TLU SA-president by boereprotes

Met 2 206 boere wat reeds sedert 1990 op hulle plase vermoor is in Suid-Afrika, is daar al meer sterftes as wat soldate gesneuwel het tydens die hele grensoorlog. “Dit beteken ons is in ’n volskaalse oorlog”, het mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA se president, gesê by die massa-protesaksie wat in Roedtan plaasgevind het toe die vermeende moordenaars van mnr. Nico Jansen van Rensburg in die hof aldaar verskyn het.

Etlike honderde boere van wyd en syd het in ’n ooglopende versetaksie by Roedtan in die Noord-Transvaal byeengekom met bakkies, trekkers, stropers, vragmotors en ander voertuie om hulle weerstand teen plaasmoorde te wys. Plakkate soos “Genoeg is genoeg” is vertoon, en dit is duidelik dat die boere op ’n breekpunt is met die plaasmoorde wat net aanhou en selfs weer aan die toeneem is nadat die Gelykheidshof bevind het dat “Kill the Boer” nie haatspraak is nie.

In die week ná die moord op mnr. Van Rensburg het Julius Malema selfs nog verder gegaan en by sy partykongres verder opruiende uitsprake gemaak, soos dat sy volgelinge bereid moet wees om “wit rassiste” te vermoor as dit nodig is. TLU SA en ander organisasies het klagtes teen hom gelê hy die sogenaamde Menseregtekommissie, wat tot dusver nog net die regte van swart mense beskerm het terwyl klagtes van Blankes van die hand gewys word. Die kans op sukses word daarom betwyfel, maar boere het op Roedtan gewys dat hulle meer as keelvol is.

Dit het net vroeër gereën op die Springbokvlakte, en die boere moes begin ploeg het vir die nuwe seisoen. Tog was hulle so ernstig daaroor dat hulle teensgroot koste die trekkers en implemente uit die lande onttrek het om aan die rollende protesaksie deel te neem.

Terwyl net enkele lede van TLU SA en afgevaardigdes van mnr. Van Rensburg se familie in die hof toegelaat is, het die protesaksie voortgegaan, en het die konvooi voertuie al in die rondte gery, totdat die hof verdaag het waarna almal na die terrein van NTK gegaan het vir die afsluiting. Daar het mnr. Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou-Unie, wat die protesoptog gereël het, die bedankings gedoen het, waarna mnr. Geldenhuys aan die woord gekom het en toe is afgesluit met Skriflesing en gebed.

Mnr. Geldenhuys het gesê sodanige protesoptrede is noodsaaklik. “Dit is ’n bewusmaking sodat die wêreld moet weet wat hier gebeur.” Die voorsitter van TLU SA in die Noordstreek, mnr. Henk van de Graaf, het vroeër in ’n onderhoud met BoerMedia gesê dat so ’n groot protes ook goed is vir die boere se gemoedstoestand. “Ten minste sien die boere nou dat, waar hulle dikwels alleen op verafgeleë plase is, daar nog ander is wat ook so voel. Hulle weet dus hulle is nie alleen nie. Hier het ons gesien dat boere nie saamstaan nie, maar saam werk, saam ry, saam protesteer en saam beweeg,”

Mnr. Geldenhuys sê dat dit tragies is dat op plekke waar kruise ter herdenking van die boere geplant is, van die kruise begin verteer en vergaan. “Ons moet nie net dink aan die nuwe name wat deel is van die plaasmoorde nie, ons moet ook die ou name van dié wat lank terug vermoor is, nie vergeet nie.”

Een van die beskuldigdes, wat volgens ooggetuies die sneller getrek het wat mnr. Van Rensburg se dood veroorsaak het, het in die hof verskyn en duidelik sy sentiment gewys, deurdat hy ’n hemp aangehad het met die woorde “Vote ANC”. Mnr. Geldenhuys het in ’n persoonlike onderhoud met Die Afrikaner gesê dat as ’n boer byvoorbeeld so iets sou doen met ’n TLU SA-hemp aan, die hele organisasie daarby betrek sou word. “Die ANCregering moet dus verantwoordelikheid vat vir hulle ondersteuners se dade, en indien hulle dit nie doen nie, sal dit die vermoede bevestig dat die regering nie omgee vir die lewens van die boere nie.”

