvaardiging. Een van die ministers wat hy saamgebring het, was sy Minister van die Vloot. “Waarom het jy ‘n minister van die vloot?” wou Ramaphosa by hom weet, “jy het dan nie eens ‘n see nie…” Waarop die antwoord kom: “‘n Staatshoof dan ‘n minister vir enigiets aanstel, en hulle enige titel gee. Jy het dan skoon ‘n Minister van Polisie…”
As Jan Publiek deesdae die polisie nodig het, is daar meer as vyftig persent kans dat die telefoon nie geantwoord gaan word nie, omdat die nommer verander het of nie meer bestaan nie, omdat lede aan die slaap is, of omdat hulle uit is om ANC politieke vergaderinge op te pas.
Dit blyk uit ‘n paar ondersoeke wat die afgelope tyd gedoen is. Die meer noukeurige syfers, is dat uit ‘n proefneming wat gemaak is by 270 polisiekantore landwyd, 56% nie hulle telefone geantwoord het nie. Dit blyk dat 40% se nommers foutief of buite werking is.
Op sosiale media is daar kort-kort berigte met foto’s as bewyse van polisielede wat in die klagtekantoor sit en slaap, en talle gevalle het al voorgekom waar polisielede self by misdaadsindikate betrokke is, en op heterdaad in hulle uniform betrap word dat hulle met misdaad doenig is, en word dan summier gearresteer en geboei terwyl hulle nog die uniform dra wat sou aandui dat hulle wet en orde handhaaf, maar dit eintlik verbreek het.
Intussen word daar byna jaarliks aan die polisie se begroting gesny, personeel wat bedank of aftree, word nie vervang nie. Ten spyte daarvan is daar wel geld beskikbaar om ANC-geleenthede “te beveilig”. Dit het aan die lig gekom in die parlement tydens ‘n vraesessie, waar die omstrede Minister van Polisie, Bheki Cele, moes erken dat daar vanaf 1 April 2019 R5,7 miljoen bestee is om “veiligheid te verseker” by politieke geleenthede. Van daardie bedrag is R4,6 miljoen bestee by ANC-politieke partytjies, teen ‘n gemiddelde van sowat R275 000 per geleentheid. Die grootste bedrag van R1,5 miljoen is bestee op die ANC se “Mpumalanga-konferensie”, waarskynlik om strydende faksies binne die ANC uitmekaar te hou. Daar is ook R60 000 bestee aan die “beveiliging” van die ANC se um-Khonto weSizwe militêre veterane vereniging se nasionale konferensie. Ander partye soos die DA en EFF is ook teen aansienlike koste “beveilig”, en die vraag ontstaan hoeveel die polisie sal spandeer om die HNP se jaarkongres in November te beveilig, veral nadat die Gelykheidshof onlangs bepaal het dat “Kill the Boer” geen haatspraak is nie, en elke blanke in wese voëlvry verklaar is.
Intussen gaan dit goed met die land se misdadigers. Bheki Cele het in dieselfde tyd die misdaadsyfers vir die Wes-Kaap bekend gemaak, en dit is alles behalwe rooskleurig vir wetsgehoorsame burgers. In die week van 5 tot 11 September is 83 mense vermoor, wat meer as 13 mense per dag is! Daar is ook 32 mense ontvoer in die halfjaar van Maart tot September. Vanaf 1 April tot begin September is 24 polisielede gearresteer vir korrupsie, bedrog, afpersing en dwarsboming van die gereg.
Tydens TLU SA se jaarkongres begin van die maand, het dit duidelik geblyk dat die boere geen vertroue meer in die polisie het nie. Op sommige plekke, veral in Noord-Transvaal, is daar nog wel goeie samewerking met die polisie en boere rakende landelike veiligheid, maar dit neem eerder af as wat dit verbeter, waarskynlik omdat die ouer garde polisielede, wat nog goeie opleiding in die vorige bedeling gehad het, nou aftree en die polisie verlaat. Dit laat ‘n donker prentjie vir die toekoms.
Ironies genoeg is dit hoofsaaklik die blanke belastingbetaler wat betaal vir ‘n diens wat hy nie meer kry nie. Hoe lank hy dit nog gaan verdra, is ‘n ope vraag.
Die Afrikaner 19 September 2022