Tydens die pas afgelope HNP-kongres, waaroor breedvoerig in die vorige uitgawe verslag
gedoen is, het mnr. Meinhard Peters sy persoonlike ervarings met mnr. Jaap Marais met die
kongres gedeel, as deel van die herdenking van wyle mnr. Marais se 100ste verjaardag in
November. Ons plaas hiermee mnr. Peters se toespraak.
My opdrag is nie om ‘n formele huldiging te lewer nie; daarvoor het ons ‘n hele reeks amptelike Jaap Marais-lesings oor die jare gehou. Dié versameling is uiters belangrik en waardevol vir navorsers en vir die nageslag. Daarby kom nog die mooi album oor oom Jaap wat Nancy Reinecke saamgestel het; asook Louis van der Schyff se huldigingsbundel oor die HNP, wat die verloop van die party se politieke geskiedenis boekstaaf.
Ek is eintlik gevra om ‘n klompie komiese staaltjies te versamel, maar dit val nou buite my veld. Ek vertel gou die volgende ten koste van myself: Henri van der Cuiel het eens gesê: “Meinhard is net te ernstig.” Iemand anders sal nou wel beter kan doen met al die komiese insidente. Ek vermoed baie mense wat nie oom Jaap by stryddae of dinees of aan huis ontmoet het nie, sal die algehele indruk van hom as die kwaai en vurige spreker op die verhoog onthou, met ander woorde as die diep-ernstige politikus. En dit was hy natuurlik. As mens was oom Jaap egter ‘n baie meelewende, vriendelike en geestige mens, reg met kwinkslae en altyd gereed met ‘n grappie. Hy kon baie gemaklik met mense omgaan, en uitvra na almal se welstand. Selfs in sy toesprake sou hy die erns van ’n toespraak dan en wan onderbreek met ‘n treffende grappie. Maar nogtans, ’n ernstige mens was hy ten diepste. Diegene wat hom van naby geken het, sal almal daarvan kan getuig.
Ek gaan in my praatjie net enkele herinneringe aanraak, meestal uit my persoonlike kontak met hom en uit ervarings deur die jare.
Waar en hoe het ek oom Jaap ontmoet, en wat onthou ek daarvan?
Dit was die jaar 1966. Ek het skool gegaan in Heidelberg van 1961-1965. Dr. HF Verwoerd was ons Lid van die Volksraad. My diensplig het begin in Januarie 1966. Dit was ‘n gebeurtenisvolle jaar. Die algemene verkiesing het plaasgevind op 30 Maart 1966. My broer, Freddie Peters was as student by UP betrokke by die verkiesing in Rissik en het huisvriende geword met mnr. Daan van der Merwe, wat toe die kiesafdeling Rissik ingepalm het vir die NP.
Ek het opleiding ontvang op Youngsfield-basis, naby Wynberg in die Kaap en is gekies as kandidaat-offisier. Die opening van die Parlement in Kaapstad volg in Juliemaand na die verkiesing, en daar het ek erewag gestaan. Op 6 September 1966 was ek offisier van diens, en moes die wagparade waarneem asook die wagte uitplaas. Ek hoor oor die radio om ongeveer 02:20 na 02:30 die noodberig in die offisiersmenasie, dat die eerste minister in die parlement aangeval is. In die teekamer het totale ongeloof geheers.
Na my diensplig verby is, is ek na Pretoria om eksamen te skryf in Frans Spesiaal by UNISA, en gaan tuis by my broer in Kerkstraat. In daardie tyd ontmoet ek vir Daan van der Merwe. In dié tyd besoek senator Barry Goldwater Suid-Afrika, en ons verneem dat ‘n uitgesoekte klompie Afrikaners hom sou ontmoet een aand. Ons wou terstond reël om by te wees. Daan van der Merwe laat weet ons: nee ongelukkig sal dit nie werk nie, maar reël toe dat ons mnr. Jaap Marais sien wat betrokke sou wees by die vergadering met Barry Goldwater. Dié afspraak is gereël op die vierde vloer van die Constantiagebou in Andriesstraat, Pretoria Middestad.
Daar gekom word ek en Freddie ingenooi, en daar begin toe die interessantste gesprek. ‘n Foto van president Paul Kruger pryk teen die muur van die taamlik Spartaanse kantoorruimte vol koerante en boeke. Die gesprek het wyd gegaan oor Goldwater se rol, die konserwatisme en die liberalisme; oom Jaap lees ‘n stuk voor uit ’n toespraak van generaal Douglas MacArthur; daarna gesels ons oor die oorlog in Viëtnam en Korea, en voorstelle word gemaak oor goeie leesstof: Brainwashing; en toe Richard Weaver se boek, Visions of Order, waarvan ek toe ’n nota maak.
