Die ANC-bewind het dit dalk nie reggekry om die land se grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding, met ander woorde gewettigde diefstal, moontlik te maak nie, maar dit beteken nie dat hy daarmee van sy diefstal planne afgesien het nie. Inteendeel.
Die ou onteieningswet, wat voorsiening maak vir onteiening in openbare belang, soos die bou van paaie of spoorlyne, is in die proses om vervang te word met ’n nuwe wet, wat voorsiening maak dat “onder sekere omstandighede” eiendom (let wel: nie net grond nie) teen ’n “nul-koers” onteien kan word. Die mooi woord “nul-koers” is presies dieselfde as “sonder vergoeding”, dus diefstal.
Die minister van landbou, Thoko Didiza, het sopas haar jaarverslag vir 2021-2022 by die parlement ingedien, en daarin onthul dat daar tans gewerk word aan ’n Wetsontwerp op Grondherverdeling en gepaardgaande grondherverdelingsbeleid. Die vermoede is dat daar ook ’n “nul-koers” klousule in dié nuwe wet ingebou sal word. Dié wetsontwerp word voorberei op grond van aanbevelings van die presidensiële hoëvlakpaneel oor landbou en grondhervorming, wat beteken dat Cyril Ramaphosa ten volle op hoogte hiervan is en selfs ’n aktiewe rol daarin speel.
Daar word ook gewerk aan die stigting van ’n sogenaamde Grondhervorming-en-landbou-ontwikkelingsagentskap. Didiza glo dat grondhervorming noodsaaklik is om die landelike ekonomie te transformeer. Sy het ook gespog met die landbou-en-agro-verwerkingsmeesterplan
(Aamp), wat al vir heelwat omstredenheid in landboukringe gesorg het. Die Aamp het hoofsaaklik tussen die ANC-regering, Agri SA en sekere landboubedryfsorganisasies tot stand gekom, terwyl ander belangrike rolspelers soos TLU SA en Saai nie daarby betrokke wou raak nie, omdat Aamp erg fokus op transformasie, terwyl die definisie en einddoel van transformasie nog nooit bepaal is nie.
Alles wat die ANC-bewind sover getransformeer het, het op ’n kolossale ramp uitgeloop: Eskom, SAL, Denel, Poskantoor, spoorweë, munisipaliteite, staatsdepartemente, en noem maar op! Didiza het in haar jaarverslag erken dat die landbousektor voortgestu het, ondanks die negatiewe impak
van Covid-19, en dat dié sektor selfs werk geskep het. Duidelik doen die huidige kommersiële boere steeds goeie werk om die land van voedsel en vesel te voorsien, en om dié wenresep nou ook te wil “transformeer” op die basis van alle vorige transformasies, gaan ook op ’n ramp uitloop, wat gaan lei tot voedseltekorte en hoë voedselpryse, as daar voedsel beskikbaar gaan wees. invoer gaan geen oplossing wees nie in die lig van die steeds verswakkende rand, en ’n honger bevolking gaan ongetwyfeld lei tot anargie en revolusie.
Al hierdie maatreëls dui op ’n kruipende kommunisme, wat die versiering van demokrasie kry omdat dit deur parlementêre prosesse gaan. Die vraag is hoe ver gaan grondeienaars die regering toelaat om hul eiendom te steel?
Die Afrikaner 14 Oktober 2022