Elke land, volk en gemeenskap kies in hul groei ’n leier wat as voorbeeld vir die bevolking dien. Dit het die meeste van die tyd daartoe gelei dat die leierskap in die hande van ’n koning geplaas is en dan het die koning se nageslag die reg op leierskap behou. Soms was die leierskap so onbevoeg dat ander sterk leiers die mag oorgeneem het. Dit het gewoonlik met geweld of burgeroorlog, gepaard gegaan.

Die Weste het begin wegbeweeg van koningskappe as hul beleidmakers en ekonomiese leiers. Hulle het in sekere gevalle wel koningshuise behou, maar die bevolking het leiers uit die volk gekies om hulle te lei.

Soos ons weet was sommiges suksesvol en ander sommer niks anders as mislukkings nie. As ons in die geskiedenis terugkyk, sal ons name sien van leiers in verskillende wêrelddele wat sulke goeie leiers was dat hul name vandag nog bekend is. Soms het die volk ook half verval en ’n leier verkies wat weens sy swak beheer en swak leiding onthou word.

Die doel van hierdie stuk is om te kyk waar die leiers van ons Boere-Afrikaners gesien kan word, en ons doen dit juis in die maand van die verjaardag van president Paul Kruger, wat ’n uitstekende leier was, en wie se voorbeeld deur latere leiers gevolg is.

Die volksplanter, Jan van Riebeeck, was volgens alle aanduiding ’n goeie leier om die voorsieningspos daar te stel en na sy mense om te sien. Na Van Riebeeck was daar ander leiers deur die VOC aangestel wat as onbevoeg en korrup beskou was.

Met die tweede Britse besetting van die Kaap en hul beleid om die swart volke teen blanke boere en besighede te bevoordeel, het die onrus en ontnugtering onder die Blankes gegroei. Dit het daartoe gelei dat hulle hul goed opgepak het en met ossewaens die binneland inbeweeg het om daar ’n lewe sonder Britse oorheersing te maak.

Die Voortrekkers het nie almal in een groep saam getrek nie. Elke groep wat getrek het, het sy eie leier verkies met sekere ander persone om hom by te staan. Hier kan ons dink aan die Trichardt-groep, die Uys-groep, die Maritz-groep, die Potgieter-groep en ook ander minder bekende groepe.

Verskeie van hierdie groepe het deur baie swaar tye gegaan met Swartes wat hul aangeval en soms ’n groot groep Trekkers uitgemoor het.

Ek gaan nie die geskiedenis in besonderhede probeer behandel nie, want ek glo u ken ons geskiedenis. Vir u kinders moet u egter moeite doen om ons Afrikanergeskiedenis aan hulle oor te dra en Afrikanernasionalisme in hulle aan te wakker en ’n nuwe volkstrots te vestig.

Waarna ek wil verwys is die waarde wat van hierdie groepleiers op die trekkers gehad het. En die wyse van hoe hulle die mense vertroos en moed ingepraat het, was iets wat ons vandag nog moet waardeer en herdenk.

As ons na die moorde op die Trekkers by Wenen en ander plekke kyk, kan ek net beswaard dink dat ons mense vandag so verswak geraak het dat ons in sulke situasies alles sou los en terugvlug na die Kolonie. Maar in ons geskiedenis is ons geseënd om sekere leiers op sekere tye te kry wat die geskiedenis se wending heeltemal in ’n ander rigting gestuur het. Toe Andries Pretorius by die Trekkers in Natal opgedaag het, is hy tot leier verkies. En dadelik het hy die Trekkers se gemoed verbeter. Hy het manne as leiers gekies om sekere take te verrig. Hy het die Trekkers byvoorbeeld beskermingshekke laat maak om wa-laers te beskerm. En daarna het hy ’n groep gekies om Dingaan te gaan straf. By Bloedrivier het 464 manne in sy laer die Zoeloe-impi’s van 10 000 (volgens sommige se telling, terwyl ander dit tot soveel as 30 000 noem) verslaan. Die geveg was so goed dat Dingaan sy stat afgebrand en weggetrek het. Die Trekkers het geen lid aan die dood afgestaan nie. So het Pretorius uitgestyg as een van ons helde.

Met die ontdekking van diamante en goud het die Engelse weer gepoog om beheer oor Suider-Afrika te verkry. Maar onder bevel van Piet Joubert, Nicolaas Smit, JD Weilbach, Frans Joubert en Piet Cronjé, is die Engelse by Majuba verslaan en moes die Engelse vrede sluit.

Maar die Engelse wou met alle mag die rykdom van die Zuid-Afrikaansche Republiek bekom en in1895 het Jameson die Transvaal binnegeval, maar is dadelik verslaan.

President Kruger was die president van die ZAR en het besef dat die Engelse Transvaal steeds sou wou besit. Hy het sy mense daarop bedag gemaak en wapens van Duitsland aangekoop vir die oorlog wat hy voorsien het. In sy gesprekke met die Engelse om oorlog te vermy, het hy gesê, “dit is nie stemreg wat julle wil hê nie, maar ons land.”