Ek was deur hierdie gesprek diep beïndruk. Oom Jaap het ons gevra om kontak te maak met die Dirkie Uys Stigting deur oom Piet Malan.
Hierdie was ‘n gebeurtenis van 56 jaar gelede. Ek was 18 jaar oud, het pas stemgeregtig geword en is skielik diep betrokke by die konserwatiewe vleuel van die Nasionale Party. Dit was iets nuuts en vreemd dat ons nie meer eensgesind was soos onder dr. HF Verwoerd nie.
In my studentejare van 1967 tot 1972 was ek betrokke in die Kiesafdeling Rissik en dien op die afdelingsbestuur. Ek was lid van die Betsie Verwoerdtak van die NP, waarvan prof. PFD Weiss die voorsitter was. Daar was talle gesprekke aan huis van Daan van der Merwe, en spoedig het die hele omstredenheid tussen Verligtes en Verkramptes sy verskyning gemaak met debatte en briewe in die koerante; die vergaderings van die Nasionale Jeugbond en dies meer. Gereeld is besoeke aan oom Jaap in sy kiesafdeling Innesdal afgelê as ek met die fiets oor Meintjieskop na Rietondale ry.
Een aand het ‘n vergadering van die Rapportryers in die Kanseliersgebou van UP plaasgevind, met as spreker mnr. Jaap Marais. Sy hooftema was dat daar in ’n volk altyd ‘n harde binnekern is, ’n minderheid wat leiding gee en die karakter van ’n volk beskerm. Die identiteit van ’n volk is iets konkreet: “soos hierdie glas water”. Dat die stryd van die dag juis daarom gaan: Wie en wat is die harde kern van die Afrikanervolk?
Tydens ‘n vergadering van die Nasionale Jeugbond, is ‘n debat gereël oor die wenslikheid al dan nie om TV ingestel te kry in Suid-Afrika. Dr. Albert Hertzog is verkwalik dat hy dit nie wou toelaat nie, maar in wese was dit natuurlik die hele kabinet se besluit. Maar dr. Hertzog word alleen verkwalik. Ons wen toe die debat met sprekers mnr. Jaap Marais en mnr. Deacon. Daardie stryd is egter in die media en veral die Sondagkoerante, voortgesit.
In Augustus 1968 volg die beroemdgeworde inligtingskonferensie van die Nasionale Party in Pretoria en die Nasionaliste in Pretoria is die moeilikheidmakers.
In dieselfde tyd verskyn ’n artikel uit die pen van oom Jaap in Die Perdeby se buitemuurse uitgawe. Dit is ‘n besonder rigtinggewende artikel. Ek lees en lees en lees hierdie artikel, dra dit oral saam, bespreek met mede-studente en selfs dosente en versprei afdrukke. Oom Jaap kom haal ons ‘n paar keer self in sy swart Volkswagen Carmangia, met die skuins ruggie.
Die mite van die groepie in Pretoria Ek was dus gou bewus daarvan dat daar ‘n groepie konserwatiewes in Pretoria was, maar wie was hulle? En waar was hulle? Ek het hulle nooit as sodanig beleef nie, ook nie bymekaar sien kom nie.
Daar was sommige prominente konserwatiewe lede van die NP; niks vreemds aan hulle nie. Besprekings en woelinge het ons wel van kennis geneem. By die Junior Rapportryerskorps HF Verwoerd het oom Jaap se toespraak opslae gemaak. Dan was daar ook die stryd binne die Partyraad om die voorsitterskap in Pretoria. Oom Jaap sou dit loshande gewen het, maar het onttrek ter wille van die vrede.
Veral rondom The South African Observer; en mnr. SED Brown, was daar woelinge en verdagmakery. Konserwatiewes is gebrandmerk as hulle enigiets met SED Brown te doen gehad het. Ons het by mnr. Jaap Marais kers opgesteek oor die SA Observer en dit ook gekoop. Oom Jaap is verkwalik omdat sy kantoor in dieselfde gebou was as dié van SED Brown, wat op die vierde vloer was. Oom Jaap het hom geensins laat afskrik nie; en het ‘n lang stuk geskryf: “Vanwaar die aanvalle teen die SA Observer?” Dit was maar die Kaapse liberaliste se taktiek.