Tydens die afsluitingsfunksie het mnr. Geldenhuys gesê dat misdaad in die land buite beheer is. “As ons nie vermoor word nie, word ons bankrot besteel,” het hy gesê. Hy het ook daarop gewys dat die beskuldigde met die ANC-hemp aan, soos die ander, gratis regshulp kry van die staat, wat beteken die regering ondersteun hulle – op belastingbetalers se koste – maar die boere en familie van slagoffers kry geen ondersteuning nie. “As daar taxi-geweld is, word daar ’n taakspan aangestel, en so word taakspanne vir enige ander geweld of protes saamgestel, maar daar word steeds geen taakspan of spesialis -eenheid vir plaasmoorde saamgestel nie,” sê mnr. Geldenhuys.

Verset help

Terwyl die protes buite aangegaan het, het die hof verrigtinge ook interessanthede opgelewer. Eerstens is net ’n beperkte aantal mense in die hof toegelaat, naamlik die familie van die vermoorde mnr. Van Rensburg en lede van TLU SA, wat die familie bygestaan het en die protes georganiseer het. Nie alle familielede het egter kans gesien vir die hof nie, maar daar was ’n verteenwoordiger van die familie, asook die minderjarige wat teenwoordig was en die moord sien gebeur het en toe ook ontvoer is.

Die landdros was ongeveer ’n driekwartier laat voordat sy met haar C-klas Mercedes 320 AMG opgedaag het. Toe was daar ’n kragprobleem wat nie te wyte was aan beurtkrag nie. Die opnamemasjien het ’n probleem gehad, waarop die hof verdaag het sodat die tegnologie herstel kon word. Dit het nie te lank geneem nie.

Die een beskuldigde het sy eie advokaat daar gehad. Dié het die hof meegedeel dat hy hom aan die saak gaan onttrek, waarop die beskuldigde aangedui het dat hy sy eie regshulp sal kry. Sy borgaansoek kon dus nie voortgaan nie.

Die prokureur vir die ander twee het toe aangedui dat beskuldigde nommer 3 (met die “Vote ANC”-hemp, sy aansoek om borgtog wil terugtrek. Toe die landdros vra of dit korrek is, het hy dit ontken en was vasbeslote om wel aansoek te doen vir borg. Die saak moes toe eers afstaan sodat die prokureur behoorlik met hom kon konsulteer.

Toe die saak hervat is, het die staatsaanklaer die getuienis van ’n polisie-sersant geroep, wat onthul het dat beskuldigde 3 met ’n lang lys van vorige veroordelings sit en dat hy daarom aanbeveel dat geen borgtog toegestaan moet word nie. Hy het ook verwys na die boereprotes buite en daarop gesinspeel dat dit vir die beskuldigde nie veilig sal wees om borgtog te kry nie.

Toe oorval beurtkrag die dorp, en is die saak vir twee dae uitgestel en verplaas na Naboomspruit.

Die uitslag van die verrigtinge daar was dat die landdros, me. Ngobeni, borgtog geweier het aan beskuldigde 3, Lesiba Solly Segwale (44), wat die openlike ANC-ondersteuner is. Daar is 9 aanklagte teen hom. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek tot 24 November. Velly Segwale, beskuldigde 2 en broer van nommer 3 (en daarom vermoedelik ook ’n ANC-lid of -ondersteuner) het sy borgaansoek laat vaar en hy en sy broer is gevolglik voorlopig geen verdere gevaar vir die samelewing nie. Malesela Mangena, beskuldigde 1 se borgaansoek is uitgestel tot 4 November.

Die landdros het kennis geneem van die openbare optrede en beswaar tydens die optog teen die toestaan van borg en het ’n rol daarin gespeel dat sy borg aan die een beskuldigde geweier het. Dit wys dat openbare verset beslis werk, wat beteken dat meer sodanige optredes sal moet plaasvind.

Die Afrikaner 28 Oktober 2022