Op 11 Oktober 1899 het die oorlog tussen die Transvalers en die Engelse begin. Die Republiek van die Oranje-Vrystaat het besluit om by die Transvalers aan te sluit. Die twee presidente was baie geliefd onder hul mense. President MT Steyn van die Vrystaat het die hele oorlog saam met sy manne in die veld geveg. Hy was wel baie siek aan die einde en kon nie die vredesonderhandelinge bywoon nie. Hy is later tydens die inwyding van die Vrouemonument oorlede. Pres. Paul Kruger was ’n sterk gelowige. Hy het sy besluite versigtig gemaak. Hy was ook ’n sterk leier en baie geliefd onder sy ondersteuners. Sy ondersteuners het gesien dat die Engelse hom sou vang in ’n poging om die oorlog te wen. Die generaals en ander het toe aangedring dat president Kruger na Europa toe gaan en in die proses ook poog om ondersteuning vir die oorlog te kry.

As mens na foto’s kyk toe Kruger se lyk na Suid-Afrika teruggebring is, kan mens sien watse waarde die bevolking aan hom geheg het. Van al die leiers en presidente was daar nie nog so ’n geliefde leier tot met sy dood nie. Kruger was so geliefd in die volk dat sy verjaardag as ’n openbare vakansiedag verklaar is. Al is dit nie meer ’n vakansiedag nie, gedenk Afrikaners steeds sy verjaardag met samekomste en toesprake.

Tydens die Vryheidheidsoorlog het sekere generaals bo ander uitgestyg as besondere leiers. So was genl. CR de Wet en genl. Koos de la Rey besondere manne wat voor in die stryd was. Hulle word vandag nog as helde beskou en word daar nog liedere oor hulle gemaak. Uit sulke leiers is ons heldedom gebore en inspireer hulle dade ons steeds.

Na die vredesluiting het genl. Louis Botha en genl. Jan Smuts as volksleiers na vore getree, maar toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het hul die belofte dat so ’n kans benut sou word om weer ons vryheid terug te kry, verwerp. Hulle het anders besluit en Suid-Afrika aan die kant van die Britte teen Duitsland laat veg. Dit het tot die Rebellie van 1914 onder die bevolking gelei. Hulle het teen hul medevegters tydens die Engelse oorlog opgetree en selfs vir generaal De Wet in die tronk laat opsluit omdat hy teen die ondersteuning van die Engelse was.

Daar was egter ook sekere leiers soos generaal Piet de Wet wat ’n “joiner” geword het en deur die bevolking verstoot is. In die twintigerjare het generaal JBM Hertzog die Afrikanerpolitiek met sy republikeinse ideaal weer ’n eie trotsheid gegee en het hy die verkiesing in 1924 gewen.

Maar die Tweede Wêreldoorlog het die politiek weer beïnvloed en het Smuts weer eerste minister geword. Weer moes die Afrikaners die Engelse gaan steun.

Hierdie politieke rigting was ongewild en het die politiek geswaai en het die Herenigde Nasionale Party (HNP) met dr. DF Malan as eerste minister in 1948 die regering oorgeneem. Onder sy leiding het die Afrikaner-identiteit sterk gegroei. Hy is deur advokaat JG Strijdom opgevolg wat ’n sterk ondersteuner was dat Suid-Afrika ’n republiek moes word. Hy is deur dr. HF Verwoerd opgevolg wat as een van die sterkste politieke leiers van Suid-Afrika beskou kan word. Hy is by die opening van die Randse skou in ’n moord-aanval in die gesig geskiet. Hy het gou herstel en het die Republiek op 31 Mei 1961 uitgeroep. Onder sy leiding het Suid-Afrika gegroei tot die sterkste staat in Afrika.

Maar soos dit baie keer gebeur word goeie dinge vernietig. Dr. Verwoerd is op 6 September 1966 in die parlement vermoor. So het Suid-Afrika sy beste en sterkste politieke leier verloor. Oor die oorsake is al boeke vol geskryf, so ons gaan dit nie hier probeer ontleed nie. Al wat ons kan sê is dat dr. Verwoerd se visie vandag nog leiding aan Afrikaners gee.

Daarna het die politiek onder sogenaamde Afrikanerleiers net verswak en met adv. John Vorster wat oorgeneem het, het hy ook wegbeweeg van dr. Verwoerd se politieke rigting. Vorster het van apartheid begin wegbeweeg en het hy Maori’s in die besoekende All Black rugbyspan toegelaat. Om dit te kon doen moes hy ook hotelle en restaurante oopstel vir alle rasse.

PW Botha het Vorster na die Citizen-skandaal opgevolg en hy het meer toegewings gemaak. Hy is deur FW de Klerk opgevolg wat alles in Suid-Afrika aan ’n terroristebende oorgedra het. Ek sal geen verdere kommentaar oor dié drie lewer nie.

Toe dit duidelik word dat Vorster se beleid afwyk van die Nasionale Party se beleid, is dr. Albert Hertzog, mnre. Jaap Marais, Willie Marais en Louis Stofberg uit die NP gedryf. Hulle het die Herstigte Nasionale Party (HNP) gestig om te keer dat Vorster verder toegewings maak. Maar die media, en veral die televisienuus, se invloed was so goed benut dat die HNP net die oorgee proses vertraag het, maar nie kon stop nie.

Enkele ander groepe is ook gestig, maar het intussen tot niet gegaan en is dit net die HNP en AWB wat nog sedert daardie era bestaan.

Dit wys net dat sekere leiers se invloed so goed en reg is dat al is hulle nie meer daar nie, bestaan hul partye nog met dieselfde beginselbasis. Die HNP is so ’n party en bestaan nog, en met sy goeie leierskap sal die part nog lank bestaan.

H F van der Schyff Die Afrikaner 14 Oktober 2022