In 1968, te midde van woelinge verskyn boonop VEG, onder Barry Botha. Die vet was behoorlik in die vuur. Maar geen vergadering van die sogenaamde ondermynende groepie in Pretoria nie! Eers na dr. Hertzog se Calvinistiese toespraak in April 1969, word ek en Freddie een aand gestuur (deur Daan van der Merwe) na ‘n vergadering in Monument Park; waar ek toe ‘n klompie manne te siene kry wie se name dikwels in die koerante verskyn het. Dit was ‘n boekbekendstelling by oom Gert Beetge se huis. Teenwoordig was mnr. Louis Stofberg, oom Piet Malan, Andries Breytenbach en andere. Die kongres van die NP volg ’n rukkie later in 1969.
Die sitkamer van oom Jaap word ’n besige plek wat baie besoekers ontvang, veral oor naweke. Ons ry oor en weer vanaf Kerkstraat. Luister en leer van die politiek.
Na die skeuring was ons daar een Saterdagaand. Daar was baie mense, waaronder Danie Goosen, Pieter Grobler, oom Hannes Venter en andere van Innesdal. Oproepe stroom in van takke wat bedank en steun van oral. Oom Jaap trek aan die punte van sy onderbaadjie: “Dit lyk my as ons nie vinnig beweeg nie, sal die volk self beweeg…!!”
Een aand in 1968 gaan koop ons Sondagkoerante vir oom Jaap, laataand wanneer dit reeds in sekere kafees verskyn sodat hy voorbereid is om die media die volgende dag te woord te staan. Op daardie stadium het hy al vir ons gesê: “Daar kan ‘n skeuring kom; en moontlik selfs ’n nuwe party.” Ek het dit stil gehou; regdeur tot vandag.
Wat onthou ek nog? Klein dingetjies, soos oom Jaap se liefde vir musiek. Een aand oor Desembermaand haal oom Jaap ou 78 rpm plate uit en speel Jussi Bjoerling, Caruso en so aan. Maar dan ook van Chris Blignaut. Hy het sy stem baie hoog aangeslaan. “O die donkie!” Wat minder bekend was, was dat oom Jaap nie ‘n hoë dunk van die dreunende pyporrels gehad nie. Tannie Marie het musiek studeer en sanglesse geneem, terwyl sy dogter, Marjorie, later pryse losgeslaan het met haar sang.
Oom Jaap was altyd gesteld gewees op wat ons sing. Dit is aan hom te danke dat die HNP die vierdie vers van Die Stem begin sing het en hy het dan ook dikwels die vierde vers aangehaal in sy toesprake.
Van Soelenlaan en
die eerste jare van die HNP
’n Hele paar van ons jonger manne van my ouderdom het soms die motor bestuur vir oom Jaap na vergaderings; heinde en verre deur die Transvaal en die Vrystaat. Soms klein vergaderings soms groot.
Gedurende 1970 se verkiesing is oom Jaap verbied om op die kampus van die UP te vergader. Onder die vaandel van die Vierkleurkorps is vergadering gehou onder die dennebome in Roperweg en Lynnwood. Ek, Frikkie Strauss en Fanie van der Westhuizen het dit gereël. Op een plek het oom Jaap selfs van ’n bakkie af gepraat.
Die Boksburg-stryddag na die verkiesing, waar net sowat 14 mense opdaag, maar die vergadering gaan voort.
Naby Ermelo word daar klippe in die pad gerol. Dit slaan die Volvo se uitlaatpyp vol gate. Een aand vanaf Nelspruit was los bande in die pad geplaas.
Op pad na die Beplanningskomitee een aand bestuur ek sy Volvo. Die motor stol skielik en daar is net niks. Ek vroetel onder die kap in die donker, kry ‘n los draadjie en steek dit terug… Daar gaan ons weer!
Oom Jaap was ingesteld op bewaring en het ‘n groot rol gespeel in die bewaring van die Fonteinedal se inheemse bome, wat amper afgekap is vir ‘n beplande ontwikkeling.
Daar was in daardie tyd stormagtige vergaderings soos in die Sonnestraal Skoolsaal op 4 Oktober 1969. Die saal was gepak en raserig. Die saal was so vol dat mense op die grond moes sit tot teenaan die verhoog. ‘n Joernalis van Die Transvaler, Sakkie van der Merwe, skryf die volgende dag daar was “talle leë sitplekke in die saal”. Later kry ons ’n foto waar Sakkie van der Merwe self op die vloer moes sit in dié vergadering. Hy kon self nie ’n leë stoel kry nie.
