Boodskap van die nuutverkose HNP-leier:
Wanneer die einde van die jaar nader kom, is dit tyd vir bestekopname wanneer ons in ‘n toestand van rustigheid kan terugdink en wonder of dinge en gebeure nie anders kon gewees het as toestande en optredes anders was nie.
In die HNP, as die oudste blanke politieke party in die land, is dit nie anders nie, maar die lede van die HNP het reeds jare se geskiedenis om oor na te dink. Daarom sal die HNP ook die gebeure van 2022 goed kan ontleed. Die jaar is weer eens gekenmerk deur grootskaalse bedrog, leuens en misdrywe van die swart ANC-beheerde regering, wat inslag gevind het in die staatsdiens en staatsorganisasies soos Eskom, Prasa, SABC en vele ander.
Hierdie misdrywe, valshede en wanpraktyke het Suid-Afrika net verder in ellende gedompel. Staatskuld het enorme bedrae bereik. Gehalte van dienslewering is die swakste in jare, sodat enige navrae by staatsdepartemente min of niks oplewer nie, of maande neem om positiewe resultate te kry. Wet en orde in die land het in wese reeds totaal verval, gebaseer op die polisie se eie misdaad statistiek, veral wat justisie- en polisie-optrede betref. Finaal gesien kan daar net een uitkoms vir so ‘n bestel wees, naamlik totale ineenstorting.
Die HNP het ‘n paar mylpale bereik, soos om te midde van die moeilike situasie in die land, soos duur brandstof, swak paaie en lang afstande tog goed te kommunikeer d.m.v. die elektroniese media. Die Internet word goed benut vir propaganda op die webblad, asook die verspreiding van Die Afrikaner as mondstuk van die party. Verder is die WhatsApp-toep goed benut om inligting te versprei, kommunikasie in die party te versterk, asook om video’s van veral die geskiedenis en beginsels van die party bekend te maak. Enkele briewe van HNPbestuurslede het ook die pers gehaal. Daar is ook gesprekke met ander regse groepe gevoer, waar nie veel bereik is nie, maar waar tog wel dieselfde sienings gedeel is met die doel om moontlike samewerking in die toekoms te kan skep.
Jaarlikse hoogtepunte vir die HNP is die kranslegging en herdenking by Irene Konsentrasiekamp, asook die HNP-kongres wat begin November plaasgevind het, met rigtinggewende referate en toesprake.
Op die 16de Desember is daar heelwat HNP-sprekers wat by Geloftefeeste optree om die boodskap van die Gelofte aan God Drie-Enig na te kom. Dit bevestig die HNP se trou aan God en die afhanklikheid van die Afrikanervolk aan ons Skepper. Die sprekers en predikers word bekend gemaak in die hierdie uitgawe van Die Afrikaner. Ons het ook geweldige waardering vir die konserwatiewe publikasie Ditsem Nuus by gelofte@ditsem.net, wat ‘n baie volledige lys van Geloftefeeste en -dienste publiseer.
Kersfees is vir ons ‘n hoogtepunt omdat ons die geboorte van ons Verlosser en Koning Jesus Christus herdenk. Hy het gekom om gelowiges vry te maak van die sondeval en die bande van die satan. Deur Christus se lyde, sterwe en opstanding is ons verhouding met God ons Vader weer herstel en kan ons as Christene uitsien na ‘n hoopvolle aardse lewe, al is daar terugslae, maar bo alles na ‘n ewige lewe saam met Christus. Mag u aan die einde van 2022 ‘n vreugdevolle Christusfees beleef, met sterker geloof en meer hoop op die toekoms en alleen vertrou op die lewende en heilige God van hemel en aarde.