“So help my God”

‘n Mens staan voor die besef dat jy rekenskap moet gee aan ‘n volk en aan God. “Daarom kan ek net sê: “So help my God.”

Dit was die eerste woorde wat mnr. Fritz van Graan gesê het nadat hy as nuwe leier van die HNP verkies is.

Hy het ook hulde gebring aan al sy voorgangers, en het gesê dat die enigste pad om te loop is dié van die gelowige Afrikanervolk. Om te bepaal wie die Afrikanervolk is, het hy die kongres in voëlvlug deur die geskiedenis geneem, wat begin het by Jan van Riebeeck wat aan wal stap in die Kaap (Tafelbaai) op 6 April 1652. Die eerste wat hy doen is om te bid tot God Drie-Enig. Daarna begin hy organiseer en beplan en begin werk.

Op 6 April 1654 lê hy ‘n gelofte af waarin hy erkenning aan God gee vir al die seëninge tot dan en stel dit in as ‘n dank- en biddag vir die weldade van God wat nooit deur die nageslag vergeet wagword nie.

Jan en Maria word beskou as die vader van die nasie, wie se vrug van hulle harde werk was meer as net verversingspos: hospitaal, werkswinkel, meule, graanskuur, huise, stalle, groente- en vrugtetuine het tot stand gekom – alles opgebou van niks af!

Die Franse Hugenote het in 1688 tot 1689 in die Kaap gearriveer en bring die reformasie sterk na vore in ons volk.

Duitsers het ook Kaap toe gekom om vry te word. Daar was byna net soveel Duitsers as Franse en ook Hollanders.

Toe die Britte die Kaap beset nadat Holland teen rewolusionêre Frankryk verloor en die Kaap probeer verengels, het die Boere getrek en die binneland begin beset. Dit was ‘n vreedsame uitbreiding en duur byna ‘n eeu.

Hulle begin inheemse stamme teëkom, en dié begin met konfrontasie en strooptogte. Nietemin het die Boere hulle gevestig in Vrystaat en Transvaal.

Die Engelse annekseer die ZAR in 1877. Paul Kruger tree as ‘n politieke leier na vore, en by Paardekraal word ‘n eed afgelê deur die Boere om weer hulle land terug te vat en die Eerste Vryheidsoorlog breek uit in Desember 1880. Dit gebeur dan ook dat hulle hulle land terugvat na oorwinnings by Bronkhorstspruit, Laingsnek, Skuinshoogte en Majuba.

Die Tweede Vryheidsoorlog breek uit omdat die Britte die ZAR bedreig en uitlanders stroom in na ontdekking van goud en diamante. Afrikaners verloor die oorlog maar vestig as ‘n volk met sy eie land en staatsbestel.

Boere-Afrikanervolk ontwikkel tot ‘n moderne samelewing gedurende die 20ste eeu, wat begin met groot ellende en armoede onder Britse Imperialisme. Ten spyte daarvan ontwikkel die Afrikanervolk homself ekonomies deur landbou, mynbou, nywerheid en tegnologie met die hulp van goedgesinde buitelanders.

Suid-Afrika het tegnologies ontwikkel toe leiers met visie soos genl. JBM Hertzog onder andere vir Hendrik van der Bijl, een van die beste ingenieurs in die wêreld, gevra het om terug te keer na SA om industriële ontwikkeling tot stand te bring.

Energie, in besonder elektriese krag, is die hart van enige ekonomie. Daarmee saam infrastruktuur soos kommunikasie, spoorweë, vervaardiging, mynwese, landbou, asook navorsing en tegnologie.

Jan Smuts het as eerste minister vir Hendrik Van der Bijl in 1920 geïnspireer om infrastruktuur vir nywerhede aan die gang te kry. Van der Bijl het goedkoop elektrisiteit as uiters belangrik beskou vir die mynbedryf en staalverwerkingsnywerheid. Goedkoop beskikbare elektrisiteit sou die spoorweë, mynbedryf en vervaardigingsektor sterk ondersteun.

EVKOM kom in die 1920’s tot stand as onafhanklike regspersoon wat tot voordeel van die volk werk (nasionalisme) en nie soos maatskappye vir winsbejag nie.

EVKOM het aanvanklik lenings by die tesourie gekry, maar het in 1934 reeds al die skuld afgelos en na 1948 totaal onafhanklik gefunksioneer.

EVKOM het die betroubaarste en goedkoopste elektrisiteit ter wêreld voorsien in die jare ‘80 en ‘90. Die prestasie om elektrisiteit teen kosprys te voorsien deur EVKOM, later ESKOM, duur voort tot 2000. ESKOM beland na 1998 onder staatsbestuur (Wet 126 van 1998) en die vernietiging begin. Gedurende 2022 wys die openbare debat dat kaderontplooiing die vernietiging bespoedig. Bestuursvlakpersoneel styg van 200 lede in 1995 tot 600 in 2016, terwyl konsultante ook nog aangestel moet word om die werk te doen. Swak ontwerp en konstruksiewerk by Kusile en Medupe, as gevolg van verlies aan kundigheid veroorsaak steeds wanfunksionering. instandhouding en onderhoud by kragstasies is uiters swak. Die totale skuldlas styg tot meer as R400 miljard a.g.v. swak bestuur, swak dienste, boikotte, stakings en sabotasie. Die moontlike regstelling van ESKOM word beraam op meer as R1 200 miljard.

Ander huidige industriële probleme sluit in watertekorte a.g.v. swak instandhouding, swak bestuur en oorbevolking as gevolg van onwettige immigrante.

Spoorweë se kapasiteitsverlies beteken dat hy tans slegs 20% van sy oorspronklike kapasiteit besit.

Landboukostes styg astronomies, so ook belastings.

Politieke probleme wat die land het, sluit in die ANC se onderlinge twis en totale wanbestuur; die EFF se radikale uitsprake en opruiing en belaglike idees; ander partye se nuttelose gevegte binne en buite die parlement wat nie veel beteken nie.

Buite parlementêre optrede is waarskynlik die enigste metode wat potensiaal het, en dit is die taak wat grootliks op die HNP wag vir die toekoms. Ons moet egter moed hou, ons geloof behou en daarmee die toekoms ingaan.

Mnr Fritz van Graan Kongres 2022