Die aand toe die Nasionale Aksiekomitee genomineer was om ‘n Volkskongres te hou op 25 Oktober 1969, was daar ‘n groot skare buite die stadsaal van Pretoria-Noord. Daar was debatte buite, en kort toesprake is gelewer. In een stadium is oom Jaap self na buite en het gepraat van ’n tafeltjie af. ‘n Man probeer toe self op die tafel klim om oom Jaap daar af te kry, maar op dié man se balanspunt gee oom Jaap hom net so ‘n ligte drukkie op die skouer, en hy tuimel reg agteroor op die grond. Dit was ’n praktiese les in fisika (vir ons ingenieursstudente).
Elkeen het spesiale ervarings gehad by sulke vergaderings. Elkeen het sy eie Jaap Marais geken, het ek later besef. Tydens ‘n vergadering in Vereeniging het Oom Jaap volhard teen die kwaaiste teenstaanders, eiergooiers en die raasbekke, wat uiteindelik kopgegee het. Eers na nege uur die aand kon die toespraak goed voortgaan.
Spesiale Eienskappe
Oom Jaap het ‘n goeie oog gehad vir kuns, oudhede, meubels en waardevolle boeke. Ek loop eendag by ‘n galery in Noordvaal-deurloop verby waar ‘n hele aantal werke van die beeldhouer, Jo Roos, vertoon is. Ek sien onder andere ‘n marmerbeeld van Totius; en die borsbeeld uit hardekoolhout, van adv. JG Strijdom. Ek vertel oom Jaap so terloops daarvan. Toe ek weer sien is dit aangekoop; en dit het ‘n belangrike merker by ons HNPhoofkantoor geword al die jare. Wat ’n inspirasie was dit nie om dit telkens te aanskou. Soos ek verstaan het oom Gert Beetge dit gekoop en aan die party geskenk.
Oom Jaap was baie geïnteresseerd gewees in handskrif: hy het voorbeelde daarvan versamel. Hy het onder andere Louis Botha se swierige handtekening op ‘n dokument besit. In 1973 sien ek een van John Keats se manuskripte in die Britse museum in Londen. [British Library] Ek het later in SA vir hom ‘n gedrukte kopie aangekoop van so ’n manuskrip. Daar was baie boekstories tussen ons, en oor skrywers is net so baie gesels. Aan huis was daar dikwels besoeke van SED Brown, Ivor Benson. Anthony Jacob (skrywer van White Man, Think Again) redakteurs van oorsese tydskrifte soos The Scorpion.
Oom Jaap het ‘n wonderbaarlike geheue gehad. Ons trek na Emily Hobhouse-straat in Pretoria Noord. Een van my Ierse Terriër honde ontsnap en hy is weg. Ek vertel oom Jaap daarvan. Net mooi ‘n jaar later ry ons een aand terug van die Beplanningskomitee. Sal oom Jaap my nie vra: Het jy toe ooit die hond teruggekry?”
Hy het absoluut alles gelees in die koerante. Hy het byna al die koerante gelees, en beslis die Sondagkoerante is van hoek tot kant gelees, gewoonlik al Saterdagnag. Hy het ook die rubrieke oor perderesies gelees, sy broer se perde gevolg en ek het saam met hom sy broer, oom Joppie, op sy plaas in Wes-Transvaal besoek. Oom Jaap kon ‘n hele ingeligte gesprek met hom voer oor die prestasie van sy perde.
Oom Jaap kon uit die mou uit formele verklarings maak teenoor joernaliste, soms direk oor die telefoon. Na vergaderings word hy voorgekeer en vrae gevra. Dan staan ek verstom hoe hy in enkele sinne ‘n standpunt kort en presies kon formuleer sodat die joernalis dit maklik kon onthou en neerskryf.
Piet Cillié praat op ‘n keer van “’n Man in Pretoria met ’n geheue wat hy gebruik het soos ’n gifpylkoker.” Daarmee het hy op oom Jaap geskimp.
Oom Jaap was ‘n waarnemer van die natuurlewe. Dit is algemeen bekend dat hy geboer het met Kanaries en budgies. Ek was saam met hom by die vergadering van die telersklub in Pretoria, waar hy met groot respek ontvang is. Hy het ook met honde geteel, en was ‘n kenner van honderasse. Een Saterdagoggend vroeg, dit was bewolk met sterk wind, vertel hy my van ’n duif wat hy gesien het, hoe hy met krag wegvlieg teen die wind in. Hy gebruik dit as ’n metafoor vir ons belewenis van stryd: jy moet jou kragtig inspan, om teen die weerstand in te werk. Dit herinner my aan sy bekende woorde: “Om te handhaaf verg net soveel energie, net soveel vindingrykheid en inspanning as om iets nuuts tot stand te bring”.
Ek het ook talle ervarings saam met hom gehad, buite om die HNP en met besoekers: Hy het toesprake by die SA Stigting se plek in Johannesburg gehou; besoeke van Alain de Benoist by Ché Daniel; met adv. Ben Pieters by; twee vurige nasionaliste uit Italië in oom Gert Beetge se kantore in Sentraalstraat- baie indrukwekkende mense; David Irving se toesprake by UP en UNISA; besprekings met die Mynwerkersunie en die opvolger van Arrie Paulus rondom 1978/79 (wat my die vraag laat vra het of jy werklik in krisistye kan reken op ‘n vakbond om by beginsels te staan?); vergadering met senior bestuurders van die SA Spoorweë in 1991, waar oom Jaap hulle gewaarsku het “SA kan ‘n Swart regering hê, binne drie of vier jaar”; onderhandelinge met die KP in die KP-kantoor, ongeveer 1986/87 – ‘n baie vriendelike en gemoedelike vergadering, maar die KP laat dit weer tot niks kom nie; ek het saam met oom Jaap die begrafnis van dr. Andries Treurnicht bygewoon.
Jonk en oud kon met hom vereenselwig, en oom Jaap het ‘n besondere slag gehad om met jong mense om te gaan. Dit was dikwels baie indrukwekkend om dit te kon sien.
Besoekers van oorsee het voortdurend by hom aan huis gekom: Britte, Vlaminge, Duitsers. Veral vanaf 1980 se koers toe die HNP sterk steun getrek het by die stembus.
Oom Jaap se stamina
Hy kon tot baie laat werk, skryf vir Die Afrikaner stukke tot laat in die nag, al kom hy van vergaderings af en dan skryf hy nog ‘n uur of twee. Tog was hy liggaamlik kwesbaar. Een aand was daar ’n konferensie in die sysaal van die Pretoriase stadsaal. Oom Jaap word bleek en gaan sit. Ek en Kobus van Tonder dra oom Jaap na my motor en neem hom terug huis toe, en help hom die trappe op. Hy het gou weer goed bygekom. “Lae bloeddruk”, en die verpleegster wat ingeroep is, se waarneming was: “Hy sal nog lank lewe”.
Indrukwekkende geloof en volharding,
veral in tye van krisis
Ons het landwyd swak gevaar in die algemene verkiesing van 1977. Wye moedeloosheid het in die party posgevat, selfs in die hoofkantoor. Ek het pas voltyds begin werk saam met Beaumont Schoeman in Januarie 1978, en het die eerste vergadering van die Beplanningskomitee bygewoon. Daar was ‘n voorstel dat ons nie meer Die Afrikaner sal kan uitgee nie, want dit is te duur, en ons kan nie die personeel betaal nie. Oom Jaap het vasgeskop en gesê volstrek nie. Ons mag dalk afskaal of kleiner formaat oorweeg, maar nie staak nie. Ons kan minder bladsye hê, ja, maar ons moet die gehalte van die inhoud verhoog, noukeuriger werk en skryf!
Oom Jaap het lêers vol knipsels bygehou en daaruit gewerk, nie net vir die vergaderings nie maar ook vir gesprekke oor die telefoon en vir sy skryfwerk. Dit is gebruik by die opstel van pamflette tydens verkiesings. “Waar’s jou bewyse?” is dikwels geskreeu op vergaderings, en dan wys hy dit.
Sy knipsels het handig te pas gekom wanneer omstrede kwessies opgeduik het. Een knipsel, geel en verweer, was ‘n rubriek uit Die Burger, gedateer 1937, waarin Hebreërs 11 vers 1 behandel word. Dit gaan naamlik oor die aard van geloof. Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
Dit was seker die mooiste eienskap van oom Jaap dat hy nooit moedeloos geraak het nie; dat hy mense altyd moed ingepraat het en vertroue geskep het; vertroue in beginsels en in die waarheid. Daarop kan ’n volk bou, in goeie en in slegte tye. Dit hou steeds vir ons vandag hoop in, in die verwarrende en moeilike tye wat ons beleef.
Mnr Meinhard Peters Die Afrikaner 25 November